Meisie (2) geopereer nadat kobra haar pik

Anina voor die operasie.

Anina voor die operasie.

Daar lê nog ʼn lang pad voor vir die tweejarige Anina Mostert wat vroeër vandeesmaand deur ʼn Kaapse kobra in die gesig gepik is.

Anina is Donderdag geopereer nadat die slangbyt ʼn abses gevorm het. “Die abses moes gedreineer word en ons versorg nou net die wond. Die wond bly oop en word elke dag skoongemaak. Dit gaan later vanself toe,” het Benita, Anina se ma, gesê.

Anina is intussen terug by die huis nadat sy Vrydag ontslaan is. “Hopelik is dit dan nou die laaste van ons nare episode. Emosioneel en sielkundig lê daar nog ʼn pad voor. Sy sukkel met nagmerries en sal so gou moontlik met terapie begin.”

Volgens Benita vat hulle dit dag vir dag. “Die dokters gee nie baie antwoorde nie aangesien dit nie ʼn alledaagse verskynsel is nie. Maar dit gaan baie goed. Die swelling het mooi gesak en sy speel en lag weer soos haar ou self.”

Maroela Media het vroeër berig Benita en Anina het op 4 Februarie ʼn middagslapie geneem in hul huis op ʼn plaas buite Citrusdal. Hulle het sowat ʼn uur geslaap toe Anina skielik gegil het. Pa Gert was in ʼn ander vertrek en het dadelik daarheen gehardloop. “Hy het op die bed by Anina gesit en gesien hoe glip die slang onder haar kussing uit.”

Anina na die operasie.

Anina na die operasie.

Die egpaar het Anina onmiddellik in die bakkie gelaai en na die hospitaal op die dorp gejaag. “Die hospitaal is baie naby. Anina het egter in my arms ophou asemhaal nog voordat ons by die hospitaal was.”

Anina is onmiddellik in die hospitaal opgeneem en aan lewensondersteunende apparaat gekoppel. Dokters het ʼn teengif toegedien en Anina is gestabiliseer.

Gert is intussen terug plaas toe om die slang dood te maak. Hy het die kamervenster en deur toegetrek voordat hulle met Anina hospitaal toe gejaag het. “Die slang was sowat 1,2 m lank. Toe Gert weer tuis kom, moes hulle omtrent eers die kamer omkeer voordat hulle die slang in ʼn laaikas gevind het.”

Anina is later die middag per helikopter na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas waar sy in die pediatriese intensiewe sorgeenheid opgeneem is. “Die dokters kan steeds nie glo sy het dit gemaak nie.” Anina is toe na die hoësorgeenheid oorgeplaas.

Anina vier Dinsdag haar derde verjaardag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Engelbek ·

Dankie aan al die mediese personeel wat met hulle wetenskaplike kennis die kindjie kon red. Lekker verjaar.

Cheryl ·

Baie bly om te hoor jys beter pop!!! En mag jy jou verjaarsdag geniet want ek gaan hom saam jou geniet. Die tannie verjaar saam jou!!!

Anna-Marie Evans ·

Dit is só ‘n kommerwekkende geval, opreg dankbaar dat Anina tuis is en dat die swelsel sak. STERKTE
Baie geluk met 3e verjaardag.

Dawie en Corrie ·

Ons is dankbaar dit gaan goed met jou Anina. Sterkte vorentoe. Jy en jou Mamma en Pappa is in ons gebede. Geniet jou verjaardag!

Willemien ·

Sterkte; baie bly dat jy soveel beter is. Lekker verjaar! ???

Dankbaar ·

Dankie Vader God dat U hierdie kind vir haar ouers gespaar het!!

Desiré ·

In geval van kobra pik behoort ouers
mond tot mond asemhaling (sonder borskompressies) te doen tot hul kindjie veilig by die hospitaal is.

dirwou ·

So bly dit gaan goed en onthou slange byt net as hulle vasgekeer en bang is Daar is darem nie altyd slange oral nie
Van almal in Wolmaransstad verjaar lekker en alle seen vir die toekoms

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.