Meiringspoort weer gesluit; opruimingswerk gaan voort

Meiringspoort onder water (Foto: Rob Beezy, Twitter)

Meiringspoort is Woensdagaand weer vir motoriste gesluit weens vloedwater wat dié gewilde bergpas oorspoel het. Die pas bly in hierdie stadium gesluit terwyl opruimingswerk voortduur.

Dié bergpas op die N12 tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn in die Wes-Kaap is aanvanklik Dinsdag gesluit omdat groot dele van die pad onder water was ná ʼn groot wolkbreuk in die streek.

Volgens Jandré Bakker, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, is die pas Woensdagmiddag geleidelik vir verkeer oopgestel nadat van die water begin afloop het. Weens nog swaar reënneerslae Woensdagaand is hulle genoop om die pad weer te sluit.

Padinstandhoudingspanne het Woensdag met opruimingswerk begin en het Donderdagoggend voortgegaan. Die vloedwater het groot skade aan die pas aangerig.

ʼn Alternatiewe roete via Willowmore word vir motoriste aanbeveel.

Soos vroeër berig, was ʼn bus en ligte passasiersvoertuie Dinsdagaand in die pas gestrand omdat hulle nie hul reise kon voortsit nie weens laagwaterbrûe wat oorspoel het. Hulle kon die volgende oggend egter verder ry nadat die water afgeloop het.

Die span het Woensdagaand met opruimingswerk voortgegaan (Foto: Verskaf)

Meiringspoort onder water (Foto: Verskaf)

Water het Dinsdag by die pas afgestroom (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harry ·

Wonderlik!!!! Reen wat die droogte breek. Water wat die aarde skoon spoel. Hierdie herstelwerk is die lekker deel van ‘n man se werk wat so baie geseen word, of hoe?

Samuel ·

Mens kan net dankbaar wees vir die reën al is daar skade. Wat ‘n pragtige, pragtige pas.

Pieter ·

Is nie ‘n regte bergpas nie. Eerder ‘n pad deur ‘n poort, vandaar Meiringspoort en die vloedskade. Pad volg rivier. Pas klim oor berg. Dankbaar vir die reen .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.