Meineed-aanklagte: OB beloof samewerking

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, het bevestig dat ’n dagvaarding vroeër die week op haar beteken is om in Januarie in die Pretoria-landdroshof te verskyn.

Mkhwebane sal op drie aanklagte van meineed teregstaan wanneer sy op 21 Januarie in die hof verskyn. Volgens Mkhwebane sal sy haar samewerking aan die tersaaklike owerhede gee.

“As ’n wetsgehoorsame burger sal die openbare beskermer haar samewerking gee en op 21 Januarie 2021 soos vereis in die hof verskyn. Sy is vol vertroue dat die hof haar van enige oortreding sal vryspreek,” het Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, gesê.

Adv. Paul Hoffman SC, direkteur van die organisasie Accountability Now, het die aanklagte teen Mkhwebane aanhangig gemaak.

Volgens Mkhwebane het sy intussen in die media verneem dat Hoffman ’n skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa gerig het waarin hy versoek dat sy geskors word.

Hoffman het ook verlede jaar ’n klag by die Regspraktykraad ingedien om Mkhwebane van die rol van advokate te laat skrap.

“Uit respek vir die regsproses sal die openbare beskermer nie verdere kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie,” het Segalwe gesê.

Mkhwebane het onlangs vir die soveelste keer bloedneus in die hof gekry. Haar bevindings oor die sogenaamde “rogue”-eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is in die uitspraak tersyde gestel. Die volbank van die hooggeregshof het bevind Mkhwebane het ongeldige verslae en onbewese bewerings gebruik om bevooroordeelde beslissings rakende die eenheid te maak.

Die parlementêre paneel wat aangestel is om te besluit of daar meriete is in die pogings om Mkhwebane uit haar pos te verwyder, het aan die begin van die maand vir die eerste keer vergader. Die parlement het regter Bess Nkabinde en senior advokate Dumisa Ntsebeza en Johan de Waal vroeër aangewys om die ondersoek te behartig.

Hulle het die speaker van die parlement, Thandi Modise, gevra om die voorgeskrewe tydperk waarin die paneel sy werk moet verrig, te verleng.

Die paneel sê daar is geweldig baie getuienis wat oorweeg moet word en die OB moet boonop ʼn billike tydperk gegun word om op die bewerings teen haar te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.