Meeste SA’ners blaas 80% van hul salarisse binne vyf dae

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Towfiqu Barbhuiya / Unsplash)

Middelklasinkomsteverbruikers in Suid-Afrika bestee gemiddeld soveel as 80% van hul maandelikse salaris binne die eerste vyf dae, het FNB in ʼn ondersoek bevind.

Die bank sê dit beteken dat dié verbruikers, wat tussen R180 000 en R500 000 per jaar verdien, vir die res van die maand op slegs 20% van hul salaris moet staat maak. 

Verder bestee verbruikers met gesekureerde krediet (wat deur bates soos ʼn huis gesteun word) en ongesekureerde krediet (soos ʼn kredietkaart) gemiddeld 65% van hul inkomste aan dié krediet. Die ondersoek het bevind sowat 30% van mense se maandelikse inkomste word aan gesekureerde en 35% aan ongesekureerde krediet bestee.

Volgens Raj Makanjee, uitvoerende hoof van kleinhandelbankdienste by FNB, is dié patroon een van die aanduidings dat die gemiddelde verbruiker onder finansiële druk verkeer.

“Die neiging dui ook op ’n voortgesette kultuur van verbruik, wat aan verbruikers min ruimte laat om te begin spaar of beleggings vir finansiële onafhanklikheid te maak.”

Makanjee sê die bank het die afgelope tien jaar in verskeie inisiatiewe belê om sy kliënte te help om hul geld beter te bestuur. Dit sluit sy eBucks Rewards- en nav>> Money-program in waarmee die bank al meer as R16 miljard oor die afgelope 20 jaar aan kliënte uitbetaal het.

Senzo Nsibande, uitvoerende hoof van FNB se afdeling vir geldbestuur, sê geldbestuurnutsmiddels soos die gratis nav>> Money-program op die FNB-app het tans twee miljoen aktiewe gebruikers.

“Ons het opgemerk dat kleinhandelkliënte wat dié program gebruik meer geneig is om hul krediet te verbeter, debietorders te eerbiedig en toenemend te spaar.”

Nsibande sê verbruikers kan elke rand verder as sy potensiaal strek deur alle aspekte van hul finansies te evalueer.

“Dit kan hulle dalk in staat stel om kontantbesparings vir noodgevalle te begin opbou en beter te beplan vir lewenslange besluite soos ’n gemaklike aftrede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

Witbaard ·

Dis logies. Al jou rekeninge, aftrekorders, uitgawes word betaal binne 5 dae nadat jy jou inkomste verdien.

Swerwer ·

FNB moet wakker skrik. Vandag gaan oor oorlewing daar is nie geld om te “spaar” vir die regering om eendag op beslag te lê nie. Alles is deesdae aan geld gekoppel. Baie kinders word ontneem om deel te neem aan sport en toere omdat ouers nie die kostes kan bybring nie. Dan is daar die buitensporige huishuur, motorpaaiemente, mediesefonds bydraes. Na skoolse bedrywighede het ook hande uitgeruk.

Jean ·

En ons nuwe petrolprys wat beslis bo R30 die jaar nog gaan wees.

Kiepie ·

As julle nou sê “Blaas” dan verwys julle na dinge soos huis- en motorpaaiemente, mediesefonds, versekering, lewensversekering, skoolfondsrekeninge, munisipale heffings en dies meer. Hierdie goed moet alles in die eerste 5 dae betaal word en vir meeste van ons bly daar nie veel oor na dit nie. In meeste gevalle seker ver minder as 20%.

Charllas ·

Nee ek doen nie, dis skaars in dan vat die skuld plekke dit – daar is nie kans dat ek dit kan blaas nie……..

JohanEtz ·

Sonder langstories.
Vir my dui hierdie persentasie dat jan-publiek weinig vertroue in die toekoms het, dus net vir die korttermyn lewe/beplan….

marius ·

Meeste Suid Afrikaners het nie geld om hul verpligtinge na te kom nie . Dis die waarheid .

Blikkies ·

Alles het net te duur geword. Omtrent my hele salaris gaan die eerste vyf dae deur debiet orders vir goed wat ons moet hê. Ek kry nie ‘n slegte salaris nie, en leef beslis nie in weelde nie, en ek sukkel. Ek haal my hoed af vir mense wat kinders het, regtig. Ek het nie eers kinders nie en ek weet nie hoe hulle dit regkry met alles wat so duur is nog kan bekostig om kinders in skole te hou, klere te koop, kos, medies, vervoer, karre, huise, versekering en aktiwiteite. Regtig, ek het baie respek vir julle, of my salaris is slegter as wat ek dink.

Manie ·

Volgens die berekeninge werk Jan Alleman dus 17 werksdae van die maand aan verpligtinge en net 5 dae vir hom/haarself.

henndrik ·

Ek reken die ontvanger vat al klaar byna 80% van die gewone salaristrekker se inkomste per maand

Manie ·

Gemiddelde persoonlike belasting is seker rondom 25%, + 15% BTW wat op alles betaalbaar is, dus vorder die staat 40% van Jan Alleman se salaris in.

