Meghan Cremer: Só het gebeure glo verloop

Megan Cremer.

Meghan Cremer (29) is verlede jaar in haar kothuis op die perdeplaas waar sy gewoon het, aangerand en verwurg, waarna haar liggaam in die bagasieruim van haar wit Toyota Auris gelaai en by ’n sandmyn in Philippi in die Wes-Kaap gestort is.

Dít luidens die staat se opsomming van wesenlike feite wat onlangs by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien is.

Maroela Media het vroeër berig die saak teen Jeremy Sias, die enigste verdagte in die moord, is onlangs na dié hof oorgeplaas. Sias staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, diefstal en dwarsboming van die gereg.

Luidens die staat se opsomming was Sias ’n werknemer op die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas waar Cremer ten tyde van haar moord gewoon het.

Polisiebeamptes tydens die soektog na Cremer. Foto: Tracey Adams/African News Agency (ANA)

Volgens die staat het Sias vir Cremer op 3 Augustus 2019 ná 17:00 in haar kothuis met ’n blou lint verwurg, waarna hy met haar in die bagasieruim van haar motor rondgery het op soek na ’n plek om haar liggaam te stort. Cremer se liggaam is dae later met die blou lint om haar nek aangetref.

Die staat voer verder aan dat Sias bankkaarte, selfone, ’n iPhone en ’n handsak by Cremer gesteel en oor die volgende twee dae kontant uit haar bankrekening onttrek het. Hy het ook Charles Daniels se hulp ingespan om die oorledene se motor te verkoop.

Luidens die opsomming het Daniels die motor se nommerplate verwyder, waarna hy Shiraaz Jaftha ingespan het om ’n potensiële koper vir die motor te vind. Die motor is toe aan ’n potensiële koper gewys, hoewel hulle nie die registrasiedokumente vir die motor kon toon nie.

Daniels en Jaftha is kort daarna in besit van die motor in verband met die moord in hegtenis geneem. Albei se saak is intussen van dié van Sias geskei en hulle staan nou tereg op aanklag van motordiefstal. Dié saak sal voortaan in die streekhof aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Niklaas

Dit was nou so sinneloos om haar te vermoor. Mag geregtigheid gougou seëvier.

Willem

Maar white lives dont matter, waag om dit te se, wit mense word wreed en sinneloos vermoor maar as n misdadiger (GEORGE F) doodgemaak word skree almal rasisme. Die wereld is omgkeer soos n gebroke kruis.