Meestersgebou bly oop al is huur agterstallig

Salu-gebou Meesterskantoor meester van die hooggeregshof pretoria

Die verhuurder sê die gebou word in hierdie stadium in die belang van dienslewering oop gehou. (Foto: Rebosis)

Regslui het Woensdagoggend ʼn sug van verligting geslaak nadat daar ter elfder ure besluit is om nie die kantoor van die meester van die hooggeregshof in Pretoria weens “onbetaalde huurgeld” te sluit nie.

ʼn Kennisgewing is Dinsdag by die kantoor opgeplak wat gelui het dat die gebou vandag om 06:00 onbepaald gesluit sou word.

Penelope Roberts, meester van die Pretoriase hooggeregshof, het vroeër vandag bevestig dat die kantoor oop vir sake is.

Rebosis Property Fund, eienaar van die SALU-gebou in Pretoria waar die kantoor geleë is, sê “in die belang van voortgesette dienslewering, bevestig ons dat die gebou oop en toeganklik vir die huurder en die gemeenskap is”.

Volgens die maatskappy gaan samesprekings met die departement van openbare werke en infrastruktuur oor die betaling van agterstallige huurgeld voort.

Die maatskappy sê egter indien die kwessies nie dringend opgelos word nie, hy met regstappe sal voortgaan.

“Ons gaan voort met openhartige gesprekke met die departement oor markverwante verhuringshernuwings en die betaling van agterstallige geld. Ons is positief dat die departement ons op gelyke wyse sal behandel in ons pogings om die ernstige kwessies te takel,” sê Otis Tshabalala, uitvoerende hoof van Rebosis Property Fund.

Die suiting van die gebou kan talle regsprosesse tot stilstand laat knars. (Foto: Verskaf)

“In die belang van dienslewering en in die lig van voortgesette onderhandelings, het ons die sluitingskennisgewing onttrek en die SALU-gebou bly oop vir huurders en die gemeenskap.”

Ronald Lamola, minister van justisie, was Woensdag ʼn gasspreker by die Vereniging van Regslui van Suid-Afrika (LSSA) se algemene jaarvergadering. Hy is daar gepols oor die voorgenome sluiting van die meester se kantoor.

Lamola het die probleem dié van sy eweknie by die departement van openbare werke gemaak. Volgens Lamola betaal die departement van justisie die departement van openbare werke en laasgenoemde betaal weer die huurgeld aan die verhuurder.

Lamola het aan regslui gesê hy is vol vertroue dat die departement van openbare werke die probleem sal uitsorteer.

Ander probleme duur voort

En terwyl die sluiting van die gebou vir eers op die lange baan geplaas is, het die minister ook gesê hy is bewus van lang toue by die meesterskantoor. Ondersoek word intussen ingestel na die moontlikheid om die proses te digitaliseer.

Tiaan Joubert, voorsitter van die Pretoriase Prokureursvereniging, het by navraag gesê die dreigende sluiting van die gebou is maar een van die probleme by die meesterskantoor.

Byna twee jaar ná die aanvanklike uitbreking van die Covid-19-pandemie, werk ondersoekers steeds van die huis af. Die meesterskantoor het nie naastenby bygehou met tegnologiese vooruitgang nie.

“Ondersoekers is nie beskikbaar nie, fone word nie beantwoord nie, e-posse word selde beantwoord en dan word die vraag nie noodwendig beantwoord nie,” sê Joubert.

“Ondersoekers rig onbenullige navrae, of herhaal hul eie navrae, asof hulle nie hul eie lêers gelees het nie.”

Joubert sê die probleme is vantevore al onder die aandag van die adjunkminister van justisie, John Jeffery, gebring en daar is kommunikasie met die hoofmeester en die direkteur-generaal.

“Hulle verstaan ons frustrasie en het ook hul eie frustrasies.

“Prakties gebeur niks egter nie, want die politieke wil ontbreek,” sê Joubert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Wonder nou waar is die geld wat “Peter” vir ” Paul” gegee het?

Misky ·

Hoe ironies is dit nie…… Meester van die hooggeregshof gaan gedagvaar word!!!

Eindelik skandelik en dis besigheid 101 en ‘n laerskool kind kan jou vertel jou huur is een van eerste uitgawes vir enige besigheid.

Agtogwatnog ·

Die dae toe die staat Nasionale sluetel belange, belangrik genoeg geag het om die eiendom te ontwikkel en besit. Die goeie ou dae. Die oomblik wat die staat nie na sy eie eiendom omsien nie, tree die wolwe in en melk die staat vir geld, en natuurlik is die begunstigdes of kaders of politiese gekonnekteerde kalante. Op die einde van die dag boet die belastingbetaler en dok hy op vir die korrupsie en onbevoegdheid.

Hasie ·

Die huurgeld ry daar iewers rond…kyk maar mooi …sal dit sien ..Blink nuwe sport BMW ….

Louis ·

My stiefkinders het nou al ‘n boedel wat nege jaar sloer. Sewe daarvan is die Meester wat nie hul werk doen nie. As iemand die Meester van die Hof dagvaar, dan het ek ‘n goeie saak vir julle om as voorbeeld te gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.