Mej. Heelal 2018 is…

Catriona Gray word deur Demi-Leigh Nel-Peters as Mej. Heelal 2018 gekroon.
Photo/Gemunu Amarasinghe)

Catriona Gray van die Filippyne is vroeg Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) as die nuwe Mej. Heelal aangekondig.

Suid-Afrika se Tamaryn Green (24) is as naaswenner aangekondig terwyl Sthefany Gutiérrez, Mej. Venezuela, as die tweede prinses gekroon is.

Die 24-jarige Gray is tydens ʼn glansryke geleentheid in Bangkok, Thailand, gekroon. Gray, wat in Australië gebore is, is in 2016 as Mej. Wêreld Filippyne gekroon en het in dieselfde jaar in die top-vyf van die Mej. Wêreld-kompetisie geëindig. Gray is die vierde Filippyn om die Mej. Heelal-kompetisie te wen.

Catriona Gray en Tamaryn Green wag vir die wenner om aangekondig te word. Foto: Twitter

Green was een van die gunstelinge om Demi-Leigh Nel-Peters, Suid-Afrika se Mej. Heelal 2017, op te volg. Slegs Venezuela kon dit nog ooit regkry om twee agtereenvolgende jare dié kompetisie te wen, toe die land in 2008 én 2009 gewen het. Margaret Gardiner het 40 jaar gelede die eerste Suid-Afrikaner geword om die Mej. Heelal-titel te wen.

Green het stof in die oë van deelnemers van 93 ander lande geskop om as eerste prinses van vanjaar se kompetisie gekroon te word. Dié kompetisie is hierdie jaar deur die komediant Steve Harvey en model Ashley Graham aangebied.

“Die Mej. Heelal-ervaring het my wildste drome oortref en ek is verheug dat ek so goed gedoen het. Baie geluk aan Catriona. Ons het baie hard gewerk en wat ons in ruil daarvoor ontvang het, kan nie met geld gekoop word nie. Die ondersteuning wat ek ontvang het, het my aangespoor. Dankie aan almal by die huis,” het Green na afloop van die kompetisie gesê.

Catriona Gray (links) antwoord ‘n vraag terwyl Sthefany Gutiérrez en Tamaryn Green op hul beurte wag. (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

Claudi Henkel, woordvoerder van Sun International, het gesê Suid-Afrika is ongelooflik trots op Green. “Sy het regtig hard gewerk en ons sien uit daarna om haar terug in die land te verwelkom waar haar Mej. Suid-Afrika-reis sal voortgaan.”

Green was vroeër vanjaar toe sy as Mej. Suid-Afrika gekroon is ʼn sesde- en finale jaar mediese student aan die Universiteit van Kaapstad en wil in pediatrie spesialiseer.

Catriona Gray waai vir die gehoor nadat sy as Mej. Heelal 2018 aangewys is. (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

Thulisa Keyi, wat vanjaar as Mej. Wêreld Suid-Afrika gekroon is, het Suid-Afrika vroeër die maand by die Mej. Wêreld-kompetisie verteenwoordig. Vanessa de Leon van Mexiko het tydens die 68ste Mej. Wêreld-kompetisie met die kroon weggestap. Nicolene Pichapa Limsnukan van Thailand is aangewys as eerste prinses en Quiin Abenakyo van Uganda as tweede prinses.

Keyi (26) het deurgedring na die top-30. Suid-Afrika het al drie keer in die verlede met die Mej. Wêreld-kroon gespog (Rolene Strauss in 2014, Anneline Kriel in 1974 en Penelope Anne Coelen in 1958).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Essa ·

Baie geluk Tamaryn. Pragtige prestasie – die kroon kon net so wel joune wees. Geniet die res van jou mej. Suid-Afrika ervaring. Jy is ‘n ster. ⭐️

Gemaskerde Sopbeen ·

As hierdie ‘n Mej Heelal kompetisie is is dit baie onregverdig. Ek sien net die planeet aarde verteenwoordig….Waar is al die ander deelnemers?

Elvira ·

Dit is nou pragtig. So lekker gewees om so ieta mooi op die kommentaar afdeling te kyk.

Basjan ·

Mej Heelal.
Ek wonder nou net, hoeveel deelnemers van die ander planete en sterrestelsels het ook aan die kompetisie deelgeneem?

jaco ·

is daar nie genoeg 100% ethnic Philipinos wat kan deelneem en wen nie? Dit het tog immers al voorheen gebeur. waarom dan die kroon gee aan iemand wat nie regtig Philipino is nie?
dis net soos om die Duitse kanselierspos vir ‘n Oostenryker te gee. of die SA eerste ministerspos vir ‘n Hollander…

Wonder maar net ·

Baie geluk Tamaryn. Ek het regtig gedink die kroon kom jou toe. Ek het net baie vrae. Hoekom daai ongemaklike rok. Sy kon skaars loop en het haar aandag heeltemal afgetrek. In die vervolg hoop ek die organiseerders van SA maak seker die meisie is gemaklik. Laaste wil ek weet hoe kry Philippines dit reg om haar in 2016 die nationale titel te gee, dan Miss World toe te stuur wat sy nie wen nie, en weer 2 jaar later die titel te gee en Miss Universe toe stuur. Jy kan mos net een keer in jou land die kroon dra.

Anonnie ·

In die 5e paragraaf word daar na Mej SA verwys as die 2e Prinses. As naaswenner was sy gekroon as 1e Prinses…
Maar gee nie om hoeveelste prinses sy is nie, baie trots op haar!!!

Johan ·

@Abe,jou kommentaar is altyd van “onderwerp” af en vol kritiek.As jy uitgewys word is jy vol verskonings.Dink jy @Gemaskerde soobeen is ernstig.Jammer jyt nie n sin vir humor nie,word Groot!@Gemaskerde soobeen???!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.