Meisieskole skop stof in ander se oë

Bloemhof op Stellenbosch, die oudste Afrikaanse meisieskool in die land, het die beste van alle staatskole gevaar en beklee die derde plek op die lys. Foto: Facebook

Meisieskole beklee al vyf top-posisies op ʼn lys van Suid-Afrika se beste akademiese skole, maar net twee van die top-presteerders is Afrikaansmediumskole.

Dit is van die bevindings deur die webwerf Business Insider nadat hy die uitslae van verlede jaar se nasionale seniorsertifikaat‑eksamen ontleed het.

Die enigste twee Afrikaanse skole wat die top‑tien gehaal het, is die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch in die derde plek en die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria in die vyfde plek.

Business Insider sê in die ontleding is net skole met minstens 20 matrikulante in aanmerking geneem en is die Onafhanklike Eksamenraad se eindeksamen buite rekening gelaat.

Die lys is saamgestel deur te kyk na die gemiddelde getal onderskeidings per leerder. Die 107 matrikulante van die top-skool, Herschel Girls’ High in Claremont, Kaapstad, het ʼn verstommende gemiddeld van 5,31 onderskeidings elk behaal.

In die tweede plek is die nabygeleë Springfield Convent Senior School met 4,14 onderskeidings per leerder. Dié twee skole is ook die duurste van die top-tien. Jaarlikse skoolgeld aan Herschel beloop R109 000 en aan Springfield R68 012,40.

Bloemhof, wat die derde plek beklee, is met jaarlikse skoolgeld van R30 560 die goedkoopste van die tien top-skole. Dié skool se leerders het gemiddeld 3,59 onderskeidings gekry.

Van die tien skole op die lys is ses in die Wes-Kaap, een in Pretoria en drie in KwaZulu-Natal. Met 220 matrieks is Affies verreweg die grootste van die top-skole. Die enigste groot gemengde skool (vir seuns en meisies) is Westerford High School in Kaapstad se suidelike voorstede, waar die helfte van die skole op die lys geleë is.

In ʼn afsonderlike ondersoek deur Business Insider na skole wat die Onafhanklike Eksamenraad se eksamen afgelê het, is bevind Helpmekaar-kollege in Johannesburg se matrikulante het die tweede beste gevaar.

Dagskoliere aan dié private skool betaal R74 800 skoolgeld per jaar, vergeleke met Kingsmead College se R139 370 en Roedean School se R152 982, wat volgens die webwerf se lys bewys die duurste skole lewer nie noodwendig die beste resultate nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Michael Bouwer ·

As n’ mens nou rerig wil weet hoe goed n’ skool presteer kyk na hulle graad 11 punte.

Wessel ·

In die derde laaste paragraaf moet dit lees “koedskool Westerd High”?

IK ·

Wessel, dit los iets vir my verbeelding om die korrekte te bepaal. So ook vierde par. se ‘ontdeling’ en par. 3 se ‘ . . . . top-tien gehaal is . . . ‘ Jare der jare gelede met die desimale oorskakeling het ons geleer dat die metriekestelsel te doene het met tiene. Hierdie berekeninge van byv. 5,31 onderskeidings is dus uit ‘n moontlike tien en dus nie so wat waffers nie. In krieket is daar as voorbeeld 6.3 boulbuurte oor en nie 6,3 omdat daar nie tien balle per boulbuurt is. Ek stuur dus af op die ‘komma’ of die ‘punt’ . . .

dejager ·

Daardie ‘top’ skole het na my mening nie hul sosiale en maatskaplike rol in die samelewing uitgevoer nie.My ondervinding is dat sogenaamde top skole begin met ń seleksieproses wat kinders met laer potensiaal uitsif.ń Kind met leerprobleme word nie toegelaat nie en as hy reeds toegelaat is dan het hulle elf jaar
tyd om hom uit te werk.
Dit is hartseer dat die skool se naam ten alle koste opgehemel moet word.Dit is bloot abnormaal dat ál die kinders A simbole kry.Dit is net so ń duidelike teken van ń disfunksionele onderwyssisterm as die skool waar almal druip.

