Meesterbrein agter beleggingslenter later gevonnis

Patrick Stapleton. (Foto: Facebook/ Patrick Stapleton)

Patrick Stapleton, die meesterbrein agter ʼn bedrieglike beleggingskema wat voornemende beleggers miljoene rand uit die sak gejaag het, sal nou eers later vandeesmaand gevonnis word.

Die 65-jarige Stapleton het vandeesweek vir die soveelste keer in die gespesialiseerde handelshof in Durban verskyn voordat die saak tot 22 Augustus uitgestel is.

Voorvonnisverslae sal dan ingehandig word. Stapleton sal ook moontlik dan gevonnis word, sê Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in KwaZulu-Natal.

Stapleton is in Junie aan bedrog skuldig bevind nadat hy 145 voornemende beleggers uit meer as R11 miljoen bedrieg het. Beleggers is onder die indruk gebring dat hulle geld belê in die ontwikkeling van ʼn eiesoortige mynvoertuig en ʼn verf‑onderneming onderskeidelik.

Die beleggers het gevolglik groot bedrae geld in die Dynamic Group se bankrekening gedeponeer en is reuse‑bedrae in rente-uitbetalings beloof. Dié het egter nooit gerealiseer nie.

Stapleton, sy seun, Luke (42), en sy vrou, Shannon Dicks, is in 2017 in verband met die slenter in hegtenis geneem.

Luke sou later teen sy pa getuig en is in April 2017 aan bedrog skuldig bevind nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Dicks is vrygespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

OW ·

Die mens leer ook nie. Hoeveel van hierdie bedrog het al plaasgevind en die beleggers kry elke keer bloedneus.Doen en eers goed huiswerk en navorsing voor by ‘n enkele persoon belê word.As die opbrengs aanloklik is,gaan maar verby en maak gebruik van bekende finansiële instellings.

domheks ·

As iets te goed klink om waar te wees, is dit ‘n slenter. Daar bestaan nie iets soos vinnig ryk word nie, behalwe as jy ‘n kader is.

Casper ·

Wat nou van die mense wat hulle beleggings verloor het deur hom.Lê beslag op sy bates en verkoop dit.

Astrain ·

Wanneer ‘n makelaar by my aankom., so dik gevreet…dan stuur ek hom in sy peetjie!!!

SjN ·

Mense is geldgierig, hoe meer hul het, hoe meer wil hul he, as daar n vinnige manier was om geld te maak, sou almal dit doen. Mense leer nie!!

Frederik C ·

Die enigste plek waar jou geld veilig is, is in jou bank. Al die sg beleggers met hul beleggersfondse is bedrywig op een of ander aandelebeurs. Jy kan jou geld self daar belê.

Vanessa ·

Blerrie gemors!!! Sluit hom en almal wat betrokke was toe. Ek het geen genade met sulke mense nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.