Meesterbrein van ‘grootste bedrogsaak’ skuldig bevind

Argieffoto

Argieffoto

Die Nasionale Vervolgingsgesag het Maandag gesê hy verwelkom die skuldigbevinding van Johannes van Staden in een van die grootste bedrogsake ooit in die Wes-Kaap.

“Johannes Erasmus van Staden, die meesterbrein in een van die grootste BTW-bedrogskemas, is skuldig bevind in die Wes-Kaapse hooggeregshof,” het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, gesê. “Die staat sal die hof nou versoek om hom ʼn lang tronkstraf op te lê.”

Van Staden is skuldig bevind op aanklag van swendelary (die bestuur van ʼn onwettige onderneming), geldwassery en 27 aanklagte van bedrog wat daartoe gelei het dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) van meer as R250 miljoen bedrieg is. Die misdade is tussen 2005 en 2008 gepleeg.

“Die geld is aangewend om bates vir Van Staden in sy familietrust, Swordfish Trust, te versamel,” het Ntabazalila bygevoeg. “Die hof het bevind hy het die geld gebruik om sy luukse leefstyl te onderhou.”

Dit het tydens die hofsaak aan die lig gekom dat Van Staden tussen Januarie 2006 en Oktober 2008 valslik aan die SAID berig het dat hulle meer as R3 miljard se vis uitgevoer het. Indo-Atlantic Shipping (Edms) Bpk, Southern Ocean Fishing (Edms) Bpk, (Indo-Atlantic Seafoods (Edms) Bpk en Southern Ocean Marine Corporation (Edms) Bpk is geregistreer as BTW-handelaars met Van Staden as die verteenwoordigende handelaar.

Van Staden het daarna vervalste 201 BTW-vorms ingedien.

Hy het onder andere ook BTW teruggeëis op die aankope van twee vissersbote wat nooit aangeskaf is nie.

Die hof het bevind die beskuldigde het fakture in die naam van ʼn maatskappy genaamd Isotherm Fishing (Edms) Bpk uitgereik om BTW terug te eis. Daar is egter geen bewyse van dié transaksies nie en die fakture was klaarblyklik gefabriseer.

Die SAID het meer as R250 miljoen in BTW-terugbetalings aan Indo-Atlantic oorbetaal.

Van Staden het twee plase, verskeie voertuie, waaronder luukse voertuie, wild, ʼn vliegtuig en ander bates, wat in die familietrust se naam geregistreer is, aangeskaf. Hy het onder andere ook die geld gebruik om ʼn luukse straler te huur vir ʼn vakansie in Mauritius vir hom en sy gesin.

Senior staatsadvokaat Freek Geyser het gesê die voorgeskrewe minimumvonnis is van toepassing op die verskeie aanklagte waarvan Van Staden beskuldig word.

“Van Staden is tans in aanhouding en sal Dinsdagoggend aansoek doen om borgtog,” het Ntabazalila bygevoeg. “Die staat sal sy aansoek teenstaan. Ons glo hy moet in aanhouding bly tot hy gevonnis is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Herman ·

En vir sy BTW bedrog van 250m is die saak baie vinnig afgehandel sonder borg. Zumpies het dieselfe gesteel maar hy loop nog lekker los rond.

Petro ·

Die president van die land is korrup hoe verwag hul moet ander mense voorbeeldig wees! Shame dis bja hartseer want die ou gaan 2 lewenslange vonnisse kry mnr van staden jys moes eerder net iemand vermoor het dan het jy jou eie tv kanaal n jaar of 2 tronkstraf en guess what jys nog famous ook maar in die land moet jy net nie steel of vir jacob zuma outsmart nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.