Meisie (14) sterf aan hondsdolheid ná rondloperhond haar byt

Argieffoto

ʼn 14-jarige meisie van die Oos-Kaap is Vrydag dood aan hondsdolheid nadat sy vroeër die maand in die waakeenheid van die Frere-hospitaal in Oos-Londen opgeneem is.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die provinsie se departement van gesondheid, sê die meisie is vroeër van die Butterworth-hospitaal oorgeplaas na dié hospitaal.

Volgens Kupelo kon dokters nié haar lewe red nie omdat die infeksie al te ver versprei het.

“Die pasiënt was by haar aankoms by die Frere-hospitaal reeds in ʼn laat fase van die siekte,” sê hy.

Kupelo sê die meisie is glo einde verlede jaar in die Kotana-nedersetting naby Nqkamakwe deur ʼn rondloperhond gebyt. Familielede het haar na die hospitaal geneem nadat sy simptome soos swakheid en koors ervaar het.

Intussen het die departement van gesondheid gewaarsku dat inwoners van die provinsie alle bytwonde van honde as ʼn ernstige voorval moet hanteer en onmiddellike mediese behandeling moet ontvang.

Kupelo het hondsdolheid as ʼn endemie in die provinsie bestempel. “Die siekte word aan huishoudelike honde oorgedra wat dan mense byt. Hoewel die infeksie dodelik is, kan dit voorkom word deur toepaslike mediese behandeling of inenting,” sê hy.

Hy het gewaarsku dat veral jong kinders geleer moet word om nié rondloperhonde te nader nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PJC ·

Alle gevalle van aanvalle deur veral rondloper honde of honde wat met ander diere in aanraking kom behoort as hondsdolheids gevalle hanteer te word.

Estelle ·

Arme kind, ek verstaan hondsdolheid is ‘n baie moeilke dood vir mense. In die landelike gebiede waar huisdiere maklik met velddiere in aanraking kom moet owerhede asseblief baie bewusmaking doen en inligting verskaf – dit is mense wat nie altyd toegang het tot media en internet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.