Meisie (16) dood in bed gevind: ‘Sy was vir my geleen’

Cora-Lee Jansen van Vuuren. Foto: Facebook

ʼn Gebroke ma van Alberton worstel met talle vrae nadat sy haar 16-jarige dogter vroeër vandeesmaand dood in haar bed aangetref het.

Cora-Lee Jansen van Vuuren (16), ʼn gr. 11-leerder aan die Hoërskool Marais Viljoen, se ma, Aileen, het die oggend van 12 Maart op haar dogter se liggaam afgekom. Daar was geen ooglopende merke aan Cora-Lee se liggaam of enige aanduiding wat die oorsaak van haar dood kon wees nie.

Aileen vertel dat Cora-Lee ook nie voor haar dood siek was of gekla het dat sy sleg voel nie. “Cora-Lee het die vorige dag, ʼn Saterdag, ʼn hokkiewedstryd gespeel. Ek kon nie gaan kyk nie omdat een van my jonger kinders siek was en ek by haar by die huis moes bly. Maar ek het later gehoor Cora-Lee het ʼn fantastiese wedstryd gehad en uit haar hart gespeel,” het Aileen vertel.

“Sy het nog die middag by die huis gekom en gesê sy het tydens die wedstryd haar knie bietjie seergemaak, maar sy kon klaar nie wag om terug op die hokkieveld te kom nie. Sy was so toegewyd en was vasbeslote om die beste hokkiespeler te wees wat sy kon wees.”

Omstreeks 22:00 daardie aand het Cora-Lee vir Aileen en haar man naggesê en gaan inkruip. Toe Aileen die volgende oggend na Cora-Lee se kamer is om haar wakker te maak, het sy die skokontdekking gemaak.

“Ek het by haar kamer ingestap en sy het gelê soos sy altyd gelê het as sy slaap. Ek het gesien die kleur van haar gesig lyk nie reg nie en toe ek aan haar voel, was haar gesig yskoud. Haar handjies was ook styf … ek het dadelik geweet sy is weg,” sê Aileen.

Cora-Lee Jansen van Vuuren. Foto: Facebook

Aileen het hulp ontbied en binne ʼn paar minute was lede van die plaaslike buurtwag, polisiebeamptes en paramedici op die toneel. Daar was egter niks wat vir Cora-Lee gedoen kon word nie en sy is op die toneel dood verklaar.

ʼn Nadoodse ondersoek is gedoen om die oorsaak van haar dood te bepaal, maar Aileen wag steeds op die uitslae. “Ek weet wel dat ʼn bloedtoets wat gedoen is, gewys het daar was geen alkohol, dwelms of medikasie in haar bloed nie,” sê sy. “Al wat ek dink, is dat die Here haar nodig gehad het en haar kom haal het,” sê sy hartseer.

“Ek is nie kwaad vir die Here nie. Ek kan nie wees nie. Ons tyd is nie sy tyd nie. Dit voel vir my asof ek aan ʼn engel geboorte gegee het en sy was net 16 jaar vir my geleen, voordat die Here haar weer kom haal het.”

Aileen sê sy vind bietjie vertroosting in die feit dat Cora-Lee haar hart vir die Here gegee het en ʼn selferkende kind van God was. “Maar ek sal altyd wonder [oor haar dood]. Ek wens dit nie eens my grootste vyand toe nie.”

Sy weet ook nou hoe geliefd Cora-Lee was. “Sy was ʼn regte go-getter wat haar lewe voluit gelewe het. Dit is wat ek altyd van haar sal onthou. Sy het nooit regtig kwaad geword of ʼn wrok gekoester nie. Sy was net ʼn stralende kind wat mense se lewens aangeraak het sover sy gegaan het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

JJ ·

Sterkte aan die familie! Sy was n pragtige jong dame, sterkte.

A ·

Dit moet verskriklik erg wees. Baie sterkte, ek hoop julle vind vertroosting.

flip ·

Ai dit is so hartseer om dit te lees
Sterkte aan die familie. Mag die Here julle troos in die moeilike tyd.

Lollie ·

So hartseer verhaal. Ja ons kan nie vra waarom? nie. Mag julle vertroosting vind. Ek het ń jong dogter en ek kan my lewe nie dink sonder haar nie. Sterkte!

arie ·

Kom ons glo dat Cora-Lèe se ouers weet dat ons in onse harte vir.haar voel en dan weerhou ons onsself om te dweep met meegevoel uitinge
Haar ouers sal in alle waarskynlik heid nie jul mee gevoel uitingeeeee te lees kry nie.
Let op Ek is nie hartvogtig teenoor haar ouers nie en as ek hulle persoonlik geken het sou my me dele uit my hart gekom het.
Maar ek wil nie daarmee dweep sodat ander mense my kan SIEN nie.

Lizelle ·

Vir hierdie gesin het die wereld se gemaal tot stilstand gekom… niemand hier dweep nie- ons is almal gewone mense wat saam met hierdie mense tot stilstand geruk is…dankbaar om ons eie kinders ‘n drukkie en soen te gee wat ons baie maal nalaat in die drukgang van die lewe. ons huil en treur saam, ons bid en smeek dat hierdie tragedie ons gespaar sal bly….baie van ons met struwelinge, wanhoop en vrees vir ons eie kinders. Empatie, nie dweep nie. God is Almagtig….

Lizelle ·

Uit die gemaal van die lewe is hierdie gesin tot stilstand geruk… Die stilte oorverdowend- die seer onbeskryflik. Niemand hier wat dweep nie-net ‘n stille gemeenskap wat in eenheid respek, empatie en ondersteuning betoon. God is Almagtig-Hy sal troos, hierdie lewe laat jou nooit toe om te vergeet of te herstel van die pyn nie- Hy gee jou die toerusting om wel daarmee saam te leef. Weer te lag, te lewe, maar hier in ons diepste herlewing, harte, herinneringe- hier leef sy voort. Haar stem, lag, karakter- sy sal nooit tot niet gaan in ons diepste wese-daar waar ons haar gaan soek, praat en selfs voor ons geestesoog sien nie. Jonk vir altyd….

Lizelle ·

Arie- dweep….nee. Empatie, medelye, innige simpatie- niemand hier het enige verwagtinge dat ons boodskappe deur die familie gelees word nie. ons voel, is stom, harte seer vir ons naaste. ons het of het nie kinders nie- ongeag-staan saam as ‘n eenheid met haar familie, geliefdes….Vir EEN oomblik word die gejaag van die lewe stil….ons kniel en ons bid en ons smeek-trek ons eie kinders nader – drukkie en soen -en dank God vir ons eie seeninge….Vra God om asseblief vir hierdie familie die genade en krag te gee om hul verlies te verwerk. Jy vergeet nooit, maar jy leer om met die seer te “cope”…..

Lizelle ·

Arie- dweep….nee. Empatie, medelye, innige simpatie- niemand hier het enige verwagtinge dat ons boodskappe deur die familie gelees word nie. ons voel, is stom, harte seer vir ons naaste. ons het of het nie kinders nie- ongeag-staan saam as ‘n eenheid met haar familie, geliefdes….Vir EEN oomblik word die gejaag van die lewe stil….ons kniel en ons bid en ons smeek-trek ons eie kinders nader – drukkie en soen -en dank God vir ons eie seeninge….Vra God om asseblief vir hierdie familie die genade en krag te gee om hul verlies te verwerk. Jy vergeet nooit, maar jy leer om met die seer te “cope”…..

Lizelle ·

Arie- jy is die enigste persoon wat nou rerig onvanpas klink. Te midde van die gejaagdheid in die wereld het ‘n Mamma, Pappa, grootouers, broers, susters en ‘n hele familie se bestaan tot ‘n stilstand gekom. ‘n Hartklop is weg, harte daarmee saam…. Ons medelye, empatie en gebede saam met elke mens wat haar met siel en asem liefgehad het,,,,

CR ·

Aai,so jammer. Jy is n sterk persoon. Jy ken God en jy weet….baie sterkte

Marie Visser ·

Aileen, ons innige simpatie, ons bid jul vertroosting, sterkte in Christus en berusting toe.

Sarie ·

As moeder & Ouma, raak so_iets mý baie diep. Mens het God & mense wat waarlik omgee nodig in sulke tye….

Louise van Lelyveld ·

Ek is so jammer om van jul verlies te hoor. My seun is 4 jaar gelede ook so skielik oorlede. Die bevinding was dat hy longontsteking gehad het. Dit was vir ons net so groot skok. Hy sou vandag 26 jaar oud geword het. Rou so lank as wat jy wil. Moenie dat ander vir jou voorskryf nie. En nee pille verdoof net die pyn so moenie daarop staatmaak nie. Hou eerder vas aan ons Vader Jehovah. Net Hy kan vir jul krag gee deur hierdie moeilike tyd wat voorlê.

Erika ·

Baie jammer vir jul verlies. Dis hartseer om so jongmens aan die dood te moet afstaan. Kinders moenie voor hul ouers gaan nie, maar so gebeur die lewe. Hoop jul vind berusting en troos.

Ronnie ·

Dis so ‘n mooi meisie! Ek is jammer vir die familie, mag julle altyd met ‘n glimlag terugdink aan haar. Ek glo die lykskouing sal die ware rede vir haar dood uitwys. Maroela, sal julle ons asseblief op die hoogte hou?

DPJ ·

Mag God julle ryklik vertroos in die skadu uur.
Nou sien ons in ‘n spieël en ‘ n raaisel maar eendag van aangesig tot aangesig.

T ·

Innige meegevoel aan die Familie. Stem saam met Suzie. Ai party mense darm!

Carla ·

Ek weet hoe hartseer dit is! Een van my vriendinne met wie ek op n kamp n kamer gedeel het is so 2 weke terug oorlede in haar slaap. Sy het n eleptise aanval gekry. My gebede is saam julle en weet net Jesus is by julle en all we need is faith!!!*

CHF Survivor ·

Die rot het n naam. Cardiomyopathy – Kroniese Hartversaking, disease of heart muscle… Ek sal weet want ek is een van die min oorlewendes wat betyds gediagnoseer is. Waarom dink u slaan so baie sportsterre onverwags dood neer op sportsgronde… Want n gewone griep of verkoue kan jou hartspiere aantas en onwetende verswak jou hartgeleidelik tot dit finaal ‘ingee’ en jy n hart stilstand ervaar…

Jean ·

Dit is seker die grootste skok wat ‘n ma kan kry om haar dogter een oggend wakker te maak en agter te kom sy is (onverwags) oorlede. RIV en so jammer vir die familie .. dit kon ‘n aneurisme, bloedklont, hartaanval enigiets gewees het, ons kan net spekuleer, baie sterkte aan die res van die gesin.

Pieter ·

God maak nie mense dood nie. Hy het juis vir hulle aan die kruis gesterf. Hoe sal God wat jou troos, dan die hartseer veroorsaak?

Elma ·

Amen Pieter, wens almal wil dit besef.

Sterkre aan haar ouers en familie.

Louise Oosthuizen ·

Bitter hartseer storie. Cora-Lee was saam met my kinders op skool, en in katkisasie by ons kerk. Aileen, bly net rustig met die gedagte dat sy haar hart vir die Here gegee het. Jy het baie mense wat omgee, en jou sal troos in hierdie tyd van rou. Maar jou grootste vertrooster bly God. Die hemel skyn nou nog helderder met jou sonstraal-meisiekind se pragtige glimlag daar! XXX

Seugnett ·

God kan mense been, Hy se Dan vir Ons, huil en treur met geboorte en jubbel met die dood. Sterkte aan die familie. God Sal jul wel die antwoorde voorsien.

Seugnett ·

God kan mense neem. Hy se Dan vir Ons, huil en treur met geboorte en jubbel met die dood. Sterkte aan die familie. God Sal jul wel die antwoorde voorsien.

Elize C ·

Ai hoe word ou wonde nou weer oopgekrap. My seun is 25 jaar gelede dood in sy bed gekry. Dank die Vader dit was nie EK wat op hom afgekom het nie. Hy was op die oog af ‘n blakend gesonde 19-jarige seun met die wêreld se drome voor hom. Hy kon nie wag vir sy afspraak die volgende week vir ‘n onderhoud om as ‘n hotel-bestuurder opgelei te word nie. Die na-doodse ondersoek het bevind hy het in sy slaap gesterf agv algehele orgaan-stilstand na aanleiding van ‘n hart-disritme. Niemand was ooit bewus daarvan dat hy enige hart-probleem gehad het nie. Hulle het hom ook gekry presies in die posisie soos ek weet hy altyd gaan slaap het. So iets is ‘n geweldige skok. Baie, baie sterkte aan hierdie gesin en familie.

Amelia ·

Mag ons Hemelse Vader julle as familie,styf in Sy arms vashou….xxx

Nicoleen ·

Aileen en gesin sy is so pragtige engel gewees en is nou by Jesus,sy sal altyd voortleef in jul harte en herrinneringe tot jul weer saam loop. Sterkte.

Ronel ·

My eñige meegevoel aan die familie. Jesus sal julle vertroos in die hartseer tyd.

William van der Merwe ·

Is this not to do with the recent discovery of the gene that causes sudden unexpected deaths in young athletes. The heart should have been removed for further investigations. For further information contact the Hatter Institute at the University of Cape Town.

PJN ·

Bloot die feit dat hierdie pragtige jong kind haar hart vir die Here gegee het, is dit die troos dat sy in hemelse plekke sit waar geen pyn, smart en moeite meer is nie. Troos julle met die feit dat alle gelowiges eendag saam met haar vir ewig in die Koninkryk van God sal deurbring. Nou op aarde mag ons huil oor ‘n geliefde wie se plek leeg is, maar ons huil nie soos mense wat geen hoop het nie.

Sterkte aan die familie en vriende.

Penelope ·

Dis so tragies. Baie sterkte aan die hele familie. Mag God jul vertroos in hierdie moeilike tyd.

Will ·

Sekerlik die diepste verlies wat mens kan ervaar is om ‘n kind, so jonk en voortydig, aan die dood af te staan. Innige meegevoel en baie sterkte vir die familie en vriende. Julle is in die gebede van talle mense wat julle nooit sal ontmoet nie, maar deur julle hartseer verlies saamgebind word.

Nicolene ·

Dit is vreeslik. Innige simpatie vir die families. Hulle moet ondersoek instel en uitvind of sy die HPV spuit gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.