A student ·

Ja wat SIF die onderpresteerders uit en gee vir hulle ‘n SPESIALE skool waar hulle behoeftes aangespreek kan word sodat die SLIMMES vooruit kan gaan en nie teruggehou moet word deur die onderpresteerders nie … Dit is die beleid wat EK ondersteun … die wereld staan NIE stil nie .. daar is NIKS disfunksioneel aan die skole of ‘n kind wat 8 onderskeidings kry nie … NIKS . NEE dit is nie abnormaal dat kinders so baie onderskeidings kry nie hulle MOET HARD WERK om in SA erens te kom . of hier uit te kom ..

Koos ·

Niks fout om van die laer potensiaal kinders ontslae te raak nie, hulle kan in ander staat skole gaan sit waar die slaag syfer 30% is.

B ·

So die feit dat hulle die sosiale en maatskaplike welsyn (en verantwoordelikheid) van die leerders wat wel in so omgewing kan floreer akkomodeer en uitbou is verkeerd???

(Ek was in ‘n plein gewone skool, maar kan erkenning gee aan skole en leerkragte wat 10x die ekstra myl loop om uitnemendheid te behaal, veral in vandag se dae.)

Cobus ·

Met so min afrikaanse skole wat oorgebly het en so baie private skole is dit n wonderlike prestasie. Baie geluk !!

Kosie ·

Presies! Net 13% van mense in SA praat Afrikaans, en vermoedelik is die persentasie Afrikaans medium skole nog laer. Die feit dat 20% van die skole in die top 10 dus Afrikaans medium is is ‘n wonderlike prestasie. Dis jammer dat die woord “maar” in die eerste paragraaf gebruik is.

Wenner ·

Dit is hoekom Lesufi al die Afrikaanse skole takel, dit moet nou ENGELS gemaak word sodat (soos hy dink) die prestasie van die blankes kan daal en die prestasie van die “Engelssprekendes” kan styg. Dit alhoewel hulle die slaagsyfer na 30% toe verminder het. GELUKKIG Skop hierdie meisiekinders nog STOF in die oe van ALMAL, en veral AFRIKAANSE skole .. gaan vir dit .. moenie dat Lesufi of Lepoefie julle terughou nie, ons bly WENNERS~!~!~

Jacoba ·

Hoe duurder die skool, hoe meer prestasie. Dit is sommer belaglik. Leerders word beslis gesif. A kandidate is puik ja, maar dis nie noodwendig die begin en einde nie. Die lewe gaan oor meer as dit.

B ·

(X-model C) skole is meestal duurder agv die aantal beheerliggamposte, om kleiner klasse te realiseer, asook beter hulpmiddels.
Jy is reg Jacoba die lewe gaan om meer as dit, maar daar is iets soos TPT punte, en veral as jy wit is moet jy beter doen as andere om toelating vir bv medies te kry. Die inligting is vrylik beskikbaar.

E.K. die eerste ·

Dis eintlik al lankal deur navorsing bewys dat meisies (vera)l beter akademies vaar in meisieskole. Nietemin, geluk aan elke liewe matrikulant wat geslaag het en baie geluk aan elkeen wat ‘n onderskeiding behaal het. Wees trots daarop en sterkte vir almal se toekoms. Harde werk sal altyd beloon word.

Pottie ·

Onderwyser- Hierdie punte en slaagsyfers word deesdae al so gemanipuleer. Leerder wat nie goed genoeg preseer in n vak nie word gou geskuif na n ander vak toe om die skool se slaagsyfer te beskerm. In baie gevalle volg die leerder die raad blindelings en einding dan op met n rapport vol vakke wat nie universitets verystellings vakke is nie. Hierdie alles net om die beeld van die skool te beskerm. 100% slaagsyfer is mos goed vir bemarking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.