Meghan Cremer-saak wéér uitgestel

Megan Cremer.

Die verhoor van Jeremy Sias, die man wat teregstaan vir die moord op Meghan Cremer, is tot 14 Mei uitgestel wanneer nog ’n voorverhoor in die Wes-Kaapse hooggeregshof sal plaasvind.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê Sias het Vrydag in die hof aangedui dat hy aansoek vir ’n nuwe regsverteenwoordiger by Legal Aid wil doen.

Die verhoor moes reeds vroeër vandeesmaand begin het.

Sias is die enigste verdagte in die moordsaak en staan tereg op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal en dwarsboming van die gereg.

Hy was ʼn werknemer op die plaas waar Cremer (29) ten tyde van haar moord gewoon het.

Polisiebeamptes destyds tydens die soektog na Cremer. Foto: Tracey Adams/African News Agency (ANA)

Maroela Media het vroeër berig Cremer, ’n kranige perderuiter en bakkerybestuurder van Philippi, is op 3 Augustus 2019 in haar kothuis op die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas waar sy gewoon het, aangerand en verwurg, waarna haar liggaam in die bagasieruim van haar wit Toyota Auris gelaai en by ’n sandmyn in Philippi gestort is.

Volgens die staat het Sias dié betrokke dag ná 17:00 Cremer in haar kothuis met ’n blou lint verwurg, waarna hy met haar in die bagasieruim van haar motor rondgery het op soek na ’n plek om haar liggaam te stort. Cremer se liggaam is dae later met die blou lint om haar nek aangetref.

Die staat voer verder aan dat Sias bankkaarte, selfone, ’n iPhone en ’n handsak by Cremer gesteel en oor die volgende twee dae kontant uit haar bankrekening onttrek het. Hy het ook Charles Daniels se hulp ingespan om die oorledene se motor te verkoop.

Luidens die opsomming het Daniels die motor se nommerplate verwyder, waarna hy Shiraaz Jaftha gebruik het om ’n potensiële koper vir die motor te vind. Die motor is toe aan ’n potensiële koper gewys, hoewel hulle nie die registrasiedokumente vir die motor kon toon nie.

Daniels en Jaftha is kort daarna in besit van die motor in verband met die moord in hegtenis geneem. Albei se sake is intussen van dié van Sias geskei en hulle staan nou tereg op aanklag van motordiefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Althes ·

Dit bly ñ tragedie dat so ñ pragtige jong vrou se lewe van haar weggeruk is.
My hart pyn vir haar familie

jzjz05 ·

Ons moed verstaan die howe is gekaap,nie deur die Guptas nie maar wel deur die ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.