Meeste SA’ners ná Egipte-ontploffing terug huis toe

Die toerbus ná die ontploffing. (Foto: Twitter)

Drie Suid-Afrikaanse toeriste wat Sondag in ʼn bomontploffing in Egipte beseer is, word steeds daar in die hospitaal behandel.

Altesame 25 ander Suid-Afrikaners het reeds teruggekeer huis toe, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking gesê.

Minstens 16 mense is beseer toe ʼn bom Sondag naby die heining van ʼn museum naby die Giza-piramides afgegaan het. Die ploftoestel wat die toerbus geteiken het, het ook ʼn motor agter die bus beskadig.

Die departement het gesê hy bly in verbinding met alle betrokkenes en die Suid-Afrikaners wat deur die voorval geraak is.

Die minister van internasionale betrekkinge, Lindiwe Sisulu, het die beseerdes spoedige beterskap toegewens. Sy het ook Suid-Afrika se ambassadeur in Egipte, Vusi Mavimbela, opdrag gegee om die Suid-Afrikaners wat in Egipte agterbly alle nodige bystand te gee.

Mavimbela en ander Suid-Afrikaanse amptenare in Egipte is ook in kontak met die Egiptiese owerhede oor die voorval.

Gister se aanval op die pad na die Grand Egyptian Museum, waaraan bouwerk steeds gedoen word, is die tweede aanval op ʼn bus met toeriste in dié gebied. In Desember verlede jaar is drie Viëtnamese en hul plaaslike toergids dood toe ʼn bom langs die pad digby hulle bus ontplof het.

Niemand het nog verantwoordelikheid vir gister se bomaanval aanvaar nie. Militante Islamitiese groepe met bande met die terreurgroepe Islamitiese Staat en Al Kaïda, is egter besig met gevegte in die Sinaï-skiereiland, waar hulle Egiptiese veiligheidsmagte én burgerlikes teiken.

Aanvalle word ook op die vasteland geloods, met Koptiese Christene wat die swaarste getref is nadat hul kerke gebombardeer is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

IS wag net om te hoor of ‘n ander groep nie verantwoordelikheid aanvaar nie, dan sal hulle dit doen.

Danielle

Stop isis ✋

Hendrik van George

Die sekuriteits situasie in die Midde Ooste is nie huidiglik juis toeriste vriendelik nie. Sal maar weg bly vir nou.