Meester van hooggeregshof in Pta gesluit oor ‘wanbetaling’

Die sluiting van die gebou kan talle regsprosesse tot stilstand laat knars. (Foto: Verskaf)

Pretoriase regslui staal hulle opnuut vir chaos nadat ʼn kennisgewing Dinsdag by die kantoor van die meester van die hooggeregshof opgeplak is wat lui dat die gebou Woensdag om 06:00 gesluit sal word en tot verdere kennisgewing nie toeganklik sal wees nie.

Luidens die kennisgewing word die gebou weens “onbetaalde huurgeld” gesluit.

Daar is oënskynlik ʼn dispuut tussen die verhuurder van die gebou en die departement van justisie. Adj.min. John Jeffery is reeds oor die stand van sake ingelig.

Tiaan Joubert, voorsitter van die Pretoriase Prokureursvereniging (PPV), sê die sluiting gaan die huidige situasie by die kantoor, “wat reeds benard is, net vererger”.

Joubert waarsku dat alles, van regsprosesse tot diegene wat onder kuratele staan (ʼn verpligte, geregtelike voogdyskap deur middel van die bestuur van onbevoegde persone se geldsake), geraak word. Dit sluit byvoorbeeld diegene in wat noodsaaklike mediese uitgawes het, welke uitgawes eers deur die meester goedgekeur moet word.

Benewens administratiewe probleme wat ondervind word, is die hofgeboue in ʼn swak toestand. Daar is geen lugversorging in die landdroshof- of hooggeregshofgebou nie. Nadat die siviele gedeelte van die Pretoriase-landdroshof sowat agt jaar gelede afgebrand het, is dié hof se personeel in tydelike kantore by die strafhof ingedeel, sê Joubert. Hulle is steeds daar.

“Die afgebrande dop staan nog. Daar is na bewering dispute met die kontrakteurs wat die hof moet herstel.”

Joubert sê personeel by dié howe is gewillig om te werk, maar steier weens gebrekkige infrastruktuur wat reeds sedert die 1990’s verwaarloos word.

“Die administrasie van die meester se lêers is swak en daar is geen verantwoording nie. Dit duur tot ses maande om ʼn eksekuteursbrief uit te reik,” sê Joubert. Die probleme is boonop nie beperk tot Pretoria nie, maar word landwyd by kantore van die meester ondervind.

“Die aktekantoor vaar die beste omdat dit goed bestuur word en toelaat dat die Prokureursvereniging hom in krisistye bystaan.”

Die vereniging het in 2020 onder meer ingegryp om ʼn geweldige agterstand by die Pretoriase hooggeregshof uit te wis nadat Covid-19-maatreëls onder meer tot groot probleme daar bygedra het. Hulle het eindelik meer as 4 600 agterstallige dagvaardings uitgereik, meer as 1 700 onbestrede aansoeke verwerk en meer as 1 300 geregtelike sake help bestuur.

Staatsgeboue word onderhou en bestuur deur die departement van openbare werke, maar Joubert sê die skuld vir administratiewe probleme word “soos ʼn bal tussen die departemente gegooi”.

Die stad se aktekantoor is in November verlede jaar ook gesluit nadat die krag na die gebou afgesny is. Die kantoor is een van die besigste aktekantore in die land, maar registrasies en die bestuur en instandhouding van die land se eiendomsregister het tot stilstand geknars ná ʼn betalingsdispuut tussen die departement van openbare werke en infrastruktuur en die Tshwane-metroraad.

  • Die kantoor van die hoofregter het navrae na die departement van justisie verwys. Die departement se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Marius ·

Skreiende skande dat die staat nie sy rekeninge betaal nie, maar hul wil 50 mil vir cuba gee.

piper ·

alles stort inmekaar. die land gaan tot stilstand kom. onherstelbare skade is reeds plaasgevind. maar ramapara gaan rustig voort asof alles in orde is. ek wens ek kon waai maar is te oud en my kapitaal bietjies te min om te waai.

Ratel ·

Onthou Piper, vir die regering is alles in orde en normaal. Dit is die Afrika standaard.

domheks ·

Kan nie huur betaal nie, maar Kuba moet geld kry. SKANDE!!!!

Dup ·

Ha-Ha…..ons “bekwame regering” oortref hulleself elke dag.Geen wonder hierdie land gaan een van die dae in Kimberley se groot gat verdwyn nie!

Kokerboom ·

Lees die President die gemors, chaos en skade wat SY kaders veroorsaak?
Maak dit ENIGE indruk op hom?

Feite ·

Ramaphosa is te besig om sy platform as President te gebruik om business deals te doen om homself en sy naastes nog verder te verryk! Hy gee nie n DUIWEL om nie.

Wondermaarnet ·

CR voel vere. Alles draai om hom en sy familie. Sy nasie kry die swaarste, maar hy slaap rustig en veilig elke nag met ‘n vol maag.

JL ·

Hoekom neem die eisers in die gevalle nie alvorens regsaksie nie. Skuld bly skuld en word net meer hoe langer dit sloer. Indien hierdie ongerymdhede vroeër aan die lig kom sal die benadeling wat dit vir iedereen inhou hooplik minder ontwrigtend wees op die langduur.

Wondermaarnet ·

Ek weet in elk geval nie hoekom mense wag tot skuld die hoogte inskiet voor hulle optree nie. Dieselfde geld vir die munisipaliteite en eskom. As Jan Alleman ‘n kar of huis paaiement oorslaan is die eisers dadelik daar.

Nie Verbaas ·

Net nog n pluimpie van verwoesting in die hoed van Cyril en vennote.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.