Meisie sterf in kwadfietsongeluk: ‘ʼn Engeltjie is gevat’

Karlien Janse van Rensburg. Foto: Facebook.

Renier Janse van Rensburg, die pa van die 15-jarige Karlien Janse van Rensburg wat Saterdag in Nelspruit in Mpumalanga in ʼn kwadfiets-ongeluk dood is, het Dinsdag gesê die traumatiese gebeure het reg voor sy oë afgespeel.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk het net voor 10:00 buite Nelspruit gebeur. Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die kwadfiets het ʼn groot klip getref waarna Karlien van die fiets afgeslinger is. Botha het aanvanklik gesê Karlien was 16 jaar oud, maar Janse van Rensburg het Dinsdag bevestig sy was 15 jaar oud.

Volgens Janse van Rensburg het die gesin al maande lank beplan om ʼn uitstappie in die buitelug te doen, maar het daar elke keer iets voorgeval. “My sussie bly in die dorp en wou bitter graag die natuur ʼn bietjie saam met ons kom beleef. Hierdie langnaweek was toe die perfekte geleentheid,” het hy gesê.

Janse van Rensburg het gesê hy het Karlien ook Vrydagoggend geneem om te gaan jag. ʼn Heerlike gesinsnaweek wat met ʼn vrolike braai sou eindig, het egter ʼn tragiese nadraai gehad.

Janse van Rensburg verduidelik sy suster en Karlien het saam op ʼn groot kwadfiets gery. “Dit is ʼn veilige fiets en Karlien het ook ʼn valhelm aangehad. My vrou se broer het agter hulle gery op my vrou se kwadfiets en ek en my vrou het agterna gery met die bakkie,” het hy gesê. “Ek kan nie eers vir jou sê ons het ge-cruise nie, so stadig het hulle gery. Daar was nie eens stof nie. Ek het nog vir my vrou gesê gelukkig bestuur my sussie omdat hulle so stadig gery het.”

Volgens Janse van Rensburg het die kwadfiets se bestuursarm skielik ingegee en die kwadfiets het skerp na links gedraai. “Die kwadfiets het die enigste klip in die omgewing getref en byna net op sy sy gaan lê. Karlien het met haar kop op die klip geland,” het hy gesê.

Janse van Rensburg en sy vrou, Karen, het uit die bakkie gespring en nader gehardloop. “My kind het in my arms doodgebloei,” het hy hartseer gesê. Paramedici is ontbied maar Karlien is op die toneel dood verklaar.

Janse van Rensburg se suster het kneusplekke opgedoen en haar sleutelbeen beseer en word steeds in die hospitaal behandel. “Ons vermoed sy het harsingskudding ook, maar sy is bewus van die ongeluk. Sy is gebreek. Sy het nie haar eie kinders nie, so Karlien was vir haar ook maar soos ʼn kind. Sy verkwalik haarself.”

Janse van Rensburg sê Karlien was ʼn baie veelsydige kind wat aan verskeie aktiwiteite, van branderplankry tot jag deelgeneem het. “Sy was ʼn grapjas en het ook diep spore by haar skool, Flamboyant, getrap. Sy was ʼn moederhen wat haar altyd oor alles en almal ontferm het. Haar pa se kakiebossie is weg. ʼn Engeltjie is gevat.”

Karlien was die Janse van Rensburg-egpaar se enigste kind. Sy is Dinsdagoggend veras en die familie sal Vrydagmiddag om 14:00 vir haar ʼn gedenkdiens hou. “Ons wil hê die kinders moet eers klaar eksamen skryf sodat haar maats ook kan kom,” het Janse van Rensburg gesê.

Kapt. Dawie Pretorius, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

KOOS ·

Ai, so jammer vir almal wat betrokke was. Dit was ‘n doodgewone tragedie en geen vingers hoef nou gewys te word nie. Dit was ‘n ongeluk. Aan Karlien se tannie, God het haar tyd bepaal die dag toe sy gebore was, dit was nie jou skuld gewees nie, ek bid vir jou vir vrede, want dis baie swaar. Dit was Karlien se tyd om te verhuis en nie jou skuld nie. Baie sterkte

Liza101 ·

Ek kon dit nie beter stel nie Koos. Dit is so tragies en beslis niemand se skuld nie. Baie sterkte aan hierdie familie wat agter bly. Innige simpatie.

Christa ·

Ek stem ongelukke gebeur. Almal se begin en eindtyd is bepaal. Jy kn ni oor dai streep gn. Elkeen se hoofstuk is geskryf in di Boek. My innige meegevoel. Di seer sal altyd daar wees maar hou vas aan God.

Christa ·

Ek stem ongelukke gebeur. Almal se begin en eindtyd is bepaal. Jy kn ni oor dai streep gn. Elkeen se hoofstuk is geskryf in di Boek. My innige meegevoel. Di seer sal altyd daar wees maar hou vas aan God. Jul ht jul tyd saam geniet.

