Meisieskole kraai koning in akademie

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) in Pretoria (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout / Maroela Media)

Meisieskole landwyd het stof in die oë van hul teenstanders geskop tydens verlede jaar se matriekeindeksamen en die meerderheid van die toptien akademiese skole is enkelgeslag meisieskole. Kenners meen dit is ʼn tendens wat wêreldwyd voorkom en dat meisies op dié ouderdom eenvoudig oor meer dissipline, fokus en toekomsvisie as hul manlike eweknieë beskik.

Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Vrydag weer die top- Afrikaanse skole in die land tydens ʼn prysuitdelingsgeleentheid vereer. Volgens dié organisasie se berekeninge is ses van die tien Afrikaanse skole wat die meeste onderskeidings per leerder tydens die matriekeksamen ingeoes het enkelgeslagmeisieskole.

Die beste Afrikaanse skool in die land, met 4,09 onderskeidings per leerder en 577 onderskeidings in totaal is Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch. Dan volg Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria met 3,41 onderskeidings per leerder en 850 onderskeidings in totaal. In die derde en vierde plek is Hoër Meisieskool La Rochelle met 3,25 onderskeidings per leerder en Hoër Meisieskool Paarl met 2,89 onderskeidings per leerder. Hoër Meisieskool Oranje is sesde landwyd en die beste in die provinsie met 2,83 onderskeidings per leerder. Paul Roos Gimnasium, ʼn seunskool, is tiende en die enigste seunskool in die toptien. Die res is gemengde skole.

“Hierdie verskynsel is nie eie aan Suid-Afrika nie,” sê Wilna van Heerden, skoolhoof van Hoër Meisieskool Bloemhof. Sy sê dit kan grootliks toegeskryf word daaraan dat meisies en seuns verskillende ontwikkelingsfases op verskillende ouderdomme bereik. “Meisies begin reeds in gr. 9 ernstig te fokus op die toekoms terwyl seuns tot in matriek nog baie spelerig is.”

Anne-Marie Klink, skoolhoof van Hoër Meisieskool Oranje, sê hoërskoolmeisies het beslis meer selfdissipline as seuns en dat hul toekoms vir meisies besonders belangrik is. Isabel Troskie, adjunkhoof van Afrikaans Hoër Meisies in Pretoria stem saam, en sê meisies én seuns presteer beter wanneer hulle van mekaar geskei word. “Dan is hulle nie selfbewus nie en trek hulle nie mekaar se aandag af nie.”

Van Heerden is ook ʼn groot voorstander dat meisies en seuns tydens klastyd van mekaar geskei word. “Gemengde skole sal nooit by enkelgeslagskole kan kers vashou nie. Wanneer meisies en seuns apart skoolgaan hoef hulle nie met die uiterlike te beïndruk nie. Al waarmee hulle kan beïndruk, is met hul waardes en werketiek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Ek was self in so ‘n skool. Akademie is nie alles nie… En deedae help dit nie eens om toegang te verkry tot voorkeur-studiekeuses nie. Dit is abnormaal om geslagte te skei en so normale geslagskommunikasie te verhoed… byna soos in erge konsewatiewe Moslemlande. Weird!

Treurwilger ·

Annie, ek wens die vyf jaar in die koshuis(!) van “die beste Afrikaanse skool in die land” nie my grootste vyand toe nie.
Dalk het tye sedertdien verander, soos onderskeidings wat heelwat makliker bereikbaar geraak of kinders slimmer geword het?

Frank ·

Dit is nie “vir enkelgeslagskole kan kers vashou nie” nie maar BY ipv VIR kers vashou nie of hoe?

André ·

Indien SOS onderwys in Suid-Afrika wil verbeter, misluk hy. Indien hy Afrikaansmediumskole wil dien en hul meerderwaardigheid wil beklemtoon, doen hy dit seker goed. Om die gemiddelde aantal onderskeidings per leerling as maatstaf vir “beste” skole te gebruik is om die minste te sê ‘n verskraling van werklikhede. Ek dink ons moet herbesin en ophou om ‘n soort van eksklusiwiteit te probeer bevorder.

Robert Sydney ·

In std 9 en 10 was my prioriteite in volgorde: 1. Rugby
2. My meisie 3. Skoolwerk. Ek sou sê dis omtrent normaal vir ‘n 17 jarige seun en ek sou dit nie andersom wou gehad het nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.