Meisie wat weerligstraal oorleef ‘makeer niks’

Tessa Erasmus (Foto: Verskaf)

“Sy wil net hardloop en kind wees. Sy lyk gesond. En sy het net nou die dag by die dood omgedraai.”

Norman Erasmus is oorstelp van dankbaarheid oor die volkome herstel van sy 12-jarige dogter, Tessa Erasmus. Sy is presies drie weke gelede deur weerlig op ’n kleinhoewe by Boschkop buite Pretoria getref en het wonderbaarlik oorleef.

Sy is reeds ’n week na dié fratsongeluk uit die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg ontslaan en is al twee weke lank by die huis.

Volgens Erasmus gaan dit baie goed met haar gemoed en gesondheid. Sy gaan na afloop van die algehele afsondering kan teruggaan skool toe.

Maroela Media het vroeër berig Tessa het vroeg die oggend buitentoe gegaan om haar marmotte te voer op die kleinhoewe waar die Erasmus-gesin woon toe die weerligstraal haar getref het. Haar ouers wat die skielike slag gehoor het, het uitgehardloop en haar voor die hok op die grond aangetref.

Tessa het op daardie stadium geen polsslag getoon of asem gehaal nie. “Sy was eintlik dood,” het Erasmus vroeër gesê.

“Al die dokters beskryf haar as ’n lewende wonderwerk,” sê Erasmus.

Erasmus vertel die neuroloog het Maandag toetse gedoen en bevestig dat sy geen breinskade opgedoen het nie. Sy toon ook geen inwendige skade nie.

Die brandwonde aan die linkerkant van haar lyf het ook al goed herstel en Erasmus is positief dat daar geen blywende letsels gaan oorbly nie.

“Aan haar linkersy, net onder die maag, is drie gaatjies waar die weerligstraal glo uitgekom het. Die rubberstewels wat sy aangehad het, het gekeer dat die weerlig by haar voete uitkom, wat volgens dokters meer inwendige skade sou veroorsaak het,” sê Erasmus.

Erasmus vertel sy kry tans fisioterapie omdat sy nog gereeld pyn in haar skouer en linkerarm ervaar.

Erasmus het haar vroeër beskryf as ’n “klein vegtertjie” wat deurgedruk het en nie moed opgegee het nie.

Tessa kan egter steeds nie die voorval onthou nie.

Volgens die National Lightning Safety Institute (NLSI) in die VSA is Suid-Afrika een van die drie lande ter wêreld met die meeste gevalle van mense wat deur weerlig getref word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leonard ·

Tessa, jy is ook bevoorreg om ‘n tweede kans te kry Deur GOD se Genade & Liefde. Amen

Leonard ·

Tessa, God kom Sy Beloftes na.
GOD SE Tyd is nie ons tyd.

SomeOne ·

God se teenwoordigheid is hier, daar, en oral, ek bid tot die Vader met die genesing

Kokkie ·

Ek juig saam met julle. God is Almagtig en genadig. Loof en prys en dank Hom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.