Mej. Heelal Suid-Afrika se nasionale tabberd onthul

Natasha Joubert het haar nasionale tabbert vir die Mej. Heelal-kompetisie onthul. (Foto: Verskaf)

Natasha Joubert, Suid-Afrika se kandidaat in vanjaar se Mej. Heelal-kompetisie, het Saterdag met haar nasionale uitrusting vir dié gesogte skoonheidskompetisie gespog – en sy dra heelwat van Suid-Afrika en veral sy kinders met haar saam.

Die 69ste Mej. Heelal-kompetisie vind aanstaande maand in Florida in die VSA plaas met Suid-Afrika se eie Zozibini Tunzi wat die blink kroon op haar opvolger se kop sal plaas.

Die 23-jarige Joubert is as tweede prinses in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gekroon en die jong skoonheid gaan hopelik in Tunzi se voetspore volg.

Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika 2018, was die vorige jaar die naaswenner in die Mej. Heelal-kompetisie. Demi-Leigh Nel-Peters het ook in 2017 met die Mej. Suid-Afrika- en daarna die Mej. Heelal-titel gespog.

Joubert se uitrusting is ontwerp deur Gert-Johan Coetzee, een van Suid-Afrika se voorste ontwerpers, terwyl Jolandie Fouche van Jolache Couture verantwoordelik is vir verskeie van Joubert se formele uitrustings vir die kompetisie.

Natasha Joubert met die unieke skepping. (Foto: Verskaf)

Die kinders van Suid-Afrika sal saam met Joubert op die internasionale verhoog wees: Die materiaal van die vlerke van haar besonderse uitrusting bevat drukwerk van tekeninge deur kinders uit Diepsloot en Randburg. Die kunswerke vertel die verhaal van kleuters se baie persoonlike ondervinding van die afsonderingstyd en die manier waarop die Covid-19-pandemie hul jong lewens ontwrig het.

“Ons wou iets spesiaals en trots Suid-Afrikaans skep. Ons het nie net ʼn gewaad geskep om ons vaardighede ten toon te stel of vir die dramatiese uitwerking daarvan nie; dit moes ook iets werklik betekenisvol wees en ʼn saak na aan Natasha se hart wees,” sê Coetzee.

(Foto: Verskaf)

“Dit is hoekom ons besluit het om tekeninge van plaaslike kinders te gebruik wat uitbeeld hoe hulle tans – in hul eie woorde – die wêreld sien. Ons het hulle oorspronklike sketse geneem, dit gedigitaliseer en op ʼn wit, vloeiende materiaal gedruk om ʼn engelagtige silhoeët vir Natasha te skep as simbool oor hoe lyding deur leiding oorkom word.”

Coetzee het ook Demi-Leigh se finale uitrusting ontwerp toe sy die Mej. Heelal-kroon in 2018 aan haar opvolger oorhandig het.

Joubert is mal oor die eindresultaat. “Die kinders was fantasies en het prentjies geteken wat die inperkingsregulasies weerspieël. Sommige was snaaks, ander aangrypend en betekenisvol.

“ʼn Klomp kinders het die gewone prentjie van die gesin geteken, maar die ma, pa, broers en susters is ver van mekaar geteken om sosiale afstand aan te dui,” sê Joubert wat diep geraak was deur die tekeninge.

Vir Fouche is dit die eerste keer dat sy aanddrag vir ʼn internasionale skoonheidskompetisie ontwerp. “Ontwerpe vir ʼn skoonheidskompetisie verskil heelwat van ander ontwerpe. Die mededinging is geweldig straf. Jy moet verseker jou rok maak ʼn blywende indruk op die beoordelaars vir al die regte redes, terwyl dit terselfdertyd die deelnemer se skoonheid en persoonlikheid komplementeer en beklemtoon.

“Die rokke is iets heeltemal anders. Ons het gekonsentreer op struktuur, kleurskakering en volwasse elegansie. Ek dink Suid-Afrikaners gaan mal wees oor wat hulle sien en Natasha, met haar uitsonderlike skoonheid, gaan kop en skouers in die besonderse rokke uitstaan,” sê Fouche.

Die Mej. Heelal-kompetisie vind op 16 Mei plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Dog die uitrusting moet die vrou se kans om te wen verbeter…..dalk verstaan ek verkeerd.

Elsabe

O jinne, dis mooi. Ek hou duimvas vir jou.

Anel

O, Griet. Wat ‘n lelike bedryf! Materiaal is iets anders, maar die vet weet. Gelukkig hoef niemand anders dit te dra nie! Wat’ n spektakel. Beeld regtig niks van ons uit nie.

Porseleintjie

Gelukkig verskil smaak.

Cornel

‘x……nee……ek verstaan ook verkeerd…smaak verskil….