Meesterbrein skuldig oor perlemoenstropery

V.l.n.r. Julian Brown, Eugene Victor en Brandon Turner in die hooggeregshof in Port Elizabeth (Foto: Raahil Sain/African News Agency/ANA)

Die meesterbrein van ʼn welvarende perlemoenonderneming, Julian Brown, is Dinsdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth skuldig bevind op aanklag van swendelary en oortreding van die Wet op Marienehulpbronne.

Brown (32), wat nie sy hoërskoolloopbaan voltooi het nie, het tereg gestaan op ʼn reeks aanklagte tussen Januarie 2015 en April 2016. Hy is vrygespreek op aanklagte van dwarsboming van die gereg en geldwassery wat met die aankope van ʼn luukse Ferrari verband hou.

Hy was aan die hoof van die onderneming saam met Eugene “Boesman” Victor en Brandon Turner. Die onderneming het perlemoen gedroog, gesout, verpak, gevries en verwerk vir verkope buite Suid-Afrika.

Die bedrywighede het in Nelson Mandelabaai plaasgevind en ʼn rits rolspelers was betrokke. Die onderneming is bedryf van Forest Hill, Algoa Park, Westering, Sherwood, Kamma Ridge en North End.

Werknemers in die perlemoen bedryf werk op ʼn “moet-weet”-basis, so ʼn duiker sal nie bewus wees van die besonderhede van stoorplek of vervoer nie.

Victor is skuldig bevind op aanklag van swendelary, oortreding van die Wet op Marienehulpbronne, dat hy ʼn valse lisensie vertoon het, vervalsing, bestuur sonder ʼn rybewys en die besit van perlemoen.

Turner is skuldig bevind op aanklag van swendelary en die oortreding van die Wet op Marienehulpbronne.

ʼn Reeks vennote wat betrokke was by die stropery van perlemoen het as staatsgetuies teen Brown getuig.

Regter Mandela Makaula het Dinsdag ʼn 144 bladsy lange uitspraak voorgehou wat ses ure lank geduur het. Hy het gesê dit is duidelik dat die staatsgetuies as ʼn groep gewerk het en hulle is vergoed vir perlemoenstropery.

Makaula het gesê Renier Ellerbeck se getuienis het egter die deurbraak gelewer. Die hof het bevind Ellerbeck het oor die algemeen die bedrywighede oopgevlek. Volgens die hof was Ellerbeck eerlik in sy getuienis en oor ʼn aantal voorvalle waar hy met die gereg gebots het asook sy betrokkenheid in die perlemoenbedryf.

Makaula het bevind daar is geen bewyse dat die getuies saamgespan het om Brown te impliseer nie. Hy het gesê Brown het noue verbintenisse gehad met ander berugte meesterbreine in die perlemoenbedryf.

Brown en Turner se versoek, dat hul borgtog verleng moet word, is afgekeur weens die erns van die aanklagte.

Vonnisverrigtinge hervat Woensdag.

Lees alle vorige berigte oor die PE-perlemoensindikaat op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Diefie ·

Dit lyk my die 3 manne moet klas gaan loop by Eskom en ander staatsdepartemente.

Heksie ·

Ja né, wat in die duisternis gebeur, sal in die lig uitgebring word!

Nita ·

Nou gaan hulle rampokker ondersteuners in die polisie en die regering sorg dat hulle loskom op allerhande tegniese punte.

Paul Roos ·

Dit is ongelukkig waar dat SA word al hoe meer ‘n land waar misdaad, uit ‘n sosiale oogpunt aanvaarbaar word. Mense wat korrupsie pleeg, sien dit nie as ‘n wandaad nie ens.
So is daar mense wat marine hulpbronne stroop en dink dis OK. Die strawwe moet swaarder gemaak word.
So-ook is dit OK om af te brand as jy ongelukkig is. ens.
Kinders in skole moet geleer word dat ‘n minder ernstige wandaad kan eskaleer tot iets soos moord om alles te verberg.

Skroef ·

Ag asse4.enblief! Erns van die aanklagte? Niemand se lewe word bedreig of in gevaar gestel nie.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Jaco,

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit moet egter “Meesterbrein” wees. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

fish ·

sluit hulle lank toe. Hulle is die oorsaak dat ek nie meer in desember kan perlemoen duik nie. vat alles van hulle af weg en verkoop al hulle bates.

Tammy ·

Dis n baie erstige saak, kan erger as moord wees!!!!!! Kyk hoeveel verskillende aanklagte is daar en enige mens met WAARDES sal nie eers daarvan droom om ons bronne te vernietig uit pure “greed ” nie. Hulle is n skande vir die samelewing. Shame kon nie eers skoolloopbaan voltooi nie, het seker al op die skoolbanke gesit en misdaad beplan. Gee hulle n lewenslange vonnis sonder opsie van parool. Ons het genoeg misdadigers buite die tronke, kom ons regstelsel probeer om die land van buite die tronke as na binne toe te suiwer. Dalk kan ons n beter lewe buite he sonder die klomp kriminele. Die eerlike opregte mense speel daagliks wegkruipertjie om weg te kom van al die gemors. Sluit hulle lewenslank toe vir die skade aan ons planeet en aan die mensdom!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Katerina ·

Waarom lewenslank? Baie moordenaars, insluitende plaasmoordenaars kry nie eers lewenslank nie. Moet nou nie hele dam onder die eend uitruk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.