Die Meiringspoortpas is Donderdagmiddag weer vir motoriste oopgestel nadat dit vir ʼn tweede keer weens vloedwater gesluit moes word.
Jandré Bakker, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, sê alhoewel instandhoudingspanne onverpoos werk om die pad op te ruim nadat dit oorstroom het, kan motoriste nou weer daardeur ry.
Dié gewilde roete op die N12 tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn in die Wes-Kaap is aanvanklik Dinsdag gesluit omdat groot dele van die pad onder water was na ʼn groot wolkbreuk in die streek.
Die pas is Woensdagmiddag geleidelik vir verkeer oopgestel nadat van die water begin afloop het. Weens nog swaar reënneerslae Woensdagaand was hulle genoop om die pad weer te sluit.
Opruimingswerk is Woensdag begin nadat ʼn massa vloedwater groot skade aangerig het.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het op hul Facebookblad gewaarsku dat stormweer en sterk wind vir die Beaufort-Wes, Prins Albert en die groter Oudtshoorn-gebied vir die middag en aand voorspel word.