Jean ·

Maar 15% se btw is nie 15% van jou salaris nie. Hangaf hoe baie mens koop ens.

Manie ·

Daar is bloedweinige kommoditeite en dienste wat nie BTW draend is nie.

BRBR ·

Moenie vergeet van die “ander” belasting nie. Dinge wat in ander lande voorsien word as deel van jou belasting. Dinge soos, betroubare elektrisiteit, water wat mens wil drink, paaie ens. wat in stand is, effektiewe onderwys. Hoeveel geld spandeer ons almal ekstra aan hierdie dinge, bo en behalwe die erkende belasting? Ek spandeer aan al hierdie dinge ekstra geld.

VaalDonkie ·

Ek gaan oop kaarte speel want niemand weet wat my regte naam is nie. Ek het R34000 se debietorders wat afgaan die 1ste van elke maand. Dan bly daar weinig oor vir kos en paartie. Dis nou R18500 vir die huis paaiement (Die Kaap is duur), R2500 munisipale rekening, R2000 vir elektrisiteit, en ‘n klomp kleiner goetertjies soos lewensversekering, fiber internet, motorversekering, huisversekering. Dan het ek nog nie eens petrol ingegooig of ge-eet nie. En dis die goedkoopste huis wat ons kon vind wat plek het vir 5 volwassenes en ‘n kind.

Manie ·

My vrou en ek het geen skuld nie, huis is klaar betaal, rygoed is betaal, geen kinders meer in die huis nie en ons verdien redelike goeie salarisse en ons moet mooi werk.

VaalDonkie ·

Ons motors is darem klaar betaal. Ek weet nie waar ons sou R6000/maand ekstra uitkrap vir twee “nuwes” (tweedehands) nie.

Wondermaarnet ·

VaalDonkie ek stem met jou saam. Mense is onder ‘n wanindruk en dink net aan huis, kar, water en krag. Daar is baie ander soos versekering, internet, skoolgelde, petrol, onderhoud aan jou huis, motors wat gediens moet word. Vinnig vinnig verdwyn mens se geld.

May10 ·

Jy is ouers : Klere vir kinders, dagsorg , melk , kos vir skool, skool goed, petrol skool toe en terug, of bussie. Daai is n klein voorbeeld.
Dan het jy diere : Kos vir jou diere, veearts rekeninge, ontwurming, inspuitings ens
Jou huis moet betaal word, of jou huur, Jy moet kos koop, water en ligte betaal. Jy moet brandstof in jou kar gooi, wat vrek duur is. Jy moet jou medies betaal, of medisyne. Jy moet dalk jou WIFI betaal ,want jy kort dit vir werk. Daai is alles klaar baie geld, en dit is nie eers die helfde nie. Hulle verwag almal moet met R350 n maand kan leef.

Amanda ·

Ek weet darem nou nie of “blaas” die regte woord keuse is nie… Jy “blaas” nie jou geld as jy belangrike dinge soos mediese fondse, versekering ens. betaal nie, FNB! En net so terloops, daardie laaste 20% is waarmee mense moet probeer oorleef die res van die maand, met brandstof, en veral kookolie, byvoorbeeld, se pryse wat die hoogte in skiet.

Racheltjie Debeer ·

FNB, dis reg ja, teen die 2de van die maand het ek 0% van my salaris oor, want ek moet ‘n verband, mediese fonds, skoolfonds, versekering, water & ligte, studie lening, lewenspolis en begrafnispolis betaal. Alles NOODSAAKLIKE uitgawes wat onbetaalbaar duur is. Ek het boggerol oor van my salaris nadat al die noodsaaklikhede betaal is, kan nie eers ‘n chappie koop nie. So, ja, die gemiddelde SA’ner “blaas” hul salarisse binne 5 dae.

...M... ·

Jy vat die woorde so uit my mond!
Om te sê mense blaas die geld is regtig nie die regte woorde nie.

Wielspore ·

Ek wonder wat is die doel van ‘n mens se lewe as jy nie jou salaris mag bestee soos dit jou pas. Instansies hou daarvan om mense te klassifiseer en dan stereotipes te skep en uitwys as verkeerd. Solank ek goed vir my gesin sorg volgens morele waardes kan die bank en ekonome gaan doppies blaas, dit is my salaris.

VaalDonkie ·

Ek “blaas” seker so R1500 per maand. So R300 aan drank en R1200 aan braai.

VaalDonkie ·

Dankie. Darem een ou in die hele land wat aan my kant is! Ek braai darem nie net vir myself nie. Daar is 6 monde om te voed in my huis.

E ·

Ek het lus en blaas FNB – dis gek, meeste mense probeer net oorleef en voel ook sleg om hulle huishulpe en tuinwerkers te laat gaan oor hulle hul amper nie kan bekostig nie. Dis ‘n bose kringloop.

Mariana ·

Uit watter bus het die ou geval. Mense in die land is op oorlewing ingestel, geld vir spaar is daar nie. Hy verdien klomp geld terwyl baie ander elke dag moet wonder wat hulle hul kinders gaan gee om te eet. Maklik om te praat van spaar as jy niks het om jou oor te bekommer nie, behalwe jou volgends astronomiese salaristjek nie.

