Meisie (12) twee keer onder mes ná ongeluk by skool

Denise (Foto: Verskaf)

ʼn 12-jarige meisie van Holfontein in Gauteng moes die afgelope maand reeds twee noodoperasies ondergaan om haar been te red nadat sy ʼn besering by haar skool opgedoen het.

Yvonne Harmse het Maandag aan Maroela Media vertel haar dogter, Denise, leef “elke dag in pyn” nadat sy net voor die skoolvakansie per ongeluk van ʼn pawiljoen af gegly het.

Harmse is op dieselfde dag na ʼn hospitaal geneem waar die dokters na bewering gesê het sy het bloot ligamente in haar been geskeur. Harmse sê die dokters het hulle met pynmedikasie huis toe gestuur.

Volgens haar het Denise deurlopend pyn ervaar, waarna sy haar na ʼn ander staatshospitaal geneem het. “Die hospitaal het ons ingelig dat haar been gebreek is. Die dokters het toe ʼn halwe gips op haar been gesit en dit met verbande toegedraai en gesê dat ons ná twee weke moet terugkeer.”

Harmse sê sy het in die eerste week blase aan Denise se been opgemerk. Volgens die dokters was dié blase veroorsaak as gevolg van die hitte en die wrywing van die gips. “Die dokters het gaas oor die blase gesit en weer die halwe gips teruggesit. Sy het begin huil van die pyn en dit het by die dag bloot net erger geraak,” sê sy.

Harmse sê sy het daarna besluit om Denise vir ʼn derde opinie na ʼn ander hospitaal te neem – hoewel dit weer ʼn staatshospitaal was. “Die diagnose was nie goed nie en ons donkerste vrese is bewaarheid. Ons het geweet daar is iets fout. Toe die dokters die gips van haar been afhaal, het die sig uit haar kuit gestroom. Hulle het gesê ons moet dadelik opereer waarna sy met gangreen in die teater opgeneem is. Hulle het ʼn stuk van haar kuit uitgesny en toe weer die wond verbind.”

Denise moes onlangs ‘n tweede operasie aan haar been ondergaan (Foto: Verskaf)

Volgens Harmse was sy oortuig dat haar dogter dié keer sou herstel, maar die gangreen het weer teruggekeer. “Die gangreen het nie genees soos die dokters verwag het dit sou nie, en sy is weer in die hospitaal opgeneem. Volgens die dokters moes hulle weer ʼn deel van haar kuit uitsny om te verhoed dat dit verder versprei.”

Sy sê die gesin is totaal raadop en veral bekommerd dat Denise moontlik haar been kan verloor. “My kind leef dag en nag in pyn – en ek huil elke keer saam want my hart breek. Ons gesin kan eenvoudig nie ʼn mediese fonds bekostig nie, daarom rig ons ʼn pleidooi tot weldoeners wat ons kan bystaan om Denise uit hierdie situasie te help.

“Ons kan nie weer na ʼn staatshospitaal toe terugkeer nie, veral nie ná wat die laaste keer gebeur het nie. Ons wil net vir ons dogter die jongmenselewe bied wat sy verdien.”

Om Denise se bed in ʼn private hospitaal te bespreek kos R70 000 waarvan die gesin nog minder as R15 000 ingesamel het. Weldoeners wat meer inligting wil hê, kan Amoer Schoeman van die Child Medi-organisasie kontak deur ʼn e-pos te stuur na info [email protected]. Besoek die Child Medi se Facebook-blad.

Denise moes onlangs ‘n tweede operasie aan haar been ondergaan (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

WeesWys ·

Baie gou speel of sy verloor haar baan, dalk ook haar lewe!

Trudy Erasmus ·

Baie sterkte. Ek kan haar ouers se vrees verstaan en ek wens ek kon haar hele rekening betaal, maar ek sal bid dat sy volkome herstel.

