Meisie (14) brand erg na sy van bakkie val

Johan Wilken saam met sy dogter Elisma.

ʼn 14-jarige meisie van Randfontein aan die Wes-Rand is in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal nadat sy erge brandwonde opgedoen het toe sy van haar pa se bakkie af geval het.

Elisma Wilken het Sondagoggend saam met haar pa, Johan, en 10-jarige broer gery om op ’n naburige plaas te gaan help nadat ’n veldbrand daar uitgebreek het. Die gesin woon en boer op ’n kleinhoewe in die Randfontein-omgewing.

“Alles was oukei en die brand was redelik onder beheer. Elisma het vir haar boetie gesê om voor in die bakkie te klim en ek het vir haar gesê om ook voor in te klim, maar sy het gesê ‘ek is reg agter op pappa’,” vertel Wilken.

Die brand het skielik weer handuit geruk en reg rondom die bakkie begin brand. “Ek kon niks sien nie en het gery om uit die brand te probeer kom. Toe ons uit die vlamme is, het ek dadelik stilgehou en gesien Elisma is nie meer agter op die bakkie nie,” het ’n gebroke Wilken gesê.

Dit is toe dat Elisma uit die brand aangehardloop kom. “Amper al haar klere was van haar lyf af gebrand.” Sy het 70% brandwonde oor haar lyf opgedoen en derdegraadse brandwonde aan haar voete. ’n Tak het vermoedelik aan Elisma se hare vasgehaak en haar van die bakkie afgeruk.

Elisma Wilken.

Daar is onmiddellik met Elisma na die Life Robinson Private Hospitaal in Randfontein gejaag. Sy is later na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton oorgeplaas voor sy uiteindelik in die nabygeleë Netcare Clinton-hospitaal se pediatriese hoësorgeenheid opgeneem is.

“Volgens die dokters is die volgende 48 tot 72 uur kritiek. Sy is tans onder sedasie en die dokters probeer haar asemhaling en ander funksies stabiel kry.” Elisma, ’n leerder aan die Hoërskool Wagpos in Brits, sal veloorplantings moet ondergaan sodra die presies omvang van haar brandwonde vasgestel is.

Die gemeenskap het intussen hande gevat en geld begin insamel vir Elisma se mediese rekening. Die gesin is op ’n mediese fonds, maar daar is aanvanklik gesê dat hulle ’n deposito moet betaal by die hospitaal waarna begin is om geld in te samel.

“In die stadium vra ek net gebede vir my kind.”

Elisma se 12-jarige sussie was by ’n maatjie ten tyde van die voorval en haar ma, Bonita, was tuis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.