‘Meetkunde makliker; moeiliker vrae in trig’

AHMP-wisk2-marinda-pienaar-en-johane-janse-van-rensburg

Die koshuiskamermaats Marinda Pienaar en Johané Janse van Rensburg het gesê dit was ʼn billike vraestel met ʼn paar ingewikkelder vrae, maar hulle kon minstens al die vrae beantwoord. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die 2017-matriekjaargroep is nou eers klaar met wiskunde nadat hulle Maandagoggend die tweede vraestel van dié vak afgehandel het.

Valentyn van der Merwe, wiskundespesialis by die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) en hoof van SOS-Innovasie, Solidariteit Helpende Hand, het gesê leerders sou egter hulle tyd baie fyn moes bestuur om te verseker dat hulle nie sukkel om die vraestel te voltooi nie.

“Gewoonlik is meetkunde die afdeling waaraan leerders meer tyd moet bestee, maar dit lyk of daar die keer meer moeiliker vrae in die afdeling vir trigonometrie en analitiese meetkunde was,” het Van der Merwe gesê. Hy meen die vraestel was op ʼn goeie standaard en soortgelyk aan die vraestel wat in die rekordeksamen geskryf is.

Hoewel sommige van die leerders van die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) in Pretoria aan Maroela Media gesê het die eerste vraestel was effens makliker as hierdie vraestel, was die meeste van die meisies dit eens dat die rekordeksamen se wiskundevraestel beslis meer uitdagend was.

“Dit was vir my ʼn billike vraestel,” het Zahn Rijnen, ʼn leerder aan dié skool, gesê. “Hier en daar was daar wel vrae wat uitdagend was, maar dit was vir my ʼn beter vraestel as vraestel een. Die rekordeksamen se meetkunde en trigonometrie was beslis ʼn moeiliker vraestel as waaraan ons gewoond is.

“Ek sal baie tevrede wees as ek net my jaar se gemiddeld kan handhaaf in die vak. Ek wil graag 85% hê, maar as ek 90% kry sal ek baie gelukkig wees,” het sy gesê.

Die koshuiskamermaats Marinda Pienaar en Johané Janse van Rensburg het weer gesê hulle voel darem beter na hierdie vraestel as na afloop van die rekordeksamen. Hulle het ook gesê dit was ʼn billike vraestel met ʼn paar ingewikkelder vrae, maar hulle kon minstens al die vrae beantwoord.

Anouk Vos gesê die vraestel het wel sy uitdagender dele gehad en sy dink die laaste twee vrae in meetkunde was moeiliker, terwyl Pienaar en Janse van Rensburg vraag 4.3, wat ʼn oppervlaktesom was, moeiliker gevind het om te beantwoord.

Mia Kriek, nog ʼn matrikulant van die AHMP, reken sy sal darem ook daarin slaag om haar doelwit van 80% vir dié afdeling van wiskunde te behaal. “Dit was bietjie uitdagend, maar ek dink tog ek het daarin geslaag om die somme darem uit te werk.”

Die matrikulante se volgende twee groot vraestelle is Afrikaans se eerste vraestel wat Donderdag geskryf word en fisiese wetenskappe wat Vrydagoggend afgelê word. Voordat dié vraestelle aan die beurt kom, is ʼn kleiner groep matrikulante ook besig om voor te berei vir vakke soos geografie, informasie tegnologie (IT) en ekonomie wat nog in hierdie week geskryf word.

  • Matrieks van 2017 kan nou registreer om ‘n kennisgewing te ontvang sodra die matriekuitslae gratis op Maroela Media beskikbaar is. Ons wil ook graag van jou hoor as jy verwag om agt of meer onderskeidings te verwerf. Sterkte met die eksamen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.