Meghan Cremer: Slegs 1 verdagte nou van moord aangekla

Megan Cremer.

Jeremy Sias is nou die enigste aangeklaagde wat tereg staan vir die moord op Meghan Cremer.

Sias, Charles Daniels en Shiraaz Jaftha het Maandag eindelik weer in die landdroshof in Athlone verskyn waar die saak teen Sias van dié teen Daniels en Jaftha geskei is.

Dít nadat die saak reeds twee keer voorheen weens die Covid-19-pandemie uitgestel is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het Maandagmiddag aan Maroela Media gesê slegs Sias staan nou tereg op aanklag van moord. Dié aanklag teen Daniels en Jaftha is weens ’n gebrek aan bewyse teruggetrek.

Daniels en Jaftha staan wel nou tereg op aanklag van motordiefstal.

Volgens Ntabazalila sal die saak teen Sias na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas word terwyl die saak teen Daniels en Jaftha voortaan in die streekhof aangehoor sal word. Hulle sal albei weer op 29 Junie in dié hof verskyn.

’n Datum vir Sias se volgende hofverskyning is nie in dié stadium bekend nie.

Polisiebeamptes tydens die soektog na Cremer. Foto: Tracey Adams/African News Agency (ANA)

Maroela Media het vroeër berig Sias, Daniels en Jaftha is verlede jaar, kort nadat Cremer se liggaam op 8 Augustus by ʼn sandmyn in Philippi ontdek is, in hegtenis geneem.

Cremer het op 3 Augustus spoorloos verdwyn. Vyf dae en ʼn uitgebreide soektog later is haar liggaam by die sandmyn gevind. Sy was ten volle geklee en ʼn tou was om haar nek vasgemaak.

Die verdagtes was in besit van Cremer se wit Toyota Auris.

Daar is vroeër bevestig dat een van die verdagtes in die Cremer-moordsaak aan haar familie bekend is en dat dié verdagte op die perdeplaas, waar Cremer gewoon het, gewerk het.

Cremer was ʼn kranige ruiter en het op die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Hoeko. Sloer die saak so lank. Seker die familie wil graag ” closure” kry. Kan geen regstelsel dit verstaan nie. Land waar misdaad seëvier. Die Regering wat nie sy burgers kan beskerm nie sal rekenskap gee.

marius ·

Verduidelik asseblief hoe ‘n saak tot verhoor staduim vorder, en dan eers uitgevind word dat daar onvoldoende getuienis is ? Waar het hierdie spul regte studeer ? Aanlyn ??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.