Meeste van ontsnapte misdadigers reeds vas

Argieffoto (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

Die polisie het reeds vyf van die agt gevangenes wat Saterdagaand uit die aanhoudingselle by die Mount Ayliff-polisiestasie in die Oos-Kaap ontsnap het, aangekeer.

Brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê ’n taakspan van die polisie het onmiddellik ná die voorval in Mount Ayliff, Tabankulu en omliggende nedersettings na die ontsnapte misdadigers begin soek.

Hulle het tussen Sondag en Dinsdag vyf in die Ndakeni-, Cweraland- en Mhluzini-nedersetting vasgetrek.

Die agt verdagtes is verhoorafwagtend. Alungile Loni (21) is aanvanklik in hegtenis geneem vir diefstal, Mfundiso Nogwanya (22) vir verkragting, Sipho Mdutyulwa (26) vir huisroof en diefstal, John Themba Ndou (36) vir verkragting, Nathi Mavela (21) vir aanranding, Lizwi Dawedi (21) vir moord, Sipho Ndzelu (21) vir diefstal en Abongile Mphandana (27) vir ʼn vorige ontsnapping.

Ndzelu, Nogwanya, Mpandana, Loni en Mavela is weer vasgetrek.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het die aand ’n klopgeluid in een van die polisieselle gehoor. Hulle het gaan kyk wat aangaan en toe van een van die gevangenes verneem dat daar gevangenes uit hul selle ontsnap het. By ondersoek en inspeksie van die selle het die polisie ontdek dat ysterstawe en vensters van die sel beskadig is en dat altesaam agt gevangenes ontsnap het.

Al agt staan nou ook tereg op die aanklag van die ontsnapping uit wettige aanhouding. Hulle word ook aangekla vir kwaadwillige saakbeskadiging nadat hulle Saterdagaand deure en vensters oopgebreek het en só hul weg uit die tronk gevind het.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris van die Oos-Kaap, sê sy is tevrede met die taakspan se harde werk om die gevangenes so vinnig weer vas te trek. Sy sê sy waardeer ook die ondersteuning en hulp van die gemeenskap om seker te maak die misdadigers word gevang.

Kinana sê lede van die gemeenskap word versoek om nie die drie verdagtes op vrye voet self te probeer aankeer nie, maar om eerder die polisie in kennis te stel as hulle een van hulle identifiseer. Die polisie het gewaarsku dat die gevangenes baie gevaarlik is aangesien hulle ernstige misdrywe gepleeg het.

Enigiemand met meer inligting oor waar die verdagtes hulself kan bevind, kan die polisie se misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.