Meesterplan vir pluimveebedryf verwelkom

Sakpas_Hoender_Appelkoos.jpg

(Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging (SAPV) het die nuwe meesterplan vir die pluimveebedryf wat die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, vandeesweek bekend gestel het, verwelkom.

Die bedryf het R1,5 miljard bewillig om die doelwitte in die plan te help behaal. Dit is opgestel ná onderhandelings tussen die bedryf, die regering en rolspelers soos boere, verwerkers, uitvoerders, invoerders en vakbonde en bestaan uit ʼn raamwerk vir groei en volhoubaarheid.

“Die proses het die strategiese insette van alle rolspelers in ag geneem en dit is tot die krediet van Patel en Thoko Didiza (minister van landbou) dat daar nou vir die eerste keer ʼn meesterplan is wat die bedryf vorentoe kan neem,” het Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die SAPV, gesê.

Die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf gaan die afgelope paar jaar gebuk onder verskeie probleme, waaronder die koste van voer, hindernisse vir uitvoere en al hoe meer invoere, meestal hoenderstukke met die been in vanuit Brasilië, die Europese Unie en die VSA.

Handelsyfers wys die invoersyfers van braaihoenders het die afgelope vyf jaar met 73% gestyg en amptenare in die bedryf sê dit het gelei tot werksverliese. Dit het ook in die pad gestaan van die uitbreiding en transformasie van die bedryf om aan die groeiende vraag na hoender te voldoen.

Die meesterplan is reeds in werking gestel. Dit gee riglyne oor hoe die plaaslike bedryf se kapasiteit verhoog gaan word, asook hoe om te verseker dat plaaslik geproduseerde produkte mettertyd ʼn groter gedeelte van die mark kan beslaan.

Daar gaan probeer word om invoere te beperk en handelsmaatreëls gaan gebruik word om die plaaslike bedryf teen onregverdige handelspraktyke te beskerm. Verbruikers gaan aangemoedig word om plaaslik geproduseerde hoender te koop, terwyl die uitvoer van rou en gaar hoenderprodukte gedryf gaan word.

Breitenbach het gesê die plan maak voorsiening daarvoor dat talle onbillike handelspraktyke, ook storting, gepak word. Voedselveiligheidsoortredings – en die moontlike gevaar wat dit vir verbruikers inhou – was ʼn groot bron van kommer vir die SAPV en word ook ingevolge die plan hanteer.

“Die plan sluit ʼn hersiening in van die bepalings oor die manier waarop ingevoerde hoender verpak en geëtiketteer word. Dit moet ook verseker dat bevrore hoender wat ontvries het, nie as vars verkoop kan word nie en dat ingevoerde hoender net so naspeurbaar is en aan dieselfde voedselveiligheidstandaarde as plaaslik geproduseerde hoender voldoen,” het Breitenbach gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Judge Dredd ·

Nes Nazi Duitsland het SA ook nou ‘n meesterplan.
Gelukkig SA se meesterplan behels hoenders.

Anoniem ·

Dit moet nie net in die hoender bedryf gebeur nie maar ook in die klere bedryf. Minder invoer en meer plaaslik. Skep meer werksgeleenthede en kan ook beter kwaliteit verskaf. Ons voer te veel in van ander lande veral die Chinese crap wat inkom en nie voldoen aan standaarde nie byvoorbeeld elektriese goedere. Gaaan kyk maar hoe lyk dit by Chinese en pakistaniers se vlooi market. Dit wemel van mense en dan koop hulle die junk omdat dit goedkper is al hou dit net n paar maande.

K P ·

Voer hoenders in want ons hoender maatskappye want dit is wat hulle is en nie boere, kan nie kompiteer teen oorsese hoender boere. Hulle wil het ons as verbruiker moet ten duurste betaal vir hulle gemors hoenders en hulle swak prestasie.

KrokodilBotha ·

Hoender van die VSA is spotgoedkoop. Dollar vs ons monopoly geld !!!! Koekies uit Europa is goedkoper as hier. Meesterplan is effens laat. Daars groot fout met kos pryse. Sal wag en sien wie kraai op die mishoop.

Johan ·

Al die “meesterplanne” tog. Die regering vergeet gou dat toe hulle destyds hoender invoere uit die VSA wou beperk het hulle hulself trompop geloop teen die AGOA (African Growth and Opportunity Act) Wet wasrvolgens Suid Afrika beduidende voordele kry in terme van tariewe op ons uitvoere na die VSA – solank ons vrye handel ondersteun en nie proteksionisties raak nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.