Shenan Cochrane, ondervoorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê die meisie was Dinsdagaand alleen by die huis in die area van die Avianto Estate aangesien haar ma nog by die werk was. “Sy het op die bed gelê toe vier aanvallers skielik in die kamer was. Sy het van die bed af gerol sodat sy tussen die bed en die muur gelê het.”
Volgens Cochrane is nege skote afgevuur waarvan sewe die meisie in die bolyf getref het. “Volgens haar ma is sy daarna ook erg aangerand. Hulle het haar na die kluis gesleep en sy is gedwing om dit oop te sluit.” Die verdagtes het met elektroniese toerusting, juwele en ʼn .38 Special-rewolwer wat in die kluis was gevlug.
Jarques Treptow, eienaar van die Drift Reaction-veiligheidsmaatskappy, het gesê die meisie se ma het sowat 30 minute later tuisgekom en haar dogter in ʼn plas bloed aangetref. “Sy was skaars lewend en haar ma het die nooddienste en polisie ontbied.”
Volgens Cochrane is die meisie is eers na die Pinehaven-hospitaal gehaas voor sy na die Milpark-hospitaal oorgeplaas is.
“Sy het vandag ʼn noodoperasie ondergaan waartydens ʼn aar uit haar been verwyder is om die skade in een van haar arms te herstel,” het Treptow gesê.
Cochrane het gesê dit is ongelooflik dat die meisie oorleef het.
Kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig en gesê meer inligting sal later bekend gemaak word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
19 Kommentare
En wie moet bedank word ? Baie sterkte , hoop jy herstel 100% en wys die skuldiges uit .
Geen woorde.
Ek het nie woorde nie………sterkte meisiekind…….ek bid dat jy volkome herstel……….
Dink iemand nog hulle breek in omdat hulle honger is? Ek hoop die arme kind kom reg..
Ek kan nie glo wat ek lees nie, waaragtig!!! Mag sy ten volle herstel en geen skade oorhou nie.