‘Meisiekind’ op pad oorsee ná tragiese dubbelmoord

Jessica. Foto: Verskaf.

Jessica. Foto: Verskaf.

ʼn Spesiale ‘familielid’ is op pad Costa Rica toe, na die dogter van die egpaar van Grootbrakrivier wat in Junie in hul huis vermoor is.

Maroela Media het vroeër berig die Human-egpaar se liggame is op 15 Junie in hul huis gevind. Tewie was in sy vroeë 70’s en Eurika in haar laat 60’s. Hulle sou die Sondag nadat hul liggame ontdek is, hul huweliksherdenking gevier het en dit was ook Eurika se verjaardag.

Carlo Vos, die egpaar se skoonseun, het aan Maroela Media vertel sy ma, Elbie Vos, het Jessica, ʼn Staffordshireterriër-teef wat drie jaar oud is, vandag op die OR Tambo-lughawe op ʼn vliegtuig gelaai. Jessica was een van die Human-egpaar se twee honde.

“My ouers se huis is net ʼn paar huise van my skoonouers s’n. Jessica het hulle redelik goed geken. Ek is eintlik bly ek was nie vanoggend op die lughawe nie, want my ma het baie lief geword vir Jessica en ek dink dit was nogal ʼn storie,” het Vos gesê.

Jessica sal na verwagting Donderdag by Carlo en Tineka, die egpaar se dogter, in San Jose, waar hulle woon, aankom. “Sy vlieg nou van Johannesburg af Londen toe, daarna na Madrid en dan direk na ons toe. Daar is veeartse op die lughawe, asook spesiale lokale waar die diere gevoer word en ondersoek word om seker te maak alles is oukei voordat hulle verder vlieg”.

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Sy vlieg met British Airways. “Sy kon nie direk vlieg nie, omdat alle lugrederye nie diere van enige land af laat vlieg en aanvaar nie. Ons het ʼn agent gekry om die hele proses vir ons te reël,” het Vos gesê.

Wanneer Jessica Donderdagaand daar aankom, moet sy eers drie ure op die lughawe bly waar ʼn veearts haar weer gaan ondersoek en al die nodige papierwerk finaliseer. “Hierdie hele storie het dieselfde, indien nie bietjie meer nie, gekos as wat dit vir ʼn enkelpersoon sou kos om dieselfde reis te onderneem,” het Vos gesê.

“Ons is baie opgewonde om haar hier te hê, sy is deel van die familie. My skoonma het haar altyd haar ‘meisiekind’ genoem en sy is eintlik soos my vrou se sussie”.

Een van die speurders in die moordsaak het Tewie en Eurika se ander hondjie, ʼn Yorkshire terriër, Tiekie, intussen aangeneem. Vos het gesê hy het ʼn sewejarige dogtertjie wat glo baie lief is vir Tiekie en hom baie bederf. “Ons het mooi gedink oor of ons nie maar vir Tiekie ook moet laat kom nie, maar om ʼn hondjie van ʼn klein kind af weg te vat, is ook nie reg nie. Die plaasomgewing waar ons hier bly, sal ook nie geskik wees vir so ʼn hondjie nie” het Vos gesê.

Maroela Media het vroeër berig die man (26), wat teregstaan vir die moord op Tewie en Eurika, het in Oktober in die streekhof verskyn. Vos het gesê die verdagte sal weer op 13 Desember in die hof verskyn. Volgens Vos is die hoofverdagte in die saak nog op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ano ·

Dit is FANTASTIES!!! Hoop sy gaan nog jare saam met julle kan bly en gelukkig wees.

wes kaap ·

Ek hoop sy kom veilig daar aan, by haar “Sussie” en dat hulle haar baie liefde sal gee!!!

M'Lady ·

Wonderlik. Jessica mag jy n fantastiese hondelewe he. Dankie ook aan Jessica se mense wat al hierdie moeite doen.

ada ·

Ai moeder dit gaan vir almal baie beteken na die groot verlies.

Leonie ·

Ag dis wonderlik. Dan is sy weer tussen haar eie mense. Sterkte vir die vlieg Jessica :)

erica roos ·

Ai julle ek huil sommer nou so bly die diertjie het nog n kans by familie, lekker bly daar in die verre land

Petru Pietersen ·

Ai julle, my hart is terselfdertyd hartseer en bly. Dankie aan die speurder wat mooi na tannie Eurika en oom Tiewe se Yorkshire gaan kyk. Ek weet hulle kyk nou van bo af en is baie bly dat hulle geliefkoosde yorkie ‘n nuwe tuiste gekry het. Aan Carlo en Tineka, ek weet jou ouers is baie bly dat julle na hulle ander geliefkoosde kind gaan omsien. Al die dinge wat ek van hulle gehoor het, was net goeie en wonderlike dinge. Ek dink nog elke dag aan julle en aan Amor en Gerhard en al die kleinkinders vanaf die aaklikge gebeurtenis.

Johanna ·

n mooi verhaal. Lekker bly in jou nuwe land by jou mense Jessica.

Helene ·

‘n Mooi einde vir Jessica en Tiekie. Dankie aan almal betrokke!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.