Meisie (8) ‘omvou deur liefde’ ná gesinslede sterf

ʼn Gedenkdiens vir Frank, Celesté en Franko Streicher is Saterdag (13 Mei 2017) gehou. Foto: Facebook

Lua Streicher, die agtjarige meisie van Phalaborwa in Limpopo wie se ouers en broer op 6 Mei in ʼn motorongeluk gesterf het, word sedert die tragedie “deur liefde omvou”.

Maroela Media het vroeër berig Frank (41), Celesté (40) en Franko Streicher (6) en Lenisè Janse van Vuuren (19) is dood nadat die voertuig waarmee hulle gery het op die R71 naby Gravelotte reg van voor teen ʼn vragmotor gebots het. Janco Oberholzer (6), wat ook in die motor was omdat hy saam met sy maatjie, Franko, wou ry, is ten tyde van die ongeluk uit die voertuig geslinger. Lua (8) was nie ten tyde van die ongeluk in die voertuig nie.

Lua is sedert die ongeluk in haar ouma, Herna Streicher, se sorg. Herna het Maandag aan Maroela Media gesê dit gaan in die omstandighede “uitstekend” met Lua. “Sy is ʼn sterk dogtertjie. Dit was Saterdag [Frank, Celesté en Franko se] gedenkdiens en sy was Donderdag en Vrydag skool toe. Sy is vanoggend weer skool toe en is heeltemal voorbereid vir die mondeling wat sy vandag moet doen. Vanmiddag het sy weer netbaloefening. Dit gaan regtig goed met haar,” het sy gesê.

Lenisè Janse van Vuuren (19), ʼn leerlingonderwyser van Laerskool Phalaborwa (Groenskool), het ook in die ongeluk gesterf. Foto: Facebook

“Lua word so omvou deur almal se liefde en die hele Phalaborwa-gemeenskap was so ongelooflik ondersteunend sedert die ongeluk.”

Laerskool Phalaborwa (Groenskool) het die afgelope naweek op die skool se amptelike Facebookblad foto’s van die gedenkdiens gedeel wat Saterdag vir die Streicher-gesin gehou is. Celesté was ʼn onderwyseres by die skool en Franko ʼn gr. R-leerder. Janse van Vuuren was ʼn leerlingonderwyseres by die skool. Cornel Oberholzer, Janco se pa, is ook ʼn onderwyser by die skool.

ʼn Gedenkdiens vir Janse van Vuuren is Vrydag in Phalaborwa gehou.

Oberholzer het verlede week aan Maroela Media gesê Janco is in die waakeenheid van Mediclinic Tzaneen opgeneem ná die ongeluk. Hy het erge harsingskudding en ʼn snywond aan sy kop opgedoen en sy arm gebreek. Volgens Oberholzer het Janco gelukkig nie bloeding op sy brein opgedoen nie, maar was sy brein wel geswel ná die ongeluk.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het kort ná die ongeluk aan Maroela Media gesê ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

al ·

So jonk en het alreeds so baie verloor. Ek hoop dat haar toekoms ekstra seëninge sal ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.