Roebs ·

hahah net 5 dae myne hou nie eers 5 ure nie en dan skuld ek nogsteeds geld nee wat.

Natasha ·

Blaas, nee meneer die lewe is te duur en mene gebruik hulle salarisse in die eerste 5 dae om huur, krag en water en kos te betaal. Die res moet dan verdeel word onder ander skuld, skoolfonds, vervoer ens. Want as daar nie by die werk gekom word nie, kan die mense dit nie weer BLAAS nie.

Rerig!

Cherokee ·

Dan moet daar, met dit wat gespaar kan word, nog aan aftreebeplanning ook gewerk word. Ek het reeds afgetree, maar vorentoe word duurder, en spaar moet steeeds gespaar word. Dit is dan wanneer teen inflasie geveg word.

melaney ·

Dit herinner my aan die brief wat ek baie jare gelede van die destydse Trust Bank ontvang het om te sê dat ek ten minste R100 elke maand in my rekening moet los. My netto salaris was R100. Ek het die bank bestuurder gaan spreek en toe ek die bank verlaat, was al wat ‘n bankklerk maar blekerig in die gesig. My twee vriendinne wat saam met my was het ook spore gemaak. Is maar beter om nie vir almal te vertel hulle mors hulle geld nie.

kolonel ·

Daar is vertel-my advies, en dan is daar wys-my advies. Kom wys vir die mense hoe om ‘n huishouding te hardloop op R500000 en minder per jaar, met _praktiese_ voorbeelde, en dan ook te spaar vir sogenaamde finansiële onafhanklikheid en ‘n “gemaklike” aftrede.

kolonel ·

Rofweg bereken: R500000 per jaar = R42000 pm = R29000 in die bank na belasting. Maak dit R25000 na aftrekkings ook. (Oop vir korreksies hier). Dan is 80% van R25000 dus R20000. Huis paaiement, motor paaiement(e), versekering, medies, sekuriteit, selfone+internet, skoolgeld, geld-beskermer-polisse, ander polisse. Dan leef op die res. Petrol, kos, klere, vermaak, spaar.

Lyk vir my eerder na ‘n kultuur van net-bestaan as _verbruik_.

DieKriek ·

“Blaas” sinspeel op vermors. Nee, dit gaan vir krag, medies, kos en ander noodsaaklikhede. En buitendien weet ek van niemand wat in die laaste 4 jaar verhoging of bevordering gekry het nie.

Samuel ·

Van volgende maand af binne vier dae agv die verwagte petrol prysstygings.

Snuffels123 ·

Dis nou iets om oor te lag. Ek ken nie iemand wat hulle geld kan BLAAS” nie, almal wat ek ken insluitende myself betaal dit wat betaalbaar is vir oorlewing. Eks jammer om te sê maar Fnb is beslis nie die bank waarna toe ek sal gaan vir 1 ñ rekening nie en 2 vir finansieële raad nie. As jy ñ vet salaris verdien werkend by fnb met allerhande voordele en jy leef nie op die broodlyn nie moet jy maar liefs jou ….. opinie vir jouself hou.

annie ·

FNB leef op ‘n ander planeet. Mense sukkel verskriklik. Dorpenaars/stedelinge moet opdok, nie soos diegene in swart woongebiede waar planne bewimpel kan word om die wolf weg te hou nie. Wit werkloosheid, veral jongmense, word ontken in eie geledere. Unies is vir werkers wat bydraes maak en mediese fondse vir die wat hét. Werkloses staan alleen. As 60% babas wat in hospitale gebore word, volgens die minister, van buitelanders is, waar werk hul ouers? Leuens (be)stuur die ekonomie.

Lillian ·

Met die petrolprys wat maandeliks opgaan en jou kruidenierstrollie wat elke keer meer en meer en meer uit jou sak jaag, wat verwag julle? Salarisse word nie aangepas by die verhoogde petrolpryse nie.

Wondermaarnet ·

Ek blaas nie my geld nie. Wanneer my brandstof geld eenkant gesit is, my huis betaal is en ek krag gekoop het, is 90% van my salaris daarmee heen. As ek ook krag en water verniet gekry het, sou ek meer geld gehad het om ander noodsaaklikhede te koop, maar elke maand moet ek oral probeer afknyp om deur die maand te kom.

Waarnemer ·

WOW!!!DIT IS NOU VIR JOU NUUS!!!Hoeveel verdien hierdie om dit te kon uit figure?

kaplyn ·

As jy teen die vyfde van die maand nog ENIGE geld oor het, dan weet jy wragtig nie hoe om met geld te werk nie.

Andrew ·

Deesdae is dit nie meer n bank nie. Dis n AI system met n paar “call centre” persone wat nog sukkel met die oordrag van engels ook. Tot die krediet afdeling is n “automated caller” wat jou dan op die lys sit om met een van daai “call centre” persone te praat. En dan om jou kaart te gaan haal moet jy in n 6uur lange ry sit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.