Meeste padsterftes oor langnaweek

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Langnaweke bring oudergewoonte grootskaalse slagting op Suid-Afrikaanse paaie en owerhede verwag niks minder hierdie Erfenisdagnaweek nie.

Statistiek van Auto & General-versekeraars toon dat motoriste 25% meer geneig is om tydens die langnaweek naby Erfenisdag in ʼn ongeluk betrokke te wees as enige ander dag van die jaar. Dié ongelukke is ook 40% ernstiger met meer noodlottige beserings.

Die meeste noodlottige ongelukke gebeur oor die algemeen tussen ʼn Vrydag en ʼn Maandag, veral tussen 18:00 en 22:00 op ʼn Vrydag en Saterdag.

Die meeste ongelukke vind plaas in provinsies met gewilde vakansiebestemmings soos KwaZulu-Natal, waar meer as 2 000 padsterftes jaarliks aangeteken word.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se padveiligheidsverslag is Suid-Afrika onder die top‑10‑lande ter wêreld wat die hoogste jaarlikse padsterftes aanteken. Indië teken jaarliks die meeste padsterftes (meer as 150 000) aan.

Suid-Afrika het in 2018 sowat 15 000 padsterftes gerapporteer, waarvan die meeste motoriste en passasiers was (44,9%). Voetgangers tussen die ouderdomme van vyf en 14 jaar het 38,4% van die sterftes uitgemaak.

Owerhede stem saam dat meer as 95% van padongelukke toegeskryf kan word aan motoriste wat twee of meer van die padreëls verontagsaam.

“Oortredings wat die meeste oor langnaweke voorkom, is onder andere hoë spoed, roekelose en nalatige bestuur, dronkbestuur en wanneer bestuurders ander motoriste op ongeleë tye verbysteek,” het Ricardo Coetzee, hoof van motor- en algemene versekering by Auto & General, gesê.

Volgens Arrive Alive is dié oortredings die oorsaak van tussen 70% en 80% van alle ongelukke op Suid-Afrikaanse paaie. Swak remme, gladde bande en gebrekkige motorligte veroorsaak tussen 10% en 15% van alle ongelukke, terwyl pad- en omgewingsfaktore soos swak padoppervlakke en sigbaarheid slegs tussen 5% en 10% van ongelukke veroorsaak.

Deur nie ʼn veiligheidsgordel te dra nie, word insittendes se kanse om ʼn ernstige of noodlottige besering tydens ʼn ongeluk op te doen met byna 50% verhoog.

Beskerm jouself

Auto & General-versekeraars het ʼn paar wenke vir goeie bestuurspraktyke uitgereik wat elke motoris moet volg om veilig by hul bestemming te kom dié Erfenisdagnaweek.

  • Handhaaf ʼn veilige volgafstand van tussen twee tot drie sekondes of die afstand van twee motors.
  • Volgens Arrive Alive is insittendes van ʼn motor drie keer meer geneig om in ʼn ongeluk om te kom indien motoriste teen 130 km/h ry as wanneer hulle ʼn spoed van 100 km/h handhaaf. Die WGO het bevind dat byna 40% van mense se lewens jaarliks op paaie gespaar sal word indien motoriste hul spoed met net 10 km/h verminder.
  • Moenie drink en bestuur nie. Die wettige bloedalkoholvlak vir Suid-Afrikaners is nie meer nie as 0,05 g per 100 ml, wat beteken dat twee drankies binne ʼn uur die meeste motoriste oor die wettige perk sal stoot. Die meeste mense kan ook nog die volgende oggend dié perk oorskry.
  • Vermy enige afleidings in die motor soos om te eet en drink, kinders te organiseer of ʼn selfoon te gebruik.
  • Wees ook op die uitkyk vir swaar vragmotors wat dikwels meer as een baan nodig het om te draai. “Indien jy agter ʼn vragmotor ry en jy kan nie sy spieëltjies sien nie, kan die bestuurder ook nie jou motor sien nie.”
  • Beplan jou roete vooraf om te verseker dat jy vroeg genoeg in die regte baan kom. Dui ook vroegtydig aan indien jy bane wil verwissel en moenie huiwer indien dit veilig is om oor te gaan nie.

“Die meeste van dié wenke is klein goedjies wat maklik toegepas kan word, maar elke wenk kan moontlik jou eie lewe of ʼn geliefde sʼn red,” het Coetzee gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mrs H ·

Die vragmotors kan ook verminder word deur eerder per trein vervoer word…

Jackie ·

As laerskool kind is ons geleer dat wanneer jy n pad as voetganger wil kruis, kyk jy eers regs, dan links en dan weer regs. Jy loop ook altyd aan die kant van die aankomende verkeer. Ongelukkig is die meeste voetgangers swart mense en skoolkinders. Leer hulle hierdie basiese reëls en baie minder sal slagoffers wees.

Nico ·

Ek daag enige verkeersbeampte uit om vir my te verduidelik wat die volg afstand beteken en hoe bepaal jy dit. Vandag se bestuurders weet nie wat volg afstand beteken nie, meeste bestuurders wil in jou kattebak parkeer so naby ry hulle van jou stert af, as die mense nie weet hoe ver die volgafstand is nie dan wil ek weet het jy jou bestuurs lisensie in ‘n gelukspakkie by Checkers gekry. Volg afstand werk so jy moet kan sien waar die motor voor en agter se bande op die teerpad is, nie eers jou verkeersbeamptes of polisie weet dit nie. Die ander is dronk bestuur, spoed onverskullig ry en ongesdissiplineerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.