Mej. Doof SA vol vertroue voor glansaand

Mej. Doof SA, Chantelle Pretorius, is in Praag waar sy haar land vanaand in die wêreldkompetisie verteenwoordig. Foto: Facebook

ʼn Onderwyseres van Barkly-Oos in die Noordoos-Kaap sal vanaand Suid-Afrika se vlag met trots omhoog hou wanneer sy in Praag teen meer as 40 ander skoonhede meeding om die titel Mej. Doof Wêreld 2018.

Pretorius (25) het Saterdagoggend uit die Tsjeggiese hoofstad aan Maroela Media gesê sy is opgewonde oor die groot geleentheid en voel geseënd dat sy daaraan kan deelneem, maar gee al die eer aan die Here wat haar tot dusver gedra het.

“Ek gryp elke oomblik aan,” het sy gesê. “Ek is kalm en weet God is met my oral waar ek gaan. My lewe word geskryf uit sy groot hand.”

Chantelle, ʼn oudleerder van die Hoërskool Hangklip op Queenstown, is in September verlede jaar tydens ʼn glansryke geleentheid in die Victory Life Christian Church in Pretoria as Mej. Doof Suid-Afrika gekroon.

Pretorius, wat skoolhou vir gr. 3’s aan die Laerskool Barkly-Oos met amper uitsluitlik minderbevoorregte leerders, het haar mededeelnemers, ook die mans aan die Mnr. Doof Wêreld-kompetisie wat gelyklopend aangebied word, sterkte toegewens. “Mag ons almal gelei word om vandag ons heel beste te doen. Ons is almal wenners!” het sy op Facebook geskryf.

In ʼn afsonderlike Facebook-inskrywing het sy “my geliefde Suid-Afrika” vir volgehoue ondersteuning op pad na Mej. Doof Suid-Afrika bedank. “Ek sal my bes doen om julle trots te maak.”

“Chantelle is ʼn pragtige mens wie se hart en hande oop is vir almal met wie haar pad kruis,” het Petronel Cronje, predikantsvrou van die Gereformeerde Kerk Aliwal-Noord, Saterdagoggend by navraag aan Maroela Media gesê. Chantelle is lidmaat van GK Barkly-Oos, wat deur ds. Jaco Cronje as konsulent bedien word.

Cronje beskryf die blondekop as “ʼn skooljuffrou wat lief is vir haar kinders en lief is vir haar gemeenskap. Sy staan altyd reg om uit te help. Sy is ʼn plat op die aarde, gegronde mens vir wie haar geloof deel van haar is en nie net ʼn baadjie wat aangetrek word nie.”

Die kroningsgeleentheid begin Saterdagaand om 19:30 in die Majakov-saal in Praag se Vinohrady-distrik. Enoch Bailey sal Suid-Afrika in die mansafdeling verteenwoordig. Lesers kan dit regstreeks volg by hierdie skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anton ·

Wat n pragtige jong dame. Mooilik om te glo maar nog mooier van binne! Chantelle pragtige kind van die Here jy is sterkte toegewens en in ons gebede.
Geniet die geleentheid en weet dat jy al klaar al ons harte gewen het!

Gesiggie ·

Ek hou vir jou baie stuif duim vas,,, jy is pragtig, en kan net sien jou n sprankel van n mens jy is… Baie sterkte… jy verdien daai kroon.

Von ·

“Produk” van die Ooskaap ons is met reg trots op jou… Corrie & Peter baie geluk met julle pragtige kleindogter voorwaar geseend

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.