Meeste Wes-Kaapse damme lekker vol

Die Theewaterskloofdam. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Alle damme in die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel, behalwe die Theewaterskloofdam, is meer as 85% vol, het die departement van water en sanitasie Dinsdag gesê.

Dit het die afgelope paar weke lekker gereën in verskeie dele van die provinsie. Theewaterskloof, die grootste dam in die stelsel, staan op 71,67%, in vergelyking met die 45,22% waarop dit dieselfde tyd verlede jaar gestaan het.

“Ons is in ons skik dat die Clanwilliamdam en die Bulshoekdam aan die Weskus nou albei op 90% staan,” het die provinsiale hoof van water en sanitasie in die provinsie, Rashid Khan, in ʼn verklaring gesê.

Die Olifants/Doorn-opvangsgebied staan op naastenby dieselfde vlak as ʼn jaar gelede – 98,6% – danksy die vinnige herstel van die Clanwilliamdam tydens die vorige seisoen.

Khan het gesê die grootste probleem is die herstel van damvlakke in die Gouritz-opvangsgebied. Hoewel die departement tevrede is met die stand van die Gamkadam, is daar kommer oor ander gebiede in die Gouritzrivier-opvangsgebied.

“Oor die laaste drie jaar was daar min of geen reën in die Klein-Karoo nie. Die vlakke staan op 21,61%, net-net hoër as verlede jaar se 18%.”

Die Gouritzrivier-opvangsgebied ontvang winter- én somerreënval en daar word gehoop dat die somerreënval damvlakke in die streek ʼn hupstoot gaan gee.

Khan het gesê damme is oor die algemeen die afgelope paar jaar voller en deur water te bespaar is watersekerheid in die provinsie aansienlik verbeter. Waterbeperkings geld egter steeds.

“Die departement dank die Skepper vir die broodnodige reën wat ons damme volgemaak het. Spesiale dank ook aan alle verbruikers wat water verantwoordelik gebruik,” het Khan gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JohanR ·

Sal die prys van water wat die hoogte in geskiet het in 2018 nou goedkoper word?

Stebastiaan ·

Is daar fout by MM ek sien geen foto’s by berigte. In die berig begin julle deur te sê die Theewaterskloof dam is meer as 85% vol maar in die volgende paragraaf 71,67%. Nou watter geen is die regte syfer?

Stebastiaan ·

Is daar fout ek kry geen foto’s saam met berigte. Hoe is dit dat die Theewaterskloof twee verskillende persentasies het in dieselfde berig. Watter een is die regte een?

JohanS ·

Sebastiaan, lees mooi (“behalwe die …”). Niks van 2 verskillende persentasies.

Cornelia Steyn ·

Wat kan ons sê? Ek is nie eers daar naby nie en sal seker nooit daar kom nie, maar ek het gebid en gepleit by ons Heer.
Kan net ons Koning dank vir Sy genade en nederig bly. NIKS kan daai water uit die hemel laat val behalwe HY nie!! Soooo bly vir julle almal daar. ????????

Stiks ·

Gaan ry en kyk , die damme is propvol. Skrap waterbeperkings en buitensporige tariewe. Die wat water oordeelkundig gebruik sal dit steeds doen. Tyd dat die sg informele nedersettings dit ook doen!

Ursula ·

Ek persoonlik dink hulle moet n inquest hou en kyk waar die water vandaan kom, is die inquest al gedoen op waarheen die water gegaan het.?

Maar dis goeie nuus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.