Meisie (16) in hof oor baba se ontvoering

Die babaseuntjie wat vermis was. Foto: Verskaf deur SAPD

ʼn Tweede verdagte is Maandag vasgetrek in verband met die ontvoering van ʼn drie maande oue baba wat op 5 Julie by ʼn huis in Lamontville, suid van Durban, gevind is nadat hy byna ʼn maand vantevore ontvoer is terwyl sy ma geslaap het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 16-jarige meisie is Maandag in Phungulastraat in Lamontville vasgetrek.

Die meisie het Dinsdag in die Umzumbe-landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering. Die saak is uitgestel tot 16 Julie. Volgens Zwane is die meisie in haar ouers se sorg vrygelaat.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 21-jarige man is vroeër in die V-gedeelte van Umlazi in verband met die saak in hegtenis geneem.

Hy het Maandag sy tweede verskyning in dieselfde hof gemaak en sy saak is óók uitgestel tot 16 Julie wanneer hy na verwagting sal aansoek doen om borgtog.

Die baba het op 2 Junie in Hibberdene vermis geraak. Volgens Zwane het die ma met haar seuntjie langs haar geslaap, maar toe sy wakker word, was die kind skoonveld. Terwyl die ma geslaap het, het vriende van die gesin, ʼn man en ʼn tienermeisie, by die huis gekuier. Die polisie was daarna op soek na die man omdat hulle gemeen het hy kan hulle in hul soektog na die baba bystaan.

Zwane het aan Maroela Media bevestig die 16-jarige wat vasgetrek is, is die einste meisie wat daardie dag by die huis teenwoordig was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SoosDitIs ·

Die kind is dan nog nat agter die ore! Waarvoor sal sy die baba wil ontvoer? oh nee, die wereld is besig om vinnig agteruit te beweeg…

Poppie ·

Dankie Vader dat die Kleintjie ongeskonde teruggevind is. Ek het al begin dink hy is vir moeties ontvoer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.