Meeste plaasmoorde in dié provinsies aangeteken

Marnus Kamfer, Ernst Roets, Andrea Muller en Theo de Jager tydens die mediakonferensie (Foto: Verskaf)

Die meeste plaasmoorde wat verlede jaar gepleeg is, het in KwaZulu-Natal, Gauteng en Vrystaat plaasgevind. Baie van dié aanvalle was uiters wreedaardig en die meeste is op ʼn Maandag of Saterdag gepleeg.

Só het die burgerregteorganisasie AfriForum Woensdag tydens ʼn mediakonferensie gesê toe hy sy jongste verslag oor plaasaanvalle en -moorde bekendgestel het. Dié verslag wys waar, wanneer en hoe die meeste plaasaanvalle in 2020 gebeur het.

AfriForum se navorsing toon dat altesaam 382 plaasaanvalle in 2020 aangemeld is, waarvan 63 plaasmoorde was. Dít in vergelyking met die 511 plaasaanvalle en 45 plaasmoorde in 2019. Daar was dus ʼn beduidende afname in die getal aanvalle wat verlede jaar aangeteken is, terwyl die getal plaasmoorde wat tydens dié aanvalle gepleeg is, toegeneem het. Dít ten spyte van ʼn algehele afname in misdaad verlede jaar.

Volgens Andrea Muller, ’n navorser by AfriForum, kan die afname in aanvalle toegeskryf word aan die algehele landwye afsonderingstydperk, waartydens mense se bewegings beperk is en die polisie meer sigbaar was.

“Die aanvalle was egter nie minder gewelddadig nie. Baie aanvalle was uiters gewelddadig van aard, en slagoffers is gemartel en getraumatiseer,” sê Muller.

Altesaam 43 plaasaanvalle en vier plaasmoorde is reeds vir vanjaar aangemeld.

Die tyd en plek

Aanvallers het op Maandae en Saterdae meer toegeslaan

Die meeste plaasaanvalle het tussen Junie en Augustus plaasgevind. Die meeste plaasmoorde is in die feestyd (Desember) gepleeg. In Januarie verlede jaar is geen plaasmoorde aangemeld nie.

Muller sê die hoë voorkoms van plaasmoorde in KwaZulu-Natal is groot rede tot kommer. Vyftien plaasmoorde is verlede jaar in KwaZulu-Natal gepleeg, vergeleke met ses plaasmoorde wat in 2019 in dié provinsie plaasgevind het. Gauteng volg met 14 moorde gedurende 2020, ʼn toename van vyf plaasmoorde sedert 2019. Altesaam nege plaasmoorde is verlede jaar in die Vrystaat aangeteken.

Volgens AfriForum se navorsing word die meeste moorde op ʼn Maandag en Saterdag gepleeg. Op Woensdae is die minste moorde aangemeld.

“Die rede waarom aanvallers ʼn spesifieke dag kies om aan te val, is onbekend. Dit kan deur verskillende faktore beïnvloed word.”

Plaasaanvalle het meestal tussen hierdie tye plaasgevind

Die meeste moorde word tussen 19:00 en 03:00 gepleeg. “Dit is wanneer die meeste slagoffers die kwesbaarste is. Hulle slaap waarskynlik en word onkant betrap. Aanvallers gebruik dikwels hierdie verrassingselement tot hul voordeel omdat slagoffers onvoorbereid is en min kans het om hulself te verdedig.”

Die slagoffers

Die ouderdomme van die slagoffers

Altesaam 111 plaasaanvalslagoffers is verlede jaar aangemeld. Altesaam 63 mense is vermoor en een verdagte het ook tydens ʼn aanval omgekom. Tweederdes van die slagoffers was die eienaar (of eienares) van die plaas.

Die meerderheid van die slagoffers (63%) is ouer as 50 jaar.

Die aanvallers

Gemiddeld was daar tussen twee en drie aanvallers per aanval, maar in sommige gevalle was tot vyf aanvallers betrokke. Dit is moontlik dat selfs meer aanvallers by sommige aanvalle betrokke kon wees, omdat slagoffers gewoonlik getraumatiseer is en nie altyd besonderhede goed kan onthou nie.

“Dit is ʼn algemene tendens dat sommige aanvallers die huis binnegaan terwyl van hul makkers buite waghou.”

