Meisie (10) beseer toe boot haar in water tref

Die onbemande boot. Foto: Robin Schultz via NSRI

Die onbemande boot. Foto: Robin Schultz via NSRI

ʼn 10-jarige meisie is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal geneem nadat ʼn rubberboot, wat buite beheer was, haar Sondag in die see by Langebaan, noord van Kaapstad, getref en met die skroef gesny het.

Casper Frylinck, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Mykonos-stasie, het gesê die voorval het omstreeks 10:30 by die Langebaan-strandmeer plaasgevind.

“Dit lyk asof die seiljag by die Mykonos-hawe se ingang op ʼn sandbank vasgeval het. Twee private rubberbote het ingegaan om bystand te bied deur die seiljag met sleeptoue van die sandbank af te sleep.”

Volgens Frylinck kon die rubberbote die seiljag los kry. Drie mense wat op een van die bote was, is egter in die proses van die boot geslinger.

“ʼn Pa, sy seun en sy dogter het in die water beland. Die rubberboot het glo nie ʼn smoorskakelaar gehad nie wat veroorsaak het dat die onbemande boot op volle krag in sirkels om hulle vaar. Die meisie is in die proses deur die boot getref en het snywonde van die skroef aan haar linkerarm en albei bene opgedoen.”

Die pa en kinders is uiteindelik gered nadat ʼn groot rubberboot met opset in die onbemande boot gery het om dit van koers af te kry.

Die onbemande rubberboot het op die strand tot stilstand gekom, waarna ʼn omstander dit teruggeneem het na die hawe toe.

ʼn NSRI-vaartuig het die pa en dogter na veiligheid gebring en die seun is op die seiljag gelaai.

Die meisie is bygestaan deur ʼn omstander wat noodhulp toegepas het, totdat paramedici van die NSRI oorgeneem het. Die meisie is in ʼn ernstige maar stabiele toestand deur Atlantic Medical Response na die Vredenburg-hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die pa en seun het nie mediese behandeling nodig gehad nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vivian ·

Bid vir haar die Here haar genesing skenk. Nie gedink die duiwel kan n boot oorneem nie. Baie sterkte.

Elize ·

Die persoon wat verantwoordelik was om toe te sien dat die rubberboot n smoorskakelaar het en dit nie gedoen het nie is verantwoordelik vir hierdie ongeluk

Gideon ·

Wat soek die 10 jarige kind op ‘n boot wat ‘n reddingspoging gaan uitvoer? Dit lyk regtig vir my of groot mense al hoe dommer raak en nie kan dink nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.