Meisie verloor been in gru-ongeluk

Foto: ER24

Foto: ER24

ʼn Sesjarige meisie is in ʼn kritieke toestand nadat haar been tydens ʼn gru-ongeluk op die N1 buite Bloemfontein in die Vrystaat geamputeer is.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het op die N1 sowat 20km buite Bloemfontein in die rigting van Colesberg plaasgevind. Volgens Vermaak het ʼn motor omgeslaan en verskeie kere gerol voor dit in ʼn veld langs die hoofweg tot stilstand gekom het.

Vermaak het gesê drie mense, insluitend die sesjarige meisie, is ernstig beseer in die ongeluk. ʼn Man en vrou, vermoedelik die dogtertjie se ouers, het ernstige beserings opgedoen. Die meisie se been is tydens die ongeluk geamputeer.

Volgens Vermaak is die meisie per helikopter na die Mediclinic Bloemfontein geneem vir dringende behandeling. Die man en vrou is op die toneel behandel voor hulle na dieselfde hospitaal geneem is vir verdere behandeling.

Vermaak het gesê die bestuurder van die motor het glo uitgeswaai vir ʼn aankomende vragmotor waarna hy beheer verloor het oor die motor. Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Foto: ER24

Foto: ER24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.