Meisie dalk deur halfbroer ontvoer

Mabareki Carlifonia Molamodi (Foto: Verskaf)

Die polisie is op die spoor van ʼn man wat moontlik verbind kan word met die verdwyning van ʼn agtjarige meisie in die Zangoma-nedersetting, digby Tzaneen in Limpopo. Die man is die agtjarige meisie se halfbroer.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die meisie is Maandagmiddag laas saam met haar halfbroer, Fanuel Makhubele, deur lede van die gemeenskap gesien. Hulle het na ʼn nabygeleë winkel gestap.

Mabareki is eers Dinsdag as vermis by die polisie aangemeld.

Mojapelo sê Mabareki is die dag in ʼn familielid se sorg gelaat nadat haar ma werk toe gegaan het. Haar ma werk glo op een van die plase in die omgewing.

“Die familielid het na bewering gaan water haal om Mabareki te bad. Toe sy terugkeer, was die meisie skoonveld,” vertel Mojapelo.

Makhubele het later glo lede van die gemeenskap vertel dat sy suster deur ʼn onbekende aantal mans in ʼn Toyota Quantum ontvoer is.

Die polisie kon Makhubele egter sedert die ontvoering nie in die hande kry nie, aangesien albei sy selfone afgeskakel is. “Die polisie soek hom om meer lig te werp op waar die agtjarige moontlik kan wees,” sê Mojapelo.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris van Limpopo, het die streekskommissaris opdrag gegee om dringend ʼn taakspan te vestig om die meisie op te spoor.

“In ons stryd teen geslagsgebaseerde misdaad moet daar vinnig opgetree word, veral in voorvalle soos hierdie. Ons doen ʼn beroep op lede van die gemeenskap om die polisie in hul soektog by te staan,” sê Ledwaba.

Enigiemand met meer inligting oor waar Makhubele of Mabareki hulle bevind, kan kol. Cecil Machimani by 082 451 7181 of die polisie se misdaadnommer by 0860 010 111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

lollapot ·

Mabareki ek bid dat jy veilig en ongeskaad gevind sal word!

ES ·

So hartseer, ek dink ons almal weet waartoe hierdie gaan lei… en al wat die President gaan se is dat hy dit ten sterkste “veroordeel”. Maar niks word daaromtrent gedoen nie.

Tragies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.