Meghan Cremer-saak sloer weens afsonderingsregulasies

Megan Cremer.

Die saak teen drie mans wat beskuldig word van die moord op Meghan Cremer (30) is Dinsdagoggend wéér uitgestel nadat die beskuldigdes nie vanaf die Pollsmoor-gevangenis in Tokai in Kaapstad na die landdroshof in Athlone gebring kon word nie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het aan Maroela Media gesê Jeremy Sias, Charles Daniels en Shiraaz Jaftha kon nie na die hofgebou gebring word nie aangesien die Pollsmoor-gevangenis glo ontsmet moes word te midde van die Covid-19-pandemie.

Dit is die tweede keer dat dié betrokke saak weens die pandemie uitgestel is.

Die saak teen Sias, Daniels en Jaftha is in Mei ook uitgestel toe regsverteenwoordigers nie by die hof kon wees nie omdat ʼn werknemer by hul kantoor positief vir Covid-19 getoets het, het Ntabazalila verduidelik.

Polisiebeamptes tydens die soektog na Cremer. (Foto: Tracey Adams/ANA) 

Maroela Media het vroeër berig Sias, Daniels en Jaftha is verlede jaar, kort nadat Cremer se liggaam op 8 Augustus by ʼn sandmyn in Philippi ontdek is, in hegtenis geneem.

Cremer het op 3 Augustus spoorloos verdwyn. Vyf dae en ʼn uitgebreide soektog later, is haar liggaam by die sandmyn gevind. Sy was ten volle geklee en ʼn tou is om haar nek vasgemaak.

Die verdagtes was in besit van Cremer se wit Toyota Auris.

Daar is vroeër bevestig dat een van die verdagtes in die moord op Cremer aan haar familie bekend is en dat dié verdagte op die perdeplaas, waar Cremer gewoon het, gewerk het.

Cremer was ʼn kranige perderuiter en het op die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Was die getuies by die hof ?

Pieter J

Hierdie Kaapse skollies moor en moor net. Duidelik is die straf nie voldoende nie.

Francois

Zuma taktiek. Hulle weet hulle gaan wegkom so

Alida

Wat is die rede hoekom die gemors nie hof toe gebring kon word nie?

PieterP

Ek was tot in 2000 werksaam in die DKD. Vir die 17 jaar wat ek daar werksaam was het jy gesorg die bandiet kom by die hof, come hell or high-water. Die ding steek al hoe meer kop uit. Kla die hoof van die gevangenis aan vir minagting. Nee mense alles maar alles do uhm val uitmekaar.