Meisie ook vas ná Centurion-aanval

Ruan van Heerden (Foto: Facebook)

ʼn 17-jarige meisie is Maandagaand in Waterkloof, Pretoria, in hegtenis geneem in verband met die aanval op ʼn egpaar van Centurion.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het gesê die meisie sal Dinsdag in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord en die gebruik van ʼn voertuig sonder die eienaar se toestemming.

Dít volg nadat Barnie en Magda van Heerden, onderskeidelik 54 en 49 jaar oud, Vrydag in die vroeë oggendure in hul huis in Pierre van Ryneveld oorval en met ’n skerp voorwerp aangerand is.

Volgens Peters het die egpaar se seun, Ruan van Heerden (18), Maandag in die Pretoriase landdroshof verskyn in verband met die aanval. Hy staan tereg op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en motordiefstal.

Die egpaar het albei verskeie steekwonde tydens die voorval opgedoen. Barnie kon daarin slaag om die egpaar se huishulp te roep, wat op haar beurt hulp ontbied het. Die egpaar is na ’n hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Ruan is ure ná die voorval in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap in hegtenis geneem.

ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat Ruan en die meisie na bewering die egpaar oorval en aangerand het.

Die twee verdagtes het daarna glo in Barnie se voertuig op die vlug geslaan. Dié voertuig is ure later verlate naby Tembisa opgespoor. Dit is nog onbekend wie die meisie is of hoe sy verwant is aan Ruan en sy ouers.

Stiaan Bekker, woordvoerder van die familie, het vroeër aan Maroela Media gesê Magda het ernstige beserings in die voorval opgedoen en is in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal opgeneem.

“Albei sterk goed aan, maar emosioneel is dit vir hulle moeilik. Die polisie is besig met hul ondersoek en die proses moet sy loop neem,” sê Bekker.

Bekker en Barnie is sakevennote by Veritas Eksekuteurskamers SA Edms. Bpk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
emily

SIES, Dit ook seker alles vir geld, As hulle kan optree soos grootmense laat hulle tronk toe gaan, Sommer lewenslank.
Hoe lank gaan misdaad nog seevier in die land.
Sies vir julle.

jennefer

Jou eie kind!

Seemonster

Dwelms?

Lizelda

Ja, @Jennefer jou eie kind! Dit moet baie baie traumaties wees, maar ek lees op n ander voorblad die seun het al by sy ouers gestee, so dit is defnitief dwelms. Maar dit is hartseer… Sterkte vd ouers.

Willie

Dis regtig so hartseer, en SA draai n blinde oog vir die dwelm handelaars… Wetstoepassers is gewoonlik ook betrokke…