Meisie (11) by hospitaal verkrag

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond vir gesondheids- en ander dienstepersoneel van Suid-Afrika (Hospersa) het die verkragting van ʼn 11-jarige meisie by die Dora Nginza-hospitaal in Port-Elizabeth in die Oos-Kaap ten sterkste veroordeel en geëis dat strenger sekuriteitsmaatreëls gehandhaaf moet word.

Hospersa het die minister van gesondheid in ʼn verklaring gemaan om dringend aandag aan veiligheid en sekuriteit by staatshospitale in die Oos-Kaap te skenk.

Die meisie is glo uit ʼn speelarea by die hospitaal ontvoer deur iemand wat vir die wagte gesê het dat hy haar gaan neem vir mediese behandeling.

Hy het haar daarna na die badkamers van ʼn administratiewe gebou by die hospitaal geneem en verkrag. Hy het haar toe toegesluit. Die wagte het ná ʼn ruk die meisie hoor skree en haar gaan oopsluit.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, het die voorval bevestig.

Lutando Lujabe, Hospersa se provinsiale sekretaris, het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê hulle is diep bekommerd daaroor dat sulke voorvalle by staatshospitale plaasvind.

ʼn 21-jarige verdagte is Sondag deur lede van die gemeenskap aangekeer in verband met die voorval en aan die polisie oorhandig. Hy staan tereg op aanklagte van ontvoering en verkragting.

In die afgelope paar weke is daar verskeie voorvalle by hospitale in die Oos-Kaap aangemeld, onder meer dié van gewapende roof by die Rosedale-kliniek en die Kwazakhele-hospitaal in Ibhayi.

Lujabe het gesê Noel Desfontaines, Hospersa se hoofsekretaris, het Maandag met die hoofinspekteur van die departement van arbeid vergader om die moontlikhede te bespreek hoe Hospersa die departement kan bystaan met veiligheidsmaatreëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tillie ·

Dit is om van naar te raak! Die arme kind, mag sy hierdie wrede en ontnugtering oorkom.

Alida ·

Die gemeenskap weet mos wat om met hom te doen. Hoekom die SAPD se tyd mors.

Piet Pompies ·

Kinders verdien die beskerming wat hulle toekom, hetsy dit die ouers is of in die geval die sekerheid by die hospitaal. Ek kan my net voorstel hoe die sekerheids beampte sy werk uitvoer, hy sit seker eenkant onder ‘n boom half aan die slaap of sit en gesels met rondlopers op die terrein ipv om sy werk te doen.
Geen kind verdien om gedwing te word in omstandighede wat haar/hom ongemaklik laat voel of seermaak.

Elsa ·

Dis skandelik om so iets aan ‘n kind te doen. Weereens waar was die ouers want almal weet nou al moorde, ontvoerings en verkragtings gebeur in ons land en polisie en publiek draai hulle koppe weg van dit af. Hou julle familie lede veilig want so kan dit nie aangaan nie. Dit maak nie saak watter ras jy is nie dit gebeur met almal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.