Meisie met seldsame sindroom sterf

Ontlametse Phalatse. Foto: Instagram.

Ontlametse Phalatse, wat aan progerie (die sogenaamde oumenssiekte) gely het, is oorlede.

Hendriette Bogopane-Zulu, adjunkminister van maatskaplike ontwikkeling, het die nuus bevestig.

“Dit is met groot hartseer dat ons die afsterwe van Phalatse aankondig, mag haar siel in ewige vrede rus,” het Bogopane-Zulu gesê.

Dokters het nie gedink Phalatse van Hebron buite Mabopane in Pretoria sou haar 14de verjaardag beleef nie, maar ten spyte daarvan het sy verlede maand haar 18de verjaardag gevier. Sy het ook haar matriek voltooi.

Phalatse was een van twee jong vroue in Suid-Afrika wat met ʼn baie raar genetiese afwyking, Hutchinson-Gilford-progeriesindroom, algemeen bekend as progerie, gebore is. Progerie behels versnelde veroudering.

Volgens ʼn verklaring is Phalatse in die George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa in Pretoria dood ná sy asemhalingsprobleme ondervind het.

“Die dokters het alles in hul vermoë gedoen om haar te red, maar dit was tevergeefs. Haar ma, boetie, familielede en vriende was by haar.”

Ontlametse Phalatse. Foto: Instagram.

Volgens die verklaring sal reëlings vir die begrafnis gedurende die week bekend gemaak word.

Dit was Phalatse se droom om ʼn motiveringspreker te word. Sy het verlede maand, as deel van haar kluitklaplysie, vir pres. Jacob Zuma besoek. Sy wou graag die president ontmoet voor haar 18de verjaardag.

Pres. Zuma het gesê dit was vir hom ʼn eer om haar te ontmoet en dat hulle haar siekte bespreek het. Hy het glo onderneem om haar by te staan met onder meer vervoer en ʼn huis vir haar familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

Jammer om te hoor van haar en simpatie aan die familie en vriende.

Hou van kluitklaplysie! (“bucket list”)

AL ·

Definitief n meisie met deursettingsvermoe. RIV en sterkte aan haar gesin.

Liza ·

Dapper meisie….Sterkte aan haar familie en vriende…. rus in vrede Ontlametse…. jy is veilig nou…

Jolene ·

Welgedaan dapper meise, rus in vrede!! Wat my egter bekommer is ons land is in rommelstatus maar daar is geld om vir die meisie se ouers n huis en vervoer te koop(ondersteun soos in die rubriek)? Hoe werk dit?

Ken2 ·

Rus in vrede en sterkte aan haar familie. Dit is jammer dat die zuma ANC probeer munt slaan met haar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.