Muller sê dit is veral uitdagend om die aantal aanvallers akkuraat te bepaal in gevalle waar al die slagoffers uitgemoor is.

In een uit elke vyf aanvalle (20%) word slagoffers aan die een of ander vorm van marteling blootgestel. Vorme van marteling sluit in om die slagoffer te brand, slaan of dood te steek.

Die wapens wat tydens aanvalle gebruik word, wissel van vuurwapens en messe tot stomp voorwerpe. Sommige slagoffers word geslaan of doodgeskop.

“Aanvallers gebruik dikwels enige beskikbare voorwerp om hul slagoffers dood te maak.”

Aanvallers gebruik ook huishoudelike artikels om slagoffers vas te bind, soos telefoonlaaiers, skoenveters of enige ander drade of kabels tot hul beskikking.

In ʼn kwart (25%) van die voorvalle is voertuie gesteel. Die aanvallers gebruik die slagoffer se voertuig dikwels om van die toneel te vlug en los dan dié voertuie iewers langs die pad.

Selfone en vuurwapens word ook telkemale gesteel.

In vier van die voorvalle verlede jaar was niks gesteel nie.

Prioriteitsmisdaad

Volgens Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, klassifiseer die regering plaasaanvalle en -moorde steeds nie as prioriteitsmisdaad nie. Dít ondanks die feit dat talle optogte verlede jaar teen plaasaanvalle gehou is juis om bewusmaking te skep.

Bheki Cele, die minister van polisie, het verlede jaar ʼn paar besoeke aan plase afgelê om hierdie gewelddadige aanvalle en moorde te veroordeel, en om sy medelye aan families van die slagoffers te betuig. Pres. Cyril Ramaphosa het ook verlede jaar in ʼn nuusbrief sy kommer oor plaasaanvalle en -moorde uitgespreek. “Daar is egter geen verdere stappe gedoen om hierdie aanvalle te prioritiseer of om toekomstige aanvalle te voorkom nie,” het Roets gesê.

“Ramaphosa en Cele volg ʼn paaibeleid – waar hulle die gemeenskap vir ʼn kort rukkie kalmeer, sonder om prakties ʼn oplossing vir die probleem te vind. Ons sê die gemeenskap moet nie kalmeer en vir hierdie ‘paai-beleid’ val nie. Ons moet eienaarskap neem en iets doen om hierdie probleem vir eens en altyd te bekamp.”

Beveiligingsveldtog

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, het AfriForum se nuwe Beveilig ʼn Plaas-veldtog tydens die konferensie bekendgestel. Die veldtog het ten doel om boere van die nodige opleiding te voorsien om hul veiligheid in eie hande te neem.

“Hoewel boere al hoe meer paraat word, is dit AfriForum se doel om hulle en hul gesinne méér weerbaar teen plaasaanvalle te maak,” sê Kamfer.

Die opleiding fokus op vier kernaspekte: die veiligheidsassessering van plaaswonings, die opleiding van plaasbewoners in basiese noodhulp, wapenopleiding en die verskaffing van ʼn analoë radiostelsel, wat radio-opleiding insluit.

 

Die aantal plaasmoorde maandeliks uiteengesit

Die aantal plaasaanvalle maandeliks uiteengesit


Die aantal plaasmoorde per provinsie uiteengesit

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Help veel die getal aanvalle neem af maar die moorde neem toe nie.

Dup

Plaasaanvalle en verwante sterftes en beserings het nou net deel van SA se misdaad statistiek geword…..Die “mensfaktor” het verlore geraak.

Eden

Dankie Afriforum. Aangesien ons mense oor geen mag meer beskik is, is elkeen aan homself oorgelaat vir beveiliging. Dit gaan uiteraard nie verander nie.

Elize

Hulle kom in die nag!!

Ietsanders

Lewe is deur God gegewe en Hy het ons almal lief…..Hy trek niemand voor nie. Die meeste moorde, wil dit voorkom, is tussen mense wat mekaar ken. Drank en rusies is dikwels aan die orde vd dag. Soms ook omdat meisies laatnag alleen in die donker ronddwaal. Maar die boere, dikwels ou mense, wat niemand enige kwaad gedoen het nie en wat hul werk onder uiterste moeilike omstandighede moet doen, is die slagoffers van onmenslike wreedheid.. As dit nie die weer en droogtes is nie, dan is dit veediefstal en peste. Daar is nie meer baie van hulle oor nie… Lees meer »