Meisie oorleef wonderbaarlik na weerlig haar tref

Tessa Erasmus (Foto: Verskaf)

“Die dokters glo dit is ’n wonderwerk dat sy so vinnig herstel het.”

Só vertel Norman Erasmus wie se twaalfjarige dogter Vrydag deur weerlig op ’n kleinhoewe by Boschkop buite Pretoria getref is. Sy word hierdie week moontlik al uit die hospitaal ontslaan.

Tessa Erasmus (12) het vroeg die oggend buitentoe gegaan om haar marmotte te voer op die kleinhoewe waar die Erasmus-gesin woon, toe ’n weerligstraal haar tref.

“Ons het net ’n skielike slag gehoor,” vertel Norman. Hy en sy vrou, Gerda, het ’n rukkie daarna hul dogter voor die hok op die grond aangetref. Tessa het op daardie stadium geen polsslag getoon of asem gehaal nie. “Sy was eintlik dood,” het Norman gesê.

Norman het dadelik kunsmatige asemhaling begin toepas. “Ek het geen opleiding om kunsmatige asemhaling toe te pas nie. Al wat ek geweet het, is dat ek enige iets moet probeer en dat ek nie gaan hoop verloor nie.”

Norman se buurman het later ook daar aangekom en Norman gehelp om Tessa op ’n tafel op die stoep te tel. “Ons het haar probeer bybring. Na ’n rukkie het ons ’n flou polsslag gevoel en ek kon hoor hoe sy stadig begin asemhaal.”

Norman en Gerda het Tessa na die Wilgers-hospitaal in Pretoria geneem, waar sy gestabiliseer is. “Haar polsslag, asemhaling, liggaamstemperatuur en bloeddruk het elke uur, en soos gebede ingestroom het, verbeter,” vertel Norman.

Sy is later dieselfde dag na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas, waar sy in die waakeenheid opgeneem is. Sy is later na die hoësorgeenheid geskuif waar sy tans behandel word.

Sy het brandwonde aan die linkerkant van haar lyf en veral aan haar linkerarm en -been opgedoen. Die dokters het Maandag nog toetse gedoen om te bepaal of daar enige ernstige inwendige skade is. “Dit gaan baie beter met haar. Sy kan al haar been en arm buig met behulp van die fisioterapeut,” sê Norman.

Tessa kan glad nie die voorval onthou nie. Volgens die dokters is dit normaal vir ’n kind wat trauma beleef het om die gebeurtenis te vergeet.

Die dokters glo Tessa se vinnige herstel is ’n wonderwerk.

“Sy is ’n baie sterk kind. Sy is drie maande te vroeg gebore en vandaar af is sy nog altyd ’n klein vegtertjie. Sy sien baie daarna uit om weer huis toe te kan kom,” vertel Norman.

Vir Norman het hierdie gebeurtenis hulle as gesin nader aanmekaar gebring asook nader aan God. “God sal jou antwoord as jy Hom aanroep. Hy is getrou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chanel ·

Pragtige dogtertjie, eks bly alles verloop goed. mag dinge net beter gaan, AMEN!

Belinda ·

Ongelooflike mooi storie. Baie sterkte Tessa die Vegtertjie.

Susan ·

In die middel 80tigs het ons in Sasolburg gewoon. Daar was omtrent elke aand donderweer. My man en seun was 1 aand buite om sy speelgoed in te gaan haal toe daar net 1 harde slag was. My seun het plat op die grond gelê en was uit soos ň kers vir soos 5min. Ons het gedink hy is dood. Vandag is hy 40jr oud en nog steeds dood bang vir donderweer. Het eers later besef dat dit net God se genade was dat hy nie dood was nie. Wonder werke gebeur elke dag. So bly sy het niks oor gekom nie.

Danny ·

Wonderlike storie, te midde van soveel aaklige dinge wat ons en ons mense en ons land tref – werk God steeds Sy wonderwerke.. Baie sterkte vir julle as gesin en met die herstelproses. Ons Glo en Vertrou dat die Here se goedheid en guns julle sal bybly!

katerinadiekat ·

Dis wonderlik dat sy oorleef. Dis waar dat vroeggebore babas baie sterk is as hulle oorleef. My oudste dogter is op 28 weke gebore en behalwe vir n neiging tot lae bloedsuiker, is sy gesonder as almal van ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.