‘Meesterbrein’ in Groot-Brak-moordsaak eindelik vas

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Die tweede verdagte in die dubbele moord op ʼn egpaar van Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap is eindelik dié naweek in die Vrystaat aangekeer nadat hy die polisie langer as twee jaar ontduik het.

Lebohang Lekoro is ná sy inhegtenisneming van Bloemfontein na Groot-Brakrivier se polisiestasie oorgeplaas en sal na verwagting Maandagoggend in die landdroshof op Mosselbaai verskyn. “Ons verwag dat hy in aanhouding sal bly,” het kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, aan Maroela Media gesê.

Toe hy oor die grens gekom het, is hy in hegtenis geneem.

“Ons werk al baie lank baie intens in samewerking met Interpol daaraan om dié persoon op te spoor. Hy was intussen ʼn tyd lank in Lesotho,” sê Pojie. “Toe hy oor die grens gekom het, is hy in hegtenis geneem.”

Pojie sê die polisie is dankbaar dat die voortvlugtige Lekoro danksy die polisie se volharding aan die man gebring is.

Maroela Media het vroeër berig Tewie (72) en Eurika (62) Human is vermoedelik helder oordag in hul huis vermoor. Tewie se liggaam is op 14 Junie 2016 in die motorhuis aangetref en Eurika sʼn in die egpaar se bed. Die vermoede bestaan dat hulle vroegoggend oorval is aangesien Eurika nog in haar slaapklere was.

Die polisie het Tamsamqa Howard Sishuba (26) vroeg in Julie daardie jaar aangekeer en vyf maande later ʼn groot beloning uitgeloof vir die inhegtenisneming van die tweede vermeende moordenaar wat glo die baasbrein agter die moorde was.

Tydens die verhoor het dit aan die lig gekom dat Tewie sewe keer met ʼn panga oor sy kop geslaan is.

Sishuba is in September verlede jaar tot lewenslange gevangenisstraf vir elk van die twee moorde gevonnis. Tydens die verhoor het dit aan die lig gekom dat Tewie sewe keer met ʼn panga oor sy kop geslaan is en Eurika met ʼn selfgemaakte mes in die hart gesteek is.

Daar was geen tekens van gedwonge toegang tot die egpaar se huis nie, wat die polisie laat vermoed het dat iemand wat die egpaar geken het, by hul moord betrokke was. Talle items is uit die huis gesteel en R14 000 is op die dag van die moord uit die Humans se bankrekening na ʼn bankrekening in Lesotho oorgeplaas.

Sishuba het getuig hy was onder die indruk dat hy die dag van die moorde saam met Lekoro vir die Humans werk sou doen. Volgens Sishuba het Lekoro vir Tewie met ʼn panga aangeval. Sishuba het ook beweer dat Lekoro hom gedwing het om Tewie een keer met die panga te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rooijan ·

Slaan iemand oor die kop met ‘n panga en nou is hy ‘n “Meesterbrein”?

Speedguard ·

Goeie werk Julle ouens, maak nou net seker die aanklaer doen sy werk ordentlik !!

Vanessa Moore ·

Uitstekende werk aan die polisie!!!!! Nou moet die doodstraf terug gebring word. Dis al wat wet en orde weer sal terugbring in die land.

Jay ·

Ek wens mense wil stop met “bring die doodstraf terug” gaan nooit gebeur nie, en wil julle rerig onbevoegd mense he wat daai call moet maak? Dan geld dit vir die KFC voorval, die doodskis voorval, die bakkie voorval, dan kry hulle ook die doodstraf?

Hanru ·

Ja die ouer mense met hul werkers. Sal nooit leer nie. Leef nog in die verlede. Die reels het verander. Doen jou werk self of los dit.

Rinda ·

Hanno, ouer mense is net dit wat die woord sê en dikwels nie fisies in staat om self die werk te doen nie. Ons almal maak een of ander tyd van werkers gebruik, of dit verwers, bouers, tuin werkers is maak nie saak nie. Die probleem lê nie daarin in nie, die probleem lê by siek mense se siek dade :(

Hanru ·

Moeg vir daai verskonings. Ons leef lankal nie meer in ‘n normale samelewing nie. Aanpasbaarheid is nou die sleutel tot oorlewing. Nie een van hierdie mense waarvan ons daagliks lees wat wreed tot hul einde gekom het, het gedink dat dit met hulle ook sal gebeur nie. Waarvoor het hulle hul lewens verruil? As jy dood lê beteken jou netjiese tuin, skoon huis of winste niks. Dis verby.

PJC ·

Lesotho se burgers kom na hartelus oor die grens, doen kwaad in SA en glip dan net weer terug oor die grens. Dit wil ook voorkom of Lesotho se polisie en regering glad nie beangstel om diesulkes te probeer vastrek nie.

Alida ·

Hanru jou kommentaar is werklik onvanpas en onsmaaklik. Jou ouma en oupa van 70/80 doen ook seker nog alles self wat hulle 40 jaar gelede met gemak kon doen.

Hanru ·

Ek het in 1995 begin statistiek opneem van moorde wat deur werkers, gewese werkers, hulpe en assistente en ook werkers as medepligtiges in moordsake, gepleeg word. Jy sal jou stil skrik as jy sien hoeveel moorde verhoed kon wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.