‘Meeste US-studente wil klasloop’

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Die Universiteit Stellenbosch (US) het gesê die meerderheid studente is ten gunste daarvan om die akademiese jaar sonder sluiting te voltooi, ongeag die feit dat sommige lesings Maandag afgelas en kampusgeboue gesluit moes word weens protesaksie.

Vier betogers is Maandag op die US-kampus ná ʼn skermutseling met die polisie in hegtenis geneem. Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, het gesê 12 studente is ook intussen geskors hangende dissiplinêre optrede teen hulle. Hul skorsings hou verband met aanranding en optrede wat ander studente verhinder het om aan akademiese aktiwiteite deel te neem, onder meer die belemmering van toegang tot die biblioteek, ontwrigting van toetse en lesings en die opskeur van toetsvraestelle.

Tog het ʼn meningsopname getoon dat 93,92% (8 788 studente) die universiteit se inisiatiewe om met die akademiese program voort te gaan, ondersteun, en nie voorsien dat gratis hoër onderwys binnekort ʼn werklikheid sal wees nie. Bykans tweederdes van studente het ook aangedui dat hulle voldoende inligting ontvang het oor die finansiële hulp wat deur die US, die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) en die departement van hoër onderwys en opleiding gebied word.

Volgens Viljoen het die opname “ʼn besonder hoë responskoers van 29,4%” opgelewer.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het gesê hy en die US se studentedekaan, Tonia Overmeyer, het op 17 September ʼn vyf uur lange gespreksessie met studente gehou waar die US se verbintenis tot die voltooiing van die akademiese jaar aan hulle verduidelik is.

“Die US bly terselfdertyd daartoe verbind om finansiële hulp vir arm studente te bied sodat hulle hul graadprogramme kan voltooi,” het De Villiers gesê. “Die universiteit sal alle moontlike bykomende finansieringsopsies ontgin omdat ons nie uit eie hulpbronne gratis hoër onderwys vir al ons studente kan bekostig nie. Ons is ook van plan om die nasionale regering te probeer oortuig om die chroniese onderfinansiering van die hoëronderwyssektor reg te stel.”

Hy het beklemtoon dat die uitslag van die opname egter nie die minderheidstem die swye sal oplê wat al die US se belangegroepe aan die belangrikheid van bekostigbare en toeganklike onderwys vir almal moet herinner nie. “Die US bly verbind tot instaatstellende toegang en bekostigbare gehalte-onderrig. Die huidige golf van ontwrigtende protesaksie op kampus, wat reeds gelei het tot die ontwrigting van akademiese aktiwiteite en aansienlike skade aan geriewe, asook individue fisieke en emosionele skade berokken het, is onaanvaarbaar en het ʼn negatiewe impak op hoëronderwys-geleenthede vir alle studente, ook vir betogers én vir diegene vir wie hulle skynbaar in die bresse tree,” het hy gesê.

Intussen is die US vasbeslote dat akademiese bedrywighede vandag en die res van die week normaalweg sal voortgaan. Viljoen het gesê bykomende maatreëls is vir vandag getref.

“Personeel en studente word versoek om kalm en geduldig te bly, nie op uitlokking te reageer of om protesgroepe teen te gaan nie. Die US-bestuur doen ook ʼn beroep op alle studente om in die belang van hul eie akademiese loopbane te fokus op die komende eindeksamen,” het hy gesê.

Hy het gesê die US-bestuur bly verbind tot gesprekvoering met die studentegemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Otter ·

Ek hoop hierdie tipe berig word ook verkondig op nasionale uitsaainuus.

John ·

Hierdie ‘show’ van universiteitsbesture sonder enige daadwerklike uitkomste is ‘n bewys dat die wurms die appel uitgekalwe het. Nie eers ‘n pit bly oor nie. Al wat hulle nou bekommer is die eise wat heel moontlik teen hulle ingestel gaan word vir die skade gely deurdat egte studente ‘n volle jaar se voordele, uitgawes en inkomste gaan verloor. Hulle speel toneel en dis skandalig! Die stank strek ten hemele van die vrot appels wat le en gis onder die DDT-bespuite ou boorde.

Jean ·

Meeste wil klaskloop, maar hulle kan nie alleen die geveg veg nie, die polisie en universiteit se sekuriteit moet help .. hulle moet bekerm word teen die THUGS .. hoekom word daar vir die minderheid ingegee? Moet regtig sê ek is baie teleurgesteld in die universiteit se leierskap, hulle bestuur wat te slaprug is om studente wat wil studeer te beskerm teen die vandale wat alles wil vernietig. Soos ander hier ook sê, julle was almal vinnig op die ‘band wagon’ met die pers gesig episodes, nou is julle nutteloos, kan geen besluite maak nie, kan geen stappe neem nie, sit terug dat alles en almal se toekoms vernietig word ..

Helene ·

Se maar vir studente ek/ons dink nou so mun van hul dat hul ook maar aan begin va v g jaar daai blikkies kan skud op strate, ek sal nie weer iets gee.

Christine Fleischmann ·

Meeste van ons studente is nie deel van hierdie beweging nie. Al wat ons wil he is ons graad en vrede en niemand se agendas wat by ons keelgatte afgedruk word nie. Ongelukkig het n klein groepie te veel mag en misbruik dit en gaan jy teen dit is jy n rasis of n veraaier. Moenie dink ons opregte studente verwens nie die spul nie. Ons wil graag verniet leer maar ons weet ook dat Jacob Zuma sal eers om verskoning vra en aftree voor dit gebeur.

Maai wat jy saai ·

Die situasie hier gaan net verder versleg. Die Afrikaners met ruggraat het reeds vertrek, of is vir politieke punte deur die nuwe aanstellings uitgewerk. Net Blade se papsakbende het oorgebly. As julle mooi luister na die video’s wat tans die rondte doen, sal julle hoor dat daar oral slegs in Engels gekommunikeer word. Afrikaans het geen toekoms meer daar nie, so waarom julle stres oor die plek!? Kom ons bou ons eie private Afrikaanse Akademia. Hoe gouer, hoe beter.

adri ·

Graag wil ek vra dat alle studente nie veralgemeen moet word en vergelyk moet word met doellose barbare nie. my kind is ook ‘n student wat daar is om haar studies te voltooi nie geboue te plunder en af te brand nie en ander te blameer vir haar probleme nie.

Rina XX ·

As jy gaan kyk is dit andr mense wat niks met die universiteit te doen het nie wat die grootste moles maak, hul gaan toi toi saam , en maak en breek vir ondwrsteuning. Al die dinge wat nou aangaan wat gaan van die land oorbly?????

bekkie ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die minderheid nie onder bedwang gebring kan word nie. Die universiteit stel my teleur. Verwyder hulle eenvoudig, skors hulle. Hoe kry nie-studente toegang tot lokale, dit terwyl my dogter haar moet identifiseer. My dogter studeer daar en ek verwag dat daar gesorg sal word dat sy in vrede klasloop en haar jaar voltooi.

gerda ·

Dit wys jou hoe slapgat die “Bestuur” van die Univ. is. Veral ou Wim. Hy het mos die gemors uitgenooi om hulle griewe te toon. Vandat hy daar begin het het dinge so agteruit begin gaan. Dink bietjie mooi na daaroor. Ek het twee kinders daar en hoop elke dag dat hulle veilig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.