VLINDER ·

Begin Vitamiene C ingee en proteine, dit help baie vir genesing van n wond. Ek het amper my arm verloor, staats hospitaal, goeie diens gehad, chirurg het gese, dis al wat help vir wonde. Prop haar vol proteine. Vit C 1000mg n dag.
Sterkte, besef dat jul deur n moeilike tyd gaan, jul is in ons gebede en gedagtes.

Versekering? ·

En die skool het nie versekering vir so-iets? Is daar skole wat versekering het vir sulke gebeure?
Par.6: Daardie ‘sig’ se spelling is eintlik ‘sug’.

Hoe nou ·

So skole moet pa staan vir elke besering? Syt gegly, wat by hul huis ook kan gebeur.

Skoolfonds sal onbekostigbaar wees sou skole vir als moes sorg!

Baie sterkte aan die dogter ek hoop jy herstel spoedig!

Versekering? ·

Daarom dra ek swaar aan versekering en het met my vrou se kanker nie ‘n sent hoef te betaal tot haar oorlye wat honderde duisende rande gekos het. Ja ‘Hoe nou’, ek kan verstaan dat jy(?) net soos ek slegs ‘n balans van derdeparty uitneem op ‘n voertuig instede van volledige assuransie maar as dit by medies kom is dit ‘n ander saak. Verkoop eerder die TV en sorg vir versekering vir jou gesin.
My verstand sê dat hoe meer die kinders in ‘n skool hoe groter is die risiko vir beserings maar nou sê daardie verstand ook dat uit ‘n skool van sê 1000 leerders daar nie 500 gaan seerkry per jaar. Immers egter kan daar vir die kinders wat nie medies kan bekostig voorsiening gemaak word vóór sulke dinge gebeur of gee ons werklik só min om vir die welstand van ‘n ander?

Leeutjie ·

Versekering: Dit is sig….nie sug nie!! Sig is vloeistof wat uit ‘n wond kom as dit septies is! Sug is wat ek elke dag doen…ek sug as ek moet opstaan vir werk!!!

Vra net ·

Lees ek reg? Hulle het die gangarene uit gesny? Hulle wou my sister se bene afsit oor sy gangarene ontwikkel het.

LB S ·

Ja, ek was onder die indruk dat gangrene soos kanker in jou bene is.

Marius ·

Staatshospitale sal op standaard kom as alle LP’s na n staatshospitaal MOET gaan vir behandeling.
Hulle verwag mos die publiek moet te vrede wees

Sterkte aan die familie

lvh ·

Ons was jare gelede 1 vd beste lande op mediese gebied. Dit het na ’94 ook stewig bergafwaarts gegaan. Hartseer!!

Louise Roxmouth ·

Het die skool nie dalk 3rde party versekering met so baie kinders met so baie kinders wat na omgesien moet word nie?

G ·

Dis net belaglik dat duisende salaris trek, maar die staatshospitale is in so ‘n toestand. Ek stem saam, laat al die ‘belangrike’ mense in hospitale behandel word, dan sal die hospitale weer reggeruk word.

@Versekering, daar is mense wat skaars geld het vir kos, wat stel jy voor verkoop hul om versekering/medies te kan bekostig? En ek praat nie van die wat als koop wat luuks is, en dan min geld vir kos oorhou nie, ek praat van arm mense. Hulle gaan nie vir hul kinders versekering uitneem en dan in hul hongerogies vaskyk nie, hulle gaan hul eerder voer.
En dit is presies hoe die regering wil hê almal moet redeneer. Hul maak doelbewus die staatshospitale pateties sodat ALMAL moet geld uitdok vir medies ens., want dan baat hul weer op ‘n manier daaruit.

Wonder ek ook ·

Die hospitaal en die dokters wat gestel het dis net ligamente moet pa staan. Dis nonsens dat mense so moet suffer en niemand aanvaar verantwoordelikheid vir verkeerde diagnoses!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.