Meisie (14) verkrag wat ryloop

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 14-jarige meisie wat van Bosbokrand na Graskop in Mpumalanga geryloop het, is verkrag.

Sers. Gerald Sedibe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die meisie was Sondag op pad na Graskop toe sy ʼn saamrygeleentheid aangebied is deur ʼn man wat ʼn wit Volkswagen Golf bestuur het.

“Die man het naby Graskop in die veld ingery en die motor tot stilstand gebring. Hy het die slagoffer uit die voertuig geruk en haar beveel om haar klere uit te trek. Die meisie het geweier. Die man het haar met ʼn mes gedreig, haar klere van haar lyf afgeruk en haar glo verkrag,” het Sedibe gesê.

Die meisie kon ná die daad daarin slaag om weg te hardloop. Sy het tot by die pad gehardloop waar sy hulp van ʼn vragmotorbestuurder ontvang het. Die bestuurder het die meisie na die Graskop-polisiestasie geneem waar ʼn saak van verkragting aanhangig gemaak is.

ʼn 39-jarige verdagte is later by sy huis in Graskop in hegtenis geneem. Die man het Maandag vlugtig in die dorp se landdroshof verskyn. Die saak is tot Donderdag uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog gaan aansoek doen. Hy bly in aanhouding.

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om nie te ryloop nie aangesien dit hul lewens in gevaar stel.

“Verskeie gevalle is regoor die provinsie aangemeld waar mense, veral vroue, wat geryloop het bedwelmd, beroof of verkrag is,” het Sedibe gesê. Die publiek word aangeraai om eerder van openbare vervoer gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Griet ·

ja, ek sal nou nie weet nie. Dalk is jong mense nog so onskuldig dat hulle nie weet hoe gevaarlik die lewe regtig is nie. Dis nie asof ek vir my kinders presies uitspel wat gaan gebeur as hulle dit of dat nie. Mens waarsku en hoop hulle luister. Sterkte aan die meisie en hoop sy het familie wat haar ondersteun. Ek hoop die ‘man’ kry wat hy verdien.

Judy ·

Aai tog. Waneer gaan ouers besef om kinders die gevare verduidelik van al die gevare oral. Ouers moet kinders leer. Dit is jou pligte as ouers. Het die ouers ooit kennis gedra dat hulle dogter ryno op?

m ·

Ryloop in hierdie siek land is uit soos koekies in die weeshuis. Jy kan eenvoudig nie daai kans vat nie. Die arme kind het seker nie vervoer gehad nie en nou maar uit desperaatheid geryloop. Ons leef in n siek land met baie siek mense… Jy moet so versigtig wees…

Tiger ·

Ons bly in Suid Afrika ,land met die meeste misdadigers binne sy grense.Dis nie Disney land nie.Is mense regtig nog so blind?Gaan my verstand te bowe dat daar mense is wat anders glo.

BS ·

14 jaar oud en ryloop? Waar is haar ouers? My kinders sou dit nie kon doen nie. Dis net hartseer.

Leeu ·

Dit was my eerste vraag ook – waarom sou ‘n 14-jarige meisiekind ryloop. Waar is die ouers van die kind? Ek wens so ouers kan besef watse verantwoordelikheid jy teenoor jou kind het! Ja… ek gee toe, kinders is nie engeltjies nie en vat kanse, maar ouers MOET hulle kinders beskerm…

E.K. - ek sê net! ·

Moet nou nie weer oordeel voor juldie feite ken nie. Dis ongelukkig so dat baie jong kinders soms moet ryloop omdat hul geen ander keuse/vervoer het nie. En ja, ek praat van swart kinders. Ons het nie ‘n idee hoe gesukkel dit vir baie van hulle is nie. Dit help nie om te vra waar is die ouers of hoe kan sy ens ens – mense weet nie hoe sukkel sommiges in ons land nie. Vra liewer wie het die oortreder die reg gegee om te dink hy kan ‘n arme kind so gruwelik msibruik. Glo my in 90% van sulke gevalle kry so kind ook nie terapie en moet met dit maar saamleef. BLY hul het hom vasgetrek! Hoop en bid die ding kry nie borg nie maar dat hy die hele feestyd in die tronk deurbring.

SUSAN ·

Ek stem saam – Ek se net! – dit is vreeslik dat die man kon dink hy is klaas, toe sien hy sy baas.

Lexi ·

Ek stem 100% met jou saam. Ek het as kind die wereld vol geloop.

Jan ·

Ek bly in Die Laeveld, ek het maar net so die kommentare gelees en kop geskud. Julle het nie ‘n idee waaraan die mense blootgestel is nie. Julle lees nou maar hier van ‘n enkele geval, julle het nie ‘n idee nie. Ek wonder of die owerhede weet hoe dit werklik gaan.

Lees weer die berig oor wiskunde, lees weer hierdie berig tien maal oor.

Bossie ·

Vroeër jare kon jy langs pad stop, jou slaapsak oopgooi en slaap sonder om enige gevaar te verwag. Laat ek eerder nie praat oor vandag nie want dan word ek weer aangekla vir een of ander belaglike rede. Ag jammer! Hel, ek is SO dom. Het vergeet dit is apartheid se skuld! Liewe kind, ek wens jou sterkte en genesing toe. Mag God vir jou, sowel as alle Suid-Afrikaners wat eerlik, opreg en Godvresend is, uitkoms bring. Ongeag enige velkleur….

Anita ·

Ons laai gewoonlik nie mense op nie, maar nou die dag het ons ‘n (baie ordentlike) boerseun opgelaai en gehelp tot by die Jhb stasie, sodat hy eerder met die trein kan ry ipd om te ryloop. Waar is sy ouers, vra ek toe. Hulle is dood en hy is alleen. Soms kan dit nie anders nie. Ek bekommer my oor die jongman – hoop dat hy darem veilig by sy bestemming aangekom het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.