Meeste skole kom nie deur leerplan – opname

Altesame 85% van SAOU-lede het aangedui dat leerders tans akademiese agterstande ondervind indien hul vordering met sogenaamde normale skooljare vergelyk word. (Argieffoto: Verskaf)

ʼn Opname van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) onder sy lede wys dat soveel as 66% van skole nie verlede jaar die volledige kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring (KABV) – beter bekend as Caps – kon afhandel nie.

Meer as die helfte van skole (57%) kon in die eerste kwartaal van vanjaar ook nie die Caps-kurrikulum, soos voorgeskryf, dek nie.

Die SAOU het die afgelope twee weke meningsopnames onder sy lede gedoen oor die mate waartoe skole in staat was om die voorgeskrewe leerplan te dek en wat SAOU-lede se standpunt rakende Covid-19-inentings onder opvoeders is.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê dit is ongetwyfeld duidelik dat die Covid-19-inperking en die beperkinge wat dit op skole geplaas het, die vermoë van skole om die leerplan ten volle te dek, in die gedrang gebring het.

Klopper sê die SAOU het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, reeds op 9 Maart gevra vir magtiging dat skole weer mag terugkeer na ʼn normale rooster. ʼn Wisselrooster is in werking gestel om die verspreiding van Covid-19 te probeer verminder.

Donderdag het die SAOU Motshekga weer gevra vir ʼn terugkeer na die normale skoolrooster.

Klopper sê navorsing het geen bewyse gevind dat infeksies in skole deur en tussen leerders plaasvind nie. “Die verslapping van die beperkings op skoolsport en ander buite-kurrikulêre bedrywighede deur die departement is ʼn verdere bewys dat daar geen leerder-tot-leerder-infeksies plaasvind nie.”

Hy sê skole vind dit toenemend moeilik om akademiese standaarde te handhaaf en by die leerplan te hou.

Dié kommer word weerspieël in die terugvoer wat die SAOU van sy lede gekry het.

Altesame 85% van SAOU-lede het aangedui dat leerders tans akademiese agterstande ondervind indien hul vordering met sogenaamde normale skooljare vergelyk word.

Nagenoeg 18% van leerders het in hierdie stadium ʼn agterstand van tussen 41% en 50% wanneer dit met ander skooljare vergelyk word.

AgterstandPersentasie leerders
1 – 10%10%
11 – 20%16%
21 – 30%23%
31 – 40%16%
41 – 50%18%
51 – 60%8%
61 – 70%5%
71 – 80%2%
81 – 90%0%
+91%0%

Die meeste leerders toon ʼn agterstand met tale (54%), terwyl net minder as die helfte van leerders (46%) ook agter is met hul wiskunde.

Agterstand by tale:

  • Lees: 34%
  • Skryf: 34%
  • Praat: 14%
  • Luister: 18%

Wiskunde besorg leerders ook hoofbrekens. Die opname het bevind amper ʼn derde van leerders (29%) het ʼn agterstand met basiese berekeninge, 19% het ʼn agterstand met tafels en nog 29% het ʼn agterstand in wiskundige begrippe.

Die studie het bevind leerders in die grondslagfase (gr. 1 tot gr. 3) ondervind die grootste agterstande (38%), gevolg deur die intermediêre fase (gr. 4 tot gr. 6) waar tot soveel as 31% van leerders agter met die leerplan is. Gr. 10- tot gr. 12-leerders het volgens die studie ʼn agterstand van 9%. Die kleinste agterstande word in die vroeë kinderontwikkelingsfase ondervind.

Gr. 2-leerders het volgens die opname tans ʼn agterstand van 15% – die meeste van alle grade – gevolg deur gr. 4-leerders (13%-agterstand) en gr. 3-leerders (12%).

Klopper sê in die lig van dié syfers moet Motshekga dringend oorweeg om skole so gou moontlik na die gewone rooster te laat terugkeer.

“Die verdere verlies aan onderrigtyd kan nie langer bekostig word nie.”

Covid-19-inentings

Die SAOU is van mening dat onderwysers ʼn hoërisikogroep is en lede is uitgevra oor hul standpunt jeens ʼn entstof teen die virus.

Altesame 87% van SAOU-lede wat aan die opname deelgeneem het, het aangedui dat hulle onderwys as ʼn hoërisiko-beroep sien.

Die meeste respondente (83%) was ook gemaklik daarmee dat diegene ouer as 60 en mense met onderliggende siektetoestande voorkeur kan geniet wanneer dit kom by die verspreiding van die entstof.

Die meerderheid (72%) meen egter dat inenting op ʼn vrywillige grondslag moet wees. Die meeste respondente verkies om die entstof by hul huisdokter te ontvang (59%), gevolg deur ʼn private hospitaal of kliniek (32%), plaaslike klinieke (5%) en staatshospitale (4%).

Die meeste deelnemers aan die opname meen die staat moet vir die entstof opdok (57%), terwyl 40% glo hul mediese fonds moet daarvoor betaal en net 3% meen dit moet op eie onkoste gedoen word.

ʼn Beduidende 97% van respondente aan SAOU se opname wil ʼn keuse hê van die soort entstof wat gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karina ·

Daar is nie meer iets soos “toegewyde onderwysers/esse / skoolhoofde” nie.

Ronel ·

Al 3 my kinders en dan het ek ook nog 3 familielede wat onderwysers is en ek sê jy dat elkeen van hulle toegewyd is. Selfs ook al hulle onderwysers by hulle skole en hul hoofde. Ek dink nie jy moet veralgemeen nie. Ek dink jou stelling geld slegs vir township skole.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.