Meeste SA’ners sal eers teen einde 2021 entstof kan kry

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, het Sondag gesê meeste Suid-Afrikaners sal eers teen die einde van 2021 ingeënt kan word teen Covid-19.

“Die enigste manier om kudde-immuniteit te verseker is deur inenting,” het hy tydens ʼn perskonferensie gesê. “Ons werk baie hard om al die navorsing en ontwikkeling te volg wat betref die ontwikkeling van die entstof en om die beste pad te volg in die hantering van die pandemie. In hierdie stadium is die uitrol van ʼn entstof baie dringend en ons moet beskikbaarheid van inentings bespoedig.”

Volgens Mkhize bly die personeel, wat in die voorste linies staan, prioriteit en hulle sal eerste ingeënt word teen die virus. Die grootste deel van die land sal egter eers teen die einde van 2021 die entstof kan ontvang.

Hy het gesê kenners is geraadpleeg om strukture op te rig wat betref finansiering en aanskaffing van die entstof en die entstof-strategie geniet onverdeelde aandag.

Volgens hom moet minstens 67% van die bevolking ingeënt word om kudde-immuniteit te verseker. Tydens die eerste fase sal die personeel, in die voorste linies, die entstof ontvang (sowat 1,25 miljoen persone). In die tweede fase sal, onder andere, noodsaaklike werkers en diegene wat met bejaardes werk of self komorbiditeite het (sowat 8 miljoen persone), ingeënt word. Daarna sal die entstof aan die res van die land (minstens ʼn verdere 22,5 miljoen persone) beskikbaar gemaak word.

Mkhize het gesê ʼn deposito deur die regering se Solidarity Fund is reeds aan Covax oorbetaal. “Daar was persone wat skepties was oor die betaling van dié deposito, maar ons het alle tegniese kwessies afgehandel,” het hy gesê.

Mkhize het gesê die Raad van Mediese Skemas nader tans mediese fondse om saam met die regering die nodige finansiering te verseker om entstof vir die land te bekom. Gesprekke word ook gevoer om seker te maak die inentings sal beskikbaar wees op elke mediese fondse se minimum voordeel-opsie.

Volgens hom sal finansiering vir die entstof dus na verwagting deur middel van die regering, mediese fondse en die privaat sektor verseker word.

Hy het bevestig dat gesprekke reeds gevoer is met entstofvervaardigers in China en Rusland en die nasionale departement van gesondheid en die ministeriële raadgewende komitee, onder leiding van prof. Barry Schoub, het sedert verlede jaar reeds gesprekke gehad met voornemende entstofverskaffers, naamlik Pfizer, Astra Zenca, Johnson and Johnson, Moderna en Cipla. Talle van die verskaffers vereis ʼn vertroulikheidsooreenkoms en besonderhede van die ooreenkomste kan dus nie bekendgemaak word voor die ooreenkoms aanvaar is nie.

Klik hier om die verslae van die ministeriële raadgewende komitee oor Covid-19 te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.