Meevaller van miljarde vir polisie

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD)

Enoch Godongwana, die minister van finansies, het R14 miljard op mediumtermyn bewillig om misdaad en korrupsie in die komende finansiële jaar te bekamp.

Meer as die helfte daarvan (R7,8 miljard) sal aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gaan om 5 000 polisieleerlinge per jaar aan te stel.

’n Bykomende R3,1 miljard is begroot vir die beveiliging van die land se grense. Dié geld sal aan die departement van verdediging toegeken word.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal op hul beurt R1,3 miljard vir die 2023‑’24- finansiële jaar ontvang om die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se aanbevelings te implementeer terwyl die Spesiale Ondersoekeenheid op hul beurt R100 miljoen sal ontvang vir siviele litigasie.

Die Finansiële Intelligensiesentrum sal R265,3 miljoen ontvang in ’n poging om georganiseerde en finansiële misdaad te pak.

Die begroting volg kort ná die bekendmaking dat 7 555 mense tussen Oktober en Desember verlede jaar vermoor is. ʼn Styging in ander kontakmisdade soos aanranding en roof is ook opgemerk en in sommige gevalle, soos met poging tot moord, het voorvalle met soveel as 24% toegeneem.

Kenners het net vandeesweek aan Maroela Media gesê die Suid-Afrikaanse strafregstelsel het tot ’n groot mate sy tande en afskrikvermoë verloor.

Lees al Maroela Media se berigte oor die jongste misdaadstatistieke hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit gaan nie oor hoeveelheid polisie nie dit gaan oor die opleiding en bevoegdheid van n polisie beampte,stel die regte mense aan en gee hulle die gereedskap om hulle werk te doen en raak ontslae van die droë hout wat net salaris kry en niks doen nie.Die polisie speurder wat die meeste sake suksesvol voltooi moet ‘n prestasiebonus kry net so die polisie beampte wat die meeste kriminele suksesvol arresteer, en daarna die stasie komesaris wie se stasie die beste presteer

Nommer 7 ·

Ek hoop die meevaller gaan gebruik word om polisiemanne wat nie kan lees en skryf nie terug skool toe te stuur.

Eugene ·

Dit gaan ni oor die geld nie, swak diens is die probleem by die sapd.

Piet 6 ·

Hulle spog so met die aantal nuwe polisie beamptes. Wat van die aantal wat jaarliks aftree,bedank of medies ongeskik verklaar word?

H.A. ·

Kentucky, ons is oppad ! Ons sal later kyk wat se moeilikheid daar is.

Leon ·

Die probleem is dat geld nie bevoedheid kan koop nie. Raak eers ontslae van die korruptes en gebruik dan die geld om bevoegde lede aan te stel, op te lei en behoorlik te vergoed.

Genis ·

As ek so na die Kiki loer, moet hulle liefs fiks word en op dieet gaan… Hoe sal die Ingesman seg: KFC detox?

anko ·

Laat almal op die regte wyse deur die range gaan en nie sommer sonder enige ondervinding in hoë verantwoordelike poste aangestel word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.