Marisa ·

My innige simpatie! Niemand kan geblameer word nie. Sterkte aan almal wat geraak is deur die ongeluk.

Susan ·

Ons innige simpatie met die ouers, familie en vriende. Slegte dinge gebeur ook met goeie mense. Niemand se skuld nie. Net ‘n ongeluk.

LB ·

My innige simpatie aan hierdie gesin…
Die rede waarom ek verskriklik bang is vir ‘n kwadfiets is dat wanneer jy ‘n ongeluk maak, die ding begin rol en meestal is die mens op die fiets so in skok en gebeur dinge so vinnig dat die bestuurder vashou aan die fiets en saamrol. Ek het ‘n man ‘n ongeluk sien maak, hy het ‘n walletjie in die pad getref teen ‘n taamlike spoed, die fiets het skeefgedraai en die pad verlaat. Hy het ‘n yster paal afgebuig met die inpak teen sy helmet en ‘n verder 25 to 30m gerol waarna hy bly le het met 12 af ribbes, ‘n gat in die long en erge rugbeserings. sy geheue het ‘n knou weg seker weens die harde hou teen die kop. Enige mens kan daardie kwad opklim en ry maar min mense het die vaardigheid of is bewus van die gevare daaraan verbonde. Tragiese gebeure soos hierdie kan hopelik net dien as ‘n absolute bewusmaking vir die res van ons..

Hannes Myburgh ·

LB ek is banger vir motors. Het jy al gesien hoe baie mense gaan in motor ongelukke dood?

Darryl ·

RIP Karlien…vir die wat agterbly
Lukas 12 v 34..”Waar julle skat is..daar sal julle hart ook wees”

Vrede

nhk ·

Innige simpatie aan die familie. Bly om te sien dat daar.nog avontuurlike kinders is. Onthou haar so. Sy spring nou op die wolkies

Kloppie ·

Ouers wat duidelik baie lief is vir hul kind. Hoe mooi van ‘n pa om sy dogter te vat om te jag. Soete herhinneringe…. Ons glo dit is nbir julle net ‘n kwessie van “tot weersiens” wanneer alles weer nuut gemaak sal word deur Hom wat alles in Sy band hou.

oumie ·

Ek wens ek kon julle n drukkie gee en sê als sal oraait wees maar ek weet daar gaan nog baie hartseer en huil wees dit is die lewe en dit is die dood my hart as ouma breek vir julle maar God is Groot Hy sal met tyd vertroosting bring so baie sterkte vir julle almal en karlien se tannie RIV engelkind

Tanya ·

Rus in vrede klein prinses. Mag die Here die ouers vashou en vertroos. Ek weet hoe dit voel om jou enigste kind te verloor. Sterkte.

MissDemeanor ·

Ek lees sy het wel n valhelm aangehad. Dus was niemand nalatig in die opsig nie. Maar ek hou voet by stuk, mense moet valhelms dra as hul deelneem aan aktiwiteite waar daar ‘n risiko vir kopbeserings is.

Mari B ·

Ongelukkig neem mense die dra van ordentlike veiligheids drag in ag nie. Valhelm moet reg pas anders is dit so goed jy het nie een aan nie. Vir sulke redes is die gesegde daar “dress for the slide, not the ride” ek is sterk daarop om te sê ek sal liewers sweet as bloei.. enige quad of MX rit vereis vol toerusting en sal jou lewe tot ‘n groot mate beskerm. Mense dink altyd dis net vinnig, dis net vandag, dis net een keer, alles sal reg wees. Het self al beleef hoe jou klere jou beskerm en was dankbaar ek het daai besluit van dag 1 aangeneem.
Sterkte aan die familie, dis uiters tragies.

Citybug ·

Ai Karlien. Ek ken jou al 4 jaar. Ek onthou nog toe ons daagliks met Citybug Nelspruit julle kinders vervoer het na Flamboyant Skool in Witrivier. Jou stem gaan stil wees my kind. Jy was n pragtige en mooi kind vol woema. Jy gaan gemis word meisiekind. Sterkte aan die ouers, familie en vriende.

Johan Likkewaan ·

So hartseer wanneer ‘n kind geneem word deur God. Die feit dat dit so gebeur het en die enigste klip getref het wys dat Hy besluit het om haar hemel toe te neem, al is dit baie moeilik vir almal weet dit was Sy wil gewees.
Baie sterkte aan die familie en baie jammer vir julle verlies.

Elke Janse van Rensburg ·

Ek ken die seer. Die verlange. Dieselfde verhaal het twee jaar terug in ons lewens afgespeel. Hoe verskriklik vinnig kan die dood so ‘n groot slag slaan. Ons mis ons Elle-Zaan pop so! En ons harte breek vir hierdie familie se seer en verlies. Baie sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.