Meisie (16) glo tydens aanval ontvoer

Argieffoto: SAPD

ʼn Sestienjarige meisie is glo Maandag in die vroeë oggendure ontvoer toe gewapende aanvallers op haar ouerhuis in ʼn plattelandse gebied naby Fort Beaufort in die Oos-Kaap toegeslaan het.

Die tiener is egter ʼn ruk later gevind saam met die voertuie wat tydens die aanval gesteel is. Maroela Media verneem sy is ongedeerd.

Bitter min inligting is in die stadium bekend. Johandre van Zyl, AfriForum se streekshoof van gemeenskapsveiligheid in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, het aan Maroela Media gesê die aanval het blykbaar omstreeks 04:30 plaasgevind.

Dit is nie duidelik of die aanval op ʼn plaas of ʼn kleinhoewe was nie, maar dit was in die Doornkloof-gebied ongeveer 50 km van Fort Beaufort af.

Volgens Van Zyl was tussen vyf en ses gewapende aanvallers by dié voorval betrokke. Twee voertuie, ʼn vuurwapen en selfone is tydens die aanval gesteel.

Die tienermeisie is ook deur die aanvallers ontvoer voor sy later weer gevind is. Van Zyl wou nie bekendmaak waar die meisie gevind is nie aangesien dit die ondersoek na die voorval kan belemmer.

Dit is nie tans bekend of enigiemand anders tydens die aanval beseer is nie.

Kapt. Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, het die aanval aan Maroela Media bevestig, maar wou nie onmiddellik meer inligting bekendmaak nie. “Ons span ondersoekers is tans op die toneel besig. Die voorval is nog baie vars, so ons beamptes is nog besig om die presiese feite vas te stel,” het hy gesê.

Tonjeni het gesê die polisie sal later meer inligting oor die voorval bekendmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Taktiek ·

Dis n bekende intimidasietegniek. Laat die buiteland weet en vir ons hulp gee.

Wilbert ·

Almal se altyd, laat die buiteland weet. Wat moet die buiteland doen? Buiteland kan net sanksies teen Suid-Afrika and inbring. Dit beteken nog slegter rand, nog duurder alles. Minder beleggings. Nog meer armoede. En die buiteland weet wat aangaan. Suid-Afrika moet sy eie probleme oplos. Zimbabwe is ‘n goeie voorbeeld wat sanksies doen…. Niks bly oor wat goed is nie.

AI TOG ·

@Wilbert en hoe sou jy voorstel moet Suid Afrika sy eie probleme oplos, wanneer dit een van die geweldadigste lande ter wereld is, die rand in sy maai in is, alle vlakke van dienslewering nie bestaan nie ens. Dit terwyl die regering n blinde oog draai? Miskien het jy die oplossing, want van waar ek sit, kan die buiteland net help!!!

Vraag ·

Glo ontvoer – of wel ontvoer.
Wat is die waarheid?
Glo of wel? Indien dit ‘wel’ is is ek bly sy is veilig en hoop die dogter en gesin verwerk die